- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Brief uit Ingeland
deur Koos Wyevoete
2011-05-11 13:38
Hallo almal by die huis. Hoe gaan dit nog daar?
Jong, ek sit nou hier in Ingeland met 'n moerse babbelas, maar ek voel ek wat Koos Wyevoete is, moet julle darem net vertel hoe lekker dit was om by die troue te wees. As Suid-Afrika se self-aangestelde Minister van Kultuur en Ontspanning was ek heel ingenome toe Elton John my nooi om reg langs hom te sit. Ek weet nie eintlik wat alles gesê is tydens die seremonie nie want ek en Elton het een strook deur krieket gepraat. Hy't my laat weet dat hy nogal van kleins af goed is met alle sports waar jy 'n stok en 'n bal gebruik. Trouens, hy't my laat weet dat hy al baie meer balle getref het as Greame Smith, so ek dink hy ken nogal sy storie.
'n Mens voel natuurlik sleg om nie na alles te geluister het wat die dominee gesê het nie, maar ek kan darem vir julle sê dat almal baie mooi aangetrek het. Die tannie voor my het 'n hoed gehad wat van 'n mandjie vol vars vrugte gemaak is. Ek het seker gemaak om vir Elton daarop te wys dat die appels nog daai stickers op het wat sê dit kom van Grabouw se wêreld. Dit het hom baie beïndruk. Hy sê toe vir my dat hy beslis 'n draai in Grabouw sal kom maak. Sy presiese woorde was: “I love all fruits!”
Nou ja, na die tyd trek ek toe vinnig my jeans en my Springbok-jersey aan en vra toe sommer vir Elton of hy my 'n lift kan gee na die onthaal toe. Ek het maar 'n pakkie wors en tjops en 'n botteltjie Olof Bergh saamgevat, want ek het nie geweet of ons gaan braai en of hulle 'n oop kroeg sou hê nie.
Ek kon egter alles maar in Elton se kar gelos het. Daar was genoeg wyn en kos om almal 'n Soweto te voer! En alles het so mooi gelyk!
My horlosie het ek aspris op Suid-Afrikaanse tyd gelos, want ek het geweet ek gaan so bietjie baie drink en vergeet as die rugby begin. Toe ek sien dis tyd, toe tik ek op my glas met my vurk en maak keel skoon. Ek kon sien dat Prins Charles my so bietjie snaaks aankyk, maar in daardie stadium het ek al 'n hele paar Skotse whiskeys agter die blad gehad en nie eintlik omgegee nie. Ek kondig toe aan dat die Cheetahs en die Brumbies binne die volgende paar minute afskop en dat ek daarop aandring dat hulle die groot skerm moet oorskakel na SuperSport.
Nou ja, ek is bly om te sê dat almal op die ou end vir die Cheetahs geskree het. Veral ou Elton het sy hande bymekaar gebring en gegil elke keer as daar geskrum word. Hy't my gevra ek moet tog asseblief by Naka hoor of hulle hom as 'n “hooker” kan gebruik. Ek het vir hom gesê ek sal uitvind, maar om eerlik te wees lyk hy vir my meer soos 'n loskop.
In elk geval, ek hoop julle mense daar by die huis het dit alles geniet op die TV. Laat weet maar vir Julius Malema dat die koninin vir my persoonlik gesê het sy dink dis 'n simpel idee om die Boere te skiet. Sy sê as dit nie vir ons was nie, sou niemand met jeans en 'n rugbytrui by die onthaal opgedaag het nie.
Vriendelike groete hier uit Ingeland.
Die uwe
Koos Wyevoete
Minister van Kultuur en Ontspanning