- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
'n Leser vra oor Bloedrivier; kenner antwoord
deur Nuuskierig oor Bloedrivier, Waverley
2013-01-02 10:20
Die herdenking van die Slag van Bloedrivier is nou verby.
Daar is egter iets wat direk op die geveg betrekking het waarvan ek nog nooit iets gehoor of gelees het nie. Die Zoeloes is ’n gevoelige menseverlies toegedien. Honderde of dalk meer is doodgemaak. Toe die slag verby is, het die Zoeloes op die vlug geslaan. Daardeur, neem ek aan, het hulle nie aandag aan gevalle makkers kon gee nie.
Soos ek dit het, het van die Voortrekkers die vlugtendes agternagesit. Maar wat het geword van die lyke van al die Zoeloes wat in daardie geveg gesneuwel het? Die Zoeloes het, sover ek weet, nooit teruggekom na Bloedrivier nie. Het die Voortrekkers hul Christelike plig gedoen en almal begrawe?
Ons kenner antwoord
Ons beste wetenskaplike werk oor die Slag van Bloedrivier is prof. B.J. Liebenberg se Andries Pretorius in Natal (Academica, Pretoria, 1977).
Toe die agtervolgers terug was in die laer, het Andries Pretorius die manne byeengeroep om God te dank vir die oorwinning.
Daarna het hy ’n kommando uitgestuur om die vlugtende Zoeloes verder te agtervolg.
Die Zoeloes het dus nie tyd gehad om hul dooies te begrawe nie. Die oggend ná die slag het Pretorius die lyke om die laer laat tel. Minstens 3 000 Zoeloes het gesneuwel.
Die snelbewegende strafekspedisie het ongetwyfeld geen grawe op hul waens gehad nie. Die Voortrekkers het die lyke van die Zoeloes eenkant gesleep.
Tyd en sinnigheid om 3 000 vyandelike nie-Christene sonder grawe te begrawe was daar eenvoudig nie.
Toe Pretorius se Beeskommando op 29 Januarie 1840 by die slagveld verbytrek, het die verbleikte beendere van die Zoeloes nog in die lang gras gelê.
Mens moet versigtig wees om vroeg 21ste-eeuse etiese en rasse-norme op vroeg 19de-eeuse situasies toe te pas.
* Fransjohan Pretorius, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria