Estelle Bester

Rapport-gebruiker

Die val van die dice

deur Estelle Bester
2012-01-12 13:26

“Die dice het verkeerd geval”   –   Adam Small

Die mamma, Paulina Moloi, se adres was iewers in die Motloung-seksie en op pad daarheen het ek en Mamsie op dié Sheilas' Day weer die weeklikse biduur-mammas in die stofstrate sien stap. Fleurig was hulle in hul kraakskoon kerkregalia van groen kruise op geel, blou met wit kruise, rooi-en-wit, of swart en wit sonder kruise, alles volgens die eie  groep-voorskrifte. Dié bidure en societies was stemmige,  gesellige portuur-byeenkomste wat ontsnapping gebied het na noodsaaklike sosialisering, sing, bid en die Here loof. Gebede was in daai tyd sterker op die jeug gefokus, want sedert drie jaar te vore toe Soweto se 1976-jeug-onluste hierheen oorgewaai het, was tieners meer rebels en kwaaier in die fisier van die veiliheidsmagte. 

Op Donderdae was daar altyd ‘n ander kasie-energie in die lug want Germiston se inslaap-bediendes het halfdag ge-tjaila. Hulle het dan hierheen, Katlehong toe, gekom.

Die getroudes was voor die kerk-societies tuis doenig, maar die jongeres  het  opgewonde uitgehang waar die kêrels hulle kon ontmoet en hulle die Sheila-naam kon gestand doen. 

Ons het dié dag gekies om Paulina Moloi te besoek omdat die hoof-inspekteur ons meegedeel het dat sy Donderdae beslis tuis is.

Die inspektoraat  was mense in kakie-uniforms, hoofsaaklik Afrikanermans, wat moes toesien dat die bondel stadsgebiede-wette en -regulasies deur die  ‘Bantoes’ in die Germiston-gebied gevrees en gehoorsaam word.  Swart munisipale polisie, sogenaamde black jacks, was gewoonlik saam op township-klopjagte om te tolk, mense en meubels op te laai en as beslag gelê is, ‘n huis toe grendel.

Ons het dan soggens met ontsteltenis gesien hoe die  ‘oortreders’ wat in die nag aangkeer is grys van skrik, honger en dors by die kantoor sit om aanklagkantore toe geneem te word.  Oor hulle agterstallig was met huur- en dienstegelde. Of ‘onwettig’ in die gebied was, of ‘onwettiges’ gehuisves het (insluitend kuier-familie). Die sambokke wat met wye interpretasies uit wetlikhede gehaal kon word, was baie. Kon ook klandestien as sleutels vir ‘n verskeidenheid korrupsie aangewend word, wat helaas nogal by sommiges gebeur het.

Ons het in die straat geparkeer en vreemderig die paadjie aan die suidekant van die skakelhuisie opgestap. Die werfie was kaal gevee, net ‘n dapper pienk rankrosie het teen die slap heining opgekruip. Langs die huis was ‘n kraan en toilet sigbaar. Ek was baie ontsteld oor die lokasie-superintendent die watertoevoer afgesny het (wat eintlik onwettig was). Dit was sy poging om die huurder te dwing om te kom navraag doen sodat hulle kon onderhandel, maar dit het nie so gewerk nie.

Mamsie het aan die deur geklop.  ‘n Ou vroutjie het die krakerige bo-deur oopgestoot en woordeloos met glurende ogies, ingevou in ouderdomsplooie, uitgeloer. Dit het gelyk of sy die opening volstaan en die adrenalienbelaaide lyftaal was duidelik: “Gaan weg. Ek soek julle nie hier in my ruimte nie! Ek wantrou julle.”

“Dumela mme, le kae? Mamma, ke wena Paulina Moloi?” was my Sesotho-groet en navraag. Sy het steeds gegluur en ek het ons as Mamsie en Ma Bester van die administrasieraad voorgestel. En ons is maatskaplike werkers wat kom gesels en hoor wat haar probleme is. Probleme soos met geld vir rent en so.

Haar Afrikaanse reaksie was heftig: “Julle is die skelme. Ek soek julle nie hier nie. Skelme. Soos daai base. Hulle kom ôk van daai plek op Sondag. Paulina is nie dom nie, dis skelme wat op Sondag werk, nie munspaal nie. Soek nie skelme in my jaart nie. Ek betaal rent altyd by die munspaal. Gaan weg!”

Ek het nie gehou van die assosiasie met ‘daai plek’ en ‘daai base’ nie, maar hulle was nogtans ons kollegas en ons was nie nou op ‘n suiwer maatskaplike werk-missie nie.

Dit het soms gebeur dat ons gevra is om te help, veral met ouer inwoners, as die inspektoraat se dreig-modus operandi nie gewerk het nie, soos hier. “Ons kry nie die ou vrou om haar regte huur te betaal nie. Sy het al helse agterstalliges opgebou en betaal elke maand net ‘n ietsie, ver te min. Sy skel ons uit as skelms. Lyk nie lekker hier bo nie ... is ook te oud om aangekla te word. Ons het ook ‘n hart, al dink julle welsynswerkers nie so nie. Kyk wat julle kan doen, want hoe kan ons haar oplaai in die vangwa en aankla?”

Ons was dus gemotiveerd om om menslikheidsredes tot hierdie noodsituasie toe te tree. En dalk, dalk sou ons kon bepaal wat pluis is en wat nie. Wie weet, miskien kon ons tog help ...

‘n  Paaipraat het naderhand vrugte afgewerp en ons is in die huis toegelaat. Oor my Sesotho-aanslag was sy beslis: “Paulina praat Afrikaans met witmense.”

Mamsie het sy geïgnoreer asof sy nie teenwoordig is nie.

“Sit!” was haar opdrag binne en het na die vier regop stoele by die ovaal tafel beduie. Ek het gaan sit met my rug na ‘n bypassende kas waarop enkele koppies, pierings en bordjies op verweerde koerantpapier met uitgeknipte patroontjies uitgestal was. Goeie gehalte periode-porselein, maar seker met die jare uitgebreek, was my gedagtes.

Die vertrek het oral nog spore gedra van ‘n lewe wat was – ‘n tafeltjie met ‘n flenterwordende fluweel tossellappie en waarop ‘n getjipte art nouveau-vaas gestaan het; ‘n nie-werkende muurhorlosie van dieselfde tydperk; twee moeg gebruikte gemakstoele; ‘n verweerde mat en voor die deur wat na die enigste ander vertrek lei, ‘n verbleikte gordyn wat pas by dieselfde verbleikter gordyne voor die vensters.

Teen die muur was ook ‘n trouportret in ‘n ovaal bolglasraam soos my ouers s’n  van so rondom die 1930’s. Dieselfde periode soos ander items in die huis.

Daar was ook ‘n koue, skoon, koolstofie, met bo-op ‘n blink kastrol wat beter dae geken het. Alles was netjies, maar afgeleef. In ‘n ou blaker soos die wat ek in die plaas-tyd geken het, het ‘n halwe kers gestaan met stalagtiete wat amper spokerig vertoon het. 

Ná die sit-opdrag het Mamma Paulina kiertsregop bly staan agter een van die stoele. Onder ‘n voorskoot het sy ‘n lang uitgewaste shweshwe-rok gedra wat plek-plek wou skif. Klein voetjies in ongepoleerde outydse skoolskoentjies, so nommer vier, met ‘n bandjie oor die voet wat aan die kant met ‘n knopie vasmaak, het haar regop gehou.

Sy het oop handjies afwaarts teen die voorskoot gevee asof sy die oomblik wou wegvee voor sy haar arms met ‘n beslistheid onder die plat borsies gevou het. Sy was eintlik heelwat kleiner as wat sy in die deur gelyk het en om so op ons af te kyk het haar status gegee.

Ek het na die foto gewys met Mamma Paulina as jong bruid, so negentien, twintig, en dit benut as aanknopingspunt. Die ganse inkleding daarvan het van vergange deftigheid en mode getuig: losserige rok met ‘n satynseintuur om die heupe, skerppunt  satynskoene, ‘n hooftooisel vasgevang en afgerond deur ‘n satynband laerig op die voorkop. En gehandskoen het sy ‘n gerf-ruiker van loof, rose en lelies vasgehou. Plaasboere was soms besonder genaakbaar teenoor arbeiderfamilies wat geslagte lank op die plaas gewoon het.

Langs haar het ‘n breëbors bruidegom gestaan in ‘n strepiespak, stywe boordjie en dassie, ‘n roos teen ‘n stukkie katstert in die knoopsgat. Ook hy was nie baie lank nie en by beide wou dit lyk soos  gelerige gelaatsoorblyfsels van San-bloed.  ‘Geelbekke’ het die wit Vrystaters sulkes genoem.

“Mamma, jo, maar jy was ‘n mooi bruid ... en die bruidegom lyk so deftig. Waar was dit?”

“My naam is Paulina. Was Vrede, Vrystaat.”

“Vertel my van die deftige bruidegom, jou man.”

“Abram Moloi. Is gesterwe. Gesterwe van ...”

Sy het die sin nie voltooi nie en ek het aangevoel om die sensitiwiteit te verny. Vra toe maar: “Van waar was hy?”

“Vrede. Gewerk in Germiston. Eers alleen gekom, my daar gelos.”

“Toe kom jy ook  Germiston toe. Hoeveel kinders het julle gehad?”

Sy het die vraag geïgnoreer en ek het weer eens besef ek moet  dit daar laat.

“Waar het julle toe gebly?”

“Germiston.  Dukathole. Ou lokasie.”

“Het julle ‘n huis gehad?”

“Nee. Makhukhu. Gehuur.”

“En toe? Wanneer Katlehong toe gekom?”

“1957.”

“Waar is dit beter, Dukathole of Katlehong?”

“Makhukhu is nie goed nie. Maar daar was ons naby die koelie-winkels ... en Germiston. Dis hulle, Germiston se munspaal, wat ons gefosta het om Natalspruit toe te trek.”

Dus die Groepsgebiedwet-in-praktyk.

En toe is dit asof sy skielik ‘n nuwe motivering kry: ”Die munspaal van Germiston het vir ons híérdie huis  gegee. Vir rent. Met die permit wat praat hoeveel ons moet betaal. Sal vir Nonna wys ...”

Sy het direk na my gekyk met die Vrystaat-aanspreekstyl.

Nog iets wat sy by die Boere afgekyk het, het uitgekristaliseer toe Mamsie iets wou vra en sy toegesnou is: “Stil jy, ek praat nie met ‘n meid nie.”

‘n  Vergeelde amptelike dokument op harderige papier, was haar bewys:

NIE-BLANKESAKE AFDELING: STADSRAAD VAN GERMISTON
Katlehong (Natalspruit) – Huispermit Regulasie 7 skakelhuis, 2 vertrekke, watervoorsiening 1 buitekraan, buitetoilet
Huisnommer:      Motloung-seksie 19A                                      Permithouer:      Abram Petrus Moloi NI Nommer: ... (Dit was die Nasionale Identiteitsnommer in die persoon se pasboek)                                                                            Kwalifikasie Stadsgebiedewet:     10(1)B                                     Geboortedatum:  ? 1907                                                              Etniese groep:    Suid-Sotho                                                Plek van oorsprong:  Vrede, OVS                                                      Geregistreerde afhanklikes:  Matshidiso Paulina Moloi (gebore Selepe) NI   Nommer ...     Kwalifikasie Stadsgebiedewet:     10 (1)C                                    Geboortedatum:   ? 1910                                                                    Plek van oorsprong:   Vrede, OVS                                                      Maandelikse Huur:  £1-2/6                                                      Handtekening geregistreerde huurder:    (‘n Duimdruk van Abram)                                Handtekening Superintendent:      J C Pieterse                                           Datum:   ... Februarie 1957

Dit sou spoedig blyk dat Mamma Paulina se geheue dus haar verweer teen die lewe, teen skelmstreke en teen uitbuiting was; vir die behoud van haar eerste en enigste rêrige huis; vir ‘n bestaansreg. Want sy kon nie lees nie en moes onthou dat die permit haar sekuriteit was  vir ‘n dak en wettige verblyf hier. Sy het dit bewaar deur getrou die huur te betaal, soos per dáárdie dokument wat sy in ‘n blik gebêre het.

En sy het maandeliks die huur betaal. Een pond en ‘n halfkroon soos in die permit bepaal. Dit het verander met desimalisering in Februarie 1961, maar sy kon die nuwe geld terugreken na sterling en het soos die lokasiemense in ponde, sjielings en pennies getel. Dié een pond het twee rand geword, ‘n halfkroon vyf-en-twintig sent. En dit is wat sy betaal het. Sy het die bewyse gebêre, 22 jaar se kwitansies vasgedruk in klein pakkies. Ook die permit. Veral die permit.

Daarom, nadat sy die ‘nonna’ belowe het dat sy haar sal wys, het sy gestorm na die kaslaai agter die stoel waarop ek gesit het en toe ek wou wegskuif, weer beveel: “Sit stil, ek weet waar my goed is.” 

Uit die laai het sy ‘n baie ou koekblik gehaal, die kersblaker weggeskuif en dit op die tafellappie voor my neergesit. Die deksel met kleurvolle vlieënde eende is voor Mamsie neergeplak en sy het die papiere versigtig begin uitpak. Baie kwitansies is eenkant gesit. Daarna het ‘n trou-sertifikaat wat deurgelê is op die voue, van Vrede se NG Kerk in Afrika verskyn. Sy het dit voor my oopgesprei: “Kyk daar, Paulina is nie net met die beeste getroud nie. Sien, ek en Abram het ook wettig in ‘n kerk getrou. Hy het gehou van die kerk van baas Piet.”

Tersyde gemompel: “ Maar die kerk kon nie keer dat hy getoor word nie...”

Mamsie en ek het met meer begrip onderlangs vir mekaar geloer. 

Toe haal sy ‘n ou, ‘n gevoude ligblou dokumentjie uit en plaas dit eenkant. Ek het versigtig gevra: “Mamma Paulina, en daai papier?”

Sy het dit emosieloos oopgevou en verduidelik voor sy haar lippe styf saam gepers het: “Dit is van Anna, ons kind. Sy het gebly by haar ouma by baas Piet-hulle.”

Daar is hul kind se doopseel van NG Kerk van Afrika, Vrede, 1935: Limpho Anna Moloi.

Voor ek weer na Mamsie kon kyk, het Paulina soos ‘n valk op ‘n werf-kuiken afduik, iets in die blik gegryp en die harderige papierdokument uitgehaal: “Daar’s die permit. Julle dink mos ek lieg. Sien, die kontrak van die munspaal van Germiston.”  

Mamsie se oë was nat en ek het nie geweet watter die oorweldigendste emosie was wat deur my gespoel het nie: deernis of magteloosheid? Want daar staan ‘n ou mammatjie met haar enigste sekerheid, die oorspronklike huispermit met verouderde inligting van die Regulasie 7-huurhuis van die Stadsraad van Germiston, die munspaal.

Verder was daar haar werkie, haar inkomste. Sy het geen hulp nodig nie, het sy gereageer toe ons praat van ‘n pensioen-aansoek. “Kyk,” het sy heftig geprotesteer: “Kyk!”
Die porseleinfles het sy ook op die tafel omgekeer en daaruit het dosyne gebruikte buskaartjies geval, klein opgebou. “Sien jy. Die nonna van Witpeerboomstraat 82 in Germiston, ek het ‘n skroppie by haar, werk Maandag en Donderdag. Gaan môre. Kyk, hier’s die buskaartjies.”

Môre? Vrydag? ‘n Dagverwarring? Sy het te afgesonder geleef, sonder kerk, om van Sheilas' Day te ken en die bidure wat nie kerk is nie. Daarom het sy ons en die inspekteurs vir skelms uitgeskel, want haar Sondag wat ons Donderdag was, was vir haar nie ‘n werkdag nie. Daarby het sy net geweet van die munspaal, want hulle het haar die huis gegee en van die verandering na ‘n administrasieraad het baie min townshipmense buitendien verstaan. Die kennisgewings oor huur-verhoging wat die black jacks snags onder die deur deurgestoot het, het sy vernietig want dit was die tokkelosie, of skelms, se nagwerk. Bowendien kon sy nie lees nie.

By die kantoor het ek in die foongids die nommer in Witpeerboomstraat gesoek en gekry.  ‘n Mevrou Wessels het geantwoord. Sy, self ‘n maatskaplike werker, was toevallig tuis en het bevestig dat Mamma Paulina reeds veertien jaar by haar werk en was baie simpatiek. Sy het haar leer ken as ‘n verswelgde deur paranoia, wat ook nog nooit iets te ete van haar aanvaar het nie, net geld. Oor vrees vir vergiftiging. Het geglo dat Abram se dood in ‘n treinongeluk geen ongeluk was nie, maar die resultaat van toordery deur jaloerses. Sy was bereid om maandeliks die res van die huurdebiet te betaal om die verskil op te maak van die R2,25 wat Paulina betaal het.

Paulina moes nie daarvan weet nie. Oor die agterdog en onbegrip, want sy was deurmekaar oor sommige dinge, soos die dae, wat ek toe al vermoed het.

Daar in die Motloung-seksie 19A het dus ‘n ou mensie wat geheel-en-al geïsoleerd en vereensaamd in ‘n skakelhuisie stoksielalleen gewoon, net met demone en herhinneringe. Sodanige isolasie was eweneens totaal teenstrydig met haar kultuur, soos die vervreemding van haar enigste kind wat sy by haar ma in Vrede agtergelaat het. En ‘n kleinkind het nie ‘n kat se kans gehad om, soos die kultuur voorgeskryf het, by haar te kom bly nie. Oor die streng toestromingsbeheer-regulasies. 

Boonop het sy ook die bure ernstig gewantrou. Hulle het haar getart as sy vra vir hulp, want die tokkelosie het die water weggevat. “Die kleinhuisie stink oor daar nie water is nie”, was haar mededeling.

Terug by die kantoor het ek die watertoevoer laat herstel. Dit was ten minste één ding wat ek kon doen. Maar daar was nog die agterstallige rekening, want die werkgewer kon dit nie betaal nie. Ek het ‘n afskryfverslag ingedien by die administrasieraad se indoenas wat eintlik politieke aanstellings was en ‘n uitgerekte oorwegingsproses gevolg het.

Maar eendag het alles verander, want Mamma Paulina het spoorloos verdwyn. Die bure, mevrou Wessels, niemand anders het geweet wat van haar geword het nie. Die inspekteurs was ook verbaas om dit te hoor en ek moes hulle glo.

Daar is te veel komplekse townshipstories wat ek met magteloosheid beleef het en nou so vertel, want dit is hoe dit was. Hierdie verhaal, dié van Mamma Paulina Moloi, is van haar as geworpene in ‘n uitsiglose bestaan waarin paranoia haar besit het.

As deel van die paranoia, het sy toordery as ‘n konstante metgesel beleef – soveel so dat sy geglo het dat dit haar man, haar enigste menslike anker, van haar ontneem het.

Boonop moes sy bestaan in ‘n realiteit van streng witmenswette wat selfs haar laaste ondersteunende familie- en kulturele bande vernietig het, terwyl wetlike magte noodsaaklike watertoevoer gestuit het, wat vir haar nóg ‘n demoniese tsotsi-realiteit was. Om die kroon te span het 'skelme' probeer om haar openlik van haar laaste sekuriteit, haar swaar verdiende skroppie-geld, te beroof.

Dalk was dit maar ‘n gegewe dat sy mettertyd so raaiselagtig sou verdwyn.

Beoordeel hierdie artikel:
Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 13-19°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Polo Classic 1.4 Trendline MY05
2007
R 109,995.00

FORD

Bantam 1.3i XL AC PU MY09
2010
R 104,990.00

NISSAN

Hardbody 2400i D-Cab 4x4 PU
2005
R 135,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.