- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Voetnota oor Asterix-vertaling
deur Jan Badenhorst, Colesberg
2012-12-30 09:32
Ek stem glad nie saam met sommige van die name in die nuwe Asterix-vertaling nie (Weekliks, 16 Desember).
Wat van Blafblafix of selfs Brakfix vir Idéfix, Obelix se Woef-Woefix? Want Witblix sê tog nix.
Liederlix klink so liederlik. Waarom dan nie eerder Musiklix of self Misliknix vir daardie besnorde Galliese Steve Hofmeyr nie?
Wat van Brouselmix vir die grysbaard-druïde? Geen Galliese kryger wat sy gevleuelde helm werd is, selfs daardie hardegat klein Asterix, sal tog ’n Romein kan blixim sonder ’n sluk uit Kasterolix se pot nie.
Dan weet ek ook nie wat Sonya van Schalkwyk-Barrois gaan maak as sy eendag vir Petisuix (Astérix en Helvetie) in Afrikaans moet vertaal nie, en wat van Pépé se pa, Soupaloignon y Crouton in Astérix en Hispanie?
Ek wil ook nie sy wees as sy vir Octarinestabelatchtchik die Korsikaanse gyselaar (Astérix en Corse) aan die Van der Merwes moet voorstel nie.
Eerder sy as ek!