AF Conradie, Centurion

Rapport-gebruiker

'n 'Ander' terugblik op 1976

deur AF Conradie, Centurion
2011-07-02 09:23

Soos dit weer herdenk is in optogte en byeenkomste, berigte en besprekings in die pers, oor die radio en in TV-programme, was die jaar 1976 in vele opsigte ‘n jaar om nie te vergeet nie: Nie net in verband met die politieke denke van die tyd nie, maar ook vir wat later as ‘n verlore geslag van jongmense bestempel is, die groep wat tóé tussen 14 en 18 jaar oud was en van wie baie tog groot opgang op vele terreine vermag het. Daarby is daar ander wat destyds verbonde was aan die aparte en gewraakte departement van bantoe-onderwys, baie van hulle in Afrikaans opgevoed, deeglik opgelei en besiel met iets soos ‘n sendingywer om kinders en jongmense uit ander agtergronde te onderrig en voor te berei vir diens in ‘n verdeeldee samelewing.

Aan die hoof van die Departement in Pretoria was ‘n sekretaris wat self uit die sogenaamde sendingveld gekom het en die belange van beide onderwysers en leerlinge/studente op die hart gedra het. Hy was egter onderworpe aan die beleid van Apartheid soos dit veral deur dr. H.F. Verwoerd verwoord is, met die klem op dit wat in die praktyk nodig geag is in ‘n land waar werkreservering -- “job reservation”-- nog op die beskerming van die wit werker en amptenaar gemik was. So asof daar ooit genoeg wit werkers, sonder of met wit boordjies,  kon wees om in die land se groeiende behoeftes te voorsien. Daarby was dit nodig geag om die Afrikaanse Taal teen die groeiende klem op Engels in die handelswereld te bevorder en dit nie net as ‘n verpligte vak wou behou nie maar ook as onderrigtaal in skole af te dwing.

In persoonlike gesprekke met die sekretaris, wie se kantoor geredelik oop was, het verskeie skoolhoofde en ander gesoute opvoedkundiges reeds begin praat oor die probleme wat dit vir onderwysers geskep het.  Veral was dit moeilik om in gebiede soos in en om ons stede, of in die Transkei, waar Engels eintlik vir swart kinders reeds in sekondêre skole die aangewese medium van onderrig was --  en ook die taal was waarin die meeste beskikbare onderwysers opgelei is aan bekende skole en kolleges deur Engelse sendelinge tot stand gebring in ‘n tyd toe baie Afrikaners nog nie veel omgegee het vir mense in die “sendingveld” nie.

My vrou en ek, toe nog gretig om die ideale van Groot Apartheid en die ydele droom van ‘n konstellasie van state te help vestig, was maar net twee van diegene wat nie meer kans gesien het om klein- (petty) apartheid toe te pas nie. As jong skoolhoof het ek net nie meer sin daarin gesien om met “anderskleuriges” in aparte personeel kamers ‘n koppie tee te drink nie en by skoolfunksies aparte tafels vir wit en swart te dek nie. Nog minder het sy as bekwame Afrikaanse onderwyseres en dosent wou sien hoe ons taal ‘n struikelblok geword het vir kollegas wat die taal nie magtig was om sekere vakke deur medium van Afrikaans te onderrig nie. Vir myself was dit net onsinnig om ‘n vak soos Aardrykskunde of Geskiedenis as twee van drie vakke, soos vereis by die besondere skool, deur medium van Afrikaans te onderrig

So moes ons noodgewonge toesein hoe ons taal vir menige onderwyser en leerling ‘n steen des aanstoots geword het en gedurende daardie jaar, 1976, sou lei tot die gebeure van 16 Junie en die wat daarop gevolg het. Al lyk dit vir diegene wat nie wil onthou nie asof daar ou koeie uit die sloot gegrawe word met ‘n artikel soos hierdie is dit wel nodig om te besef dat daar tog lesse te leer is uit die Geskiedenis.

Die jaar het vir die twee van ons op die hoogste noot begin omdat ons na tien jaar van diens geregtig was op “lang verlof” en vir drie maande kon ons, soos deesdae uitgedruk, kwaliteit tyd met mekaar deel. So kon ons ook tydelik vergeet van ‘n kwaai brief uit Hoofkantoor wat dreigend gestipuleer het dat ek as skoolhoof daar was “om beleid uit te voer, en nie voor te skryf nie”. Ons het dus nie mooi  geweet  wat die toekoms vir ons sou inhou nie en een van ons kinders was bekommerd oor sy pa wat nog nie weer werk gekry het nie..

Om weg te kom van sulke twispunte het ons twee maande in die winderige Kaap deurgebring: Per trein, die oranje-bruin Trans-Karoo, van Pretoria na Kaapstad, en met ‘n jonger broer se VW Kewer op reis deur die Boland met al sy natuurlike prag en Afrikaanse karakter. Verrassend veral was die nadere kennismaking met bruin taalgenote en hulle manier van praat met twee mense uit die ou Transvaal -- waar daar allerlei planne vir hulle as nog ‘n aparte groep gesmee is. Voeg hier by die ondervinding om by Kaapse kennisse en familie rond  te kuier, en, met mense wat al anders begin dink het, die land se probleme te bespreek.  Om die avontuur af te sluit op meer persoonlike vlak, was daar ook die genot om vir ‘n paar dae in ‘n Kaapstadse hotel naby die see net weer as ou verliefdes saam te wees..

Terug in Pretoria word ek gevra om ‘n kollega as skoolhoof te gaan aflos by ‘n ou skool wat byna ‘n eeu tevore deur Duitse sendelinge tot stand gebring is,  en om redes van hul eie Bethel genoem is. Om Afrikaans te bevorder is Mevrou, soos sy voortaan bekend sou wees, saam, en gou baie gewild as vertolker van ons ryk taal en letterkunde, selfs al was die meerderheid van die leerders uit huishoudigs met Engels as werkstaal. En waar ons ookal sou kom was Afrikaans as taal en vak so gewild soos sy.

Met ‘n hostel steeds onder kerlike toesig en ‘n uitkoms vir stadsouers wat hulle kinders wou wegkry van “vreemde invloede”, was die skool egter onder beheer van die Departement van Bantoe-Onderwys en was sosiale verkeer soos oral in die land dus onderworpe aan beleid, Apartheid. Ons voorstel aan die personeel om weg te kom van aparte geriewe “net vir Blankes” is nie deur almal verwelkom nie maar tog geredelik  aanvaar. So is daar gou beter verhoudinge geskep met onderwysers en leerlinge ten spyte van die  gemor wat daar toe reeds was oor die verpligte gebruik van Afrikaans as onderrigtaal in sommige vakke.  

Daar is egter nie altyd by die beleid gehou nie en onderwysers is toegelaat om waar nodig minder Afrikaans te gebruik en lesse in Engels aan te bied of te herhaal,  wat opsigtelik bygedra het tot beter verhoudinge en beter onderwys, en beter uitslae aan die einde van daardie besondere jaar.

Soos dit dikwels die geval was in daardie dae, was dit leerlnge uit die laer klasse wat deur “elemente uit die stad” gebruik is om onrus aan te wakker en is ons vreedsame gemeenskap van sy vrede beroof. Soos met die spreekwoordelike veldbrand het die vlamme van die Soweto-opstand van 16 Junie vinnig versprei, en het ‘n klein groepie juniors daardie aand nog probeer om die Hostel af te brand. Hulle is egter met die hulp van senior leerlinge uitgeken en aan die Polisie oorhandig met die versoek om die skool- en hostelowerhede toe te laat om die vrede te handhaaf en met onderrig voort te gaan. Dit was egter nie so maklik nie want berigte en gerugte van onrus in skole het normale werk onmoontlik gemaak.

Voordat enige reelings om die vrede te bewaar behoorliik  in werking gestel kon word, het ‘n Polisiemag onverwags met dreigende voertuie en wapens by die skool opgedaag. Alhoewel die bevelvoerder bereid was om te luister en meegedeel is dat sake onder beheer was, was die blote teenwoordigheid van die Polisie genoeg om die leerlinge en onderwysers uit hul klaskamers te dwing en na buite te laat stroom. Met die hulp van personeel het ek daarin geslaag om ‘n onmiddelike konfrontasie te vermy deur die kinders te vra om kalm te bly terwyl ons die manne in bevel probeer oortuig het dat daar geen rede was om met geweld in te gryp nie.Ten spyte van die amper voelbare spanning het dit gelyk of hulle tevrede was en of die Polisie onttrek kan word vir optrede by brandpunte elders.

Dit was in hierdie stadium dat ‘n leerling van agter af ‘n klip na ons geslinger het en dit met ‘n knal een van die voertuie getref het. Vir ‘n oomblik het dit gelyk of ons iets soortgelyks aan die opstand in Soweto gaan beleef, want sonder waarskuwing was daar ‘n bevel:  Skiet, om dood te skiet!

Soos wat mense in sulke omstandighede soms optree sonder om aan die moontlike gevolge te dink, het ek, ongelooflik soos dit mag klink, voor die oorgehaalde wapens ingespring.en tussen die twee dreigende groepe beland  Wat verder tydens daardie oomblikke gebeur het of gese is, weet ek nie, net dat daar nie geskiet is nie en ook nie meer klippe gegooi is nie.

Die polisie is kort daarna weg en die verslae leerlinge, baie van die seniors reeds jong volwassenes en nie meer kinders nie, is na hulle klasse teruggeroep.

Van onderrig was daar egter nie sprake nie en is daar sonder verwyl besluit om die ouers van die gebeure in kennis te stel. Hulle is ook versoek om vir ‘n dringende ouervergadering byeen te kom, waarop die reaksie net verstommend was. So is daar weereens bewys is dat wedersydse respek en samewerking die oplossing van vele probleme kan bespoedig.

Om ‘n lang storie kort te maak: Dit was naby die einde van die halfjaar en daar is ooreengekom om die skool tydelik te sluit en om alle verlore tyd in te haal gedurende die koue winter vakansie -- wat deur alle partye verwelkom is en in die besondere omstandighede met ywer benut is.

Met die opstande elders nog vars in die geheue het die personeel en studente van die skool die derde kwartaal sonder die gebruiklike vakansie verposing begin. Sover moontlik is die normale gang van sake herstel en was daar nou net een doel om na  steef: Om leerlinge deeglik te onderrig in ‘n omgewing waar onderwys eerste kom, anders as in die dwase slagkreet van “Liberation before Education”. Waar kinders Afrikaans magtig was en dit so verkies het, is hulle in Afrikaans onderrig, maar die onderrigtaal was nou Engels, die taal wat die beste resultate kon lewer.

My vrou se Afrikaans het steeds gewild gebly en was daar veel om te leer uit die werke van Afrikaanse skrywers en digters, terwyl ek by my makliker werk as hoof verantwoordelik was vir die seniors se Engels. Met die eindeksamen voor die deur  was dit ‘n plesier met voorgeskrewe boeke soos Thomas Hardy se lekker storie in “Under the Greenwood Tree” en George Orwell se boek oor mense in posisies van gesag wat “meer gelyk is as andere”, soos satiries verbeeld in die bekende “Animal Farm”.

Na ‘n welverdiende kort vakansie in Oktober is ons terug na die skool alhoewel die man met verlof terug was op sy pos en verantwoordelikheid vir die bestuur van die inrigting as geheel kon oorneem. Na die gebeure van 16 Junie en die spanning wat daarop gevolg het, en ontlont is, was dit pure plesier om vir die res van die skooljaar saam te werk en tot laat in Desember te help met beplanning vir die nuwe jaar.l

 

Beoordeel hierdie artikel:
Lewer kommentaar op hierdie artikel
7 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 13-19°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

WebSphere Specialist

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R600000

iPhone Applications Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R450000 - R520000

CRM developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R400000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Polo Classic 1.4 Trendline MY05
2007
R 109,995.00

FORD

Bantam 1.3i XL AC PU MY09
2010
R 104,990.00

NISSAN

Hardbody 2400i D-Cab 4x4 PU
2005
R 135,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.