- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ingryping in SAPS nodig
deur Impetus Riekert
2012-01-17 14:57
Ek krap gister in die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) se Desember 2011-uitgawe van die publikasie “Crime Quarterly” rond vir inligting oor ‘n ander onderwerp (ja, dis oor korrupsie!) en ek vind toe hierdie artikel; “Measuring outputs, neglecting outcomes: The Auditor General’s role in SAPS performance assessments” geskryf deur David Bruce in die SA Crime Quarterly no. 38 van Desember 2011.
Bruce, 'n onafhanklike navorser het onder andere gaan kyk na die ouditeur-generaal se ouditverslag oor die funksionering van die SAPS en die volgende goeie bestuurspraktyk-bevindings gemaak:
• 'n Duidelike, tydige en geredelik beskikbare rekord van ondersteuningsdokumente bestaan;
• Die kwaliteit van finansiële state en bestuursinligting;
• Die tydigheid van finansiële state en bestuursinligting;
• Die beskikbaarheid van sleutelpersoneel gedurende oudits; en
• Voldoening aan risikobestuur, goeie interne beheer en goeie bestuurspraktyk
Bemoedigend, maar die oudit is ook gedoen oor die sogenaamde “service delivery”-komponent wat polisiestasies en die 10111 noodlyn ingesluit het.
Die fokus het op sektorpolisiering, voertuigbestuur (management), opleiding en gemeenskapsdiens, gesinsgeweld, koeëlvaste baadjies en die 10111 diens gegaan, Hier is van die uitslae en opmerkings:
• Die kwaliteit van bestuursinligting en opleiding het bevind dat daar onakkurate bestuursinligting bestaan in die nasionale personeel databasis oor die hoeveelheid lede wat spesifieke opleiding in sekere modules gehad het;
• In die ondersoek na die standaardprosedure waarop stasies met gesinsgeweld moet deel, het “verskeie gevalle” voorgekom waar die Nasionale Instruksies nie gevolg is nie. By een stasie waar 15 gevalle ondersoek is (75%), was die voorgeskrewe verslagdokumente nie voltooi nie en die voorvalleboek (OB) nommer was nie gemeld in die gesinsgeweld register nie. Die oudit het bevind dat mense eerder nie die voorvalle sal aanmeld nie en dit tot gevolg sal hê dat meer strafregtelike klagtes gele word;
• Wat die aanwending van beskikbare hulpbronne binne die SAPS aan betref, is daar bevind dat by die 10111 oproepsentrum in Gauteng, meer as 4 000 voertuie nie die gesofistikeerde AVL (automated vehicle location) benut nie en die voertuie dus nie gebruik word nie;
• personeel se vaardigheid of kwalifikasies is ook ondersoek en daar is bevind dat daar by een polisiestasie 74% van die operasionele personeel is wie nie ? geldige bestuurderslisensie het nie. Die verslag spel soms die implikasies uit, naamlik in hierdie geval dat operasionele lede sonder bestuurderslisensies beteken dat skofte beman word deur onopgeleide bestuurders, wat meebring dat daar oneffektiewe sektorpolisiering en gebrekkige reaksietyd op klagtes is.
Die sogenaamde prestasie-oudit gee 'n duideliker beeld van die operasionele aspekte van die SAPS , maar spreek nie aspekte soos die wedersydse verhouding met die gemeenskap en die standaarde van integriteit en menswaardigheid by polisiestasies in nie.
Soos Bruce opmerk is die kernfunksie van die polisie in 'n demokrasie, om te dien en te beskerm.
Hy stel voor dat die ouditeur-generaal polisiestasies en die polisiediens meer intensief moet ondersoek deur vrae soos die volgende te vra:
• verminder die polisie se diens misdadigheid, onrus en vrees en word openbare veiligheid nagestreef?
• hoe effektief is hulle om oortreders aan die pen te laat ry?
• word daar op ‘n professionele manier met die publiek gekommunikeer?
• hoe reageer hulle op die behoeftes van sensitiewe groepe in die samelewing?
• werk hulle saam met ander polisiëringsgroepe om misdaad op alle vlakke van die samelewing te bekamp?
• hoe professioneel is al die vlakke van die diens?
Inderdaad is dit 'n reusetaak om by die 200 000 mense by 1 122 polisiestasies effektief te bestuur en daadwerklike ingryping is vanuit president Zuma se kantoor nodig.
Die vraag is, weet hy en die regering hoe?