7 ure met die sirene aan

2012-12-09 00:25

Craig Northmore

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Pieter Redelinghuys en fotograaf Diaan de Beer het ingeskuif vir ’n wilde nagskof saam met ’n nooddienswerker van ER24.

Shane Fascio, stasie-bevelvoerder van ER24, meen hy is nie ’n held nie. “Ek doen net my werk.”

Dis Vrydagmiddag skuins ná ses en Shane Fascio, stasiebevelvoerder van ER24, is omgekrap. Sy halfgeëte pizza lê iewers op Nelson Mandela-boulevard.

In sy haas om by ’n ongelukstoneel uit te kom het hy die Hawaiian met ekstra sampioene op die dak van sy reaksievoertuig gelos en met loeiende sirenes die laatmiddagverkeer aangedurf na die toneel op die N2 langs die Kaapstad Internasionale lughawe.

Die noodoproep, soos vele deur die loop van die aand, loop op niks uit nie. Soms is die ongeluk bloot ’n fender bender: Soms jaag ER24 met reaksievoertuie en ambulanse uit na ’n ongeluk wat nooit gebeur het nie… ’n gekskeerder wat dink hy’s snaaks om ’n vals oproep te maak.

Maar niks staan in die pad van dié manne en vroue wat dit hulle roeping gemaak het om by mense in nood uit te kom nie. Nie spitsverkeer, karige salarisse, bakstene of koeëls nie –  laat staan nog die eerste ordentlike maaltyd in ’n twaalfuurskof, vergete op die dak van ’n voetuig. As die oproep kom, is daar een opsie: Jy ry – en verkieslik die heel kortste pad.



Bo: Shane Fascio

“Op ’n besige skof kom jy maklik by 14 tonele uit – enigiets van motorongelukke, skiet- en meswonde, hartaanvalle, iemand wat ’n been gebreek het. Ek het al 550 km in een skof afgelê,” gesels Shane.

Hy’s ’n skraal man in sy laat twintigs – hare kort geknip, sonbruin vel. Hy dra die kenmerkende rooi oorpak van ER24. ’n Aangestikte Suid-Afrikaanse vlaggie pryk op sy bors. Ongewone van… Fascio? Ja, ’n Italiaanse bloedlyn. En Duits ook. Maar hy het as Engelsman in die Kaap grootgeword. Vandag woon hy in ’n woonstel in die stadskom, alleen. “Met my ongewone ure, sou dit onregverdig wees om ’n hond, kat of goudvis aan te hou.” (Hy het darem ’n meisie.) 

Ons kan maar gesels, beduie hy. Die “ons” is nou ek langs hom en fotograaf Diaan de Beer, ingebondel in ’n hoekie op die agtersitplek, neffens ’n stapel noodtoerusting. Die res hiervan, in ’n massiewe rugsak, is in die kattebak van die kragtige Mazda 3-reaksie-voertuig.

Ná etlike weke se burokratiese rompslomp is my en Diaan se dokumente uiteindelik in triplikaat geteken en is ons reg vir ’n nag se aksie…

Ons is onderweg na “Claremont Gen”. Anders as wat jy sou vermoed, verwys dit nie na “General Hospital” nie, maar die Engen-vul-stasie in Claremont, die bymekaarkomplek van nooddienswerkers. Daar’s ook ’n “Gen” in die noordelike voorstede en een aan die Weskus. Dis waar almal tussen oproepe ontlaai, koffie drink en gekskeer.

“Die vulstasies bied vinnige toegang tot die groot nasionale paaie en is daarom ideaal as jy moet voet neersit. Boonop kry ons die koffie goedkoper!” Skaars by die Gen stilgehou en die tweede oproep kom uit ER24 se beheerkamer…

18:45
“Voetganger op Ou Kaapseweg raakgery.” Die sirene loei, die ligte flits en die spoedmeternaald raak-raak aan 160. Dis verbasend om te sien hoeveel motoriste nie padgee wanneer ’n noodvoertuig in aantog is nie.
“Ja, dis frustrerend. Al wat mense moet doen, is om uit die pad te probeer kom. Net nie rem of stop nie. Maar dis dikwels die eerste reaksie. Ironies dat die meeste klagtes wat ons kry van mense kom wat vra hoekom ons so lank geneem het om op te daag.”
Polsende musiek stroom uit die luidsprekers. Benewens die aanboord-radiostelsel wat hom met die beheerkamer verbind, het Shane ook ’n tweerigtingradio om met ander ER-voertuie te kommunikeer en ’n BlackBerry, wat elke nou en dan sy sein verloor terwyl hy met ’n kollega praat. Regs bo teen die voorruit flits ’n GPS-toestel geluidloos die kortpad na die toneel.
Ook dié oproep lewer niks op nie. Drie-kwartier gemors? “Nee, dit kan ek nie sê nie. Sê nou maar iemand is wel raakgery? Ons kan nie bekostig om ’n enkele oproep te ignoreer nie.”

19:30
“Motorongeluk op N2 by Jan Smuts-afrit.”
Selfde storie. G’n teken van ’n ongeluk nie. Terug by die Gen kry ons ’n halfuur tyd om te gesels.
“Ek het op skool reeds geweet ek wil ’n paramedikus word.” Shane het in 2003 – ’n jaar ná matriek aan die Duitse skool in Kaapstad – sy eerste basiese lewensondersteuningskursus voltooi en toe, soos die meeste ER24-personeel, as vrywilliger ambulansdiens begin doen en tussenin nog kursusse voltooi.
“Ek is nou tien jaar lank ’n paramedikus in die Kaapse Skiereiland, sewe jaar as vrywilliger. Die beste manier om te leer, is praktiese opleiding onder die wakende oog van ’n mentor – in my geval Craig Northmore (sien kassie op bladsy 10). Sy belangrikste les: Jy hou nooit op met leer nie.”
Shane het reeds die hoogs moontlike kliniese kwalifikasie wat ’n paramedikus kan verwerf.
“Benewens ’n paar chirurgiese prosedures, kan ek dieselfde doen as ’n dokter in ’n noodeenheid. Dokters weet baie van ’n wye veld, paramadici weet baie van ’n spesifieke veld.” Ons gesprek word kortgeknip.

20:10
“Motorfiets in Ou Paarlweg, Brackenfell… van agter teen ’n motor vas. Bestuurder vasgekeer. Kode Geel,” kom die boodskap.
“Kode Geel beteken die beseerde se toestand gaan agteruit. Nie goeie nuus nie. Groen is lig beseer, Rooi kritiek en Blou… wel, jy kan self die afleiding maak.”
Vanaf die Gen na die hart van Brackenfell is seker so 40 minute se ry op ’n stil aand. Shane se Mazda 3 vreet die N1 en 25 minute later is ons op die toneel. Die motorfietsryer is reeds in ’n ambulans – ’n stuk metaal van 30 cm lank steek by sy bors uit. Dié, sê Shane, is vermoedelik deur die regterlong. Hy moet so gou moontlik by ’n hospitaal uitkom.
Die ambulans kan nie vinniger as 120 km/h ry nie omdat die pasiënt agterin behandel word. Twee reaksievoertuie – Shane en ’n kollega – jaag links en regs daarvan, soms 300 meter vooruit, en keer dat verkeer by aansluitings of padkruisings onderweg na die Durbanville-hospitaal voor die ambulans indraai. Veertien minute later is ons voor die hospitaal, waar die dokter en narkotiseur aan diens gereed staan.
“Hy gaan oukei wees,” sê Shane. “Ons kon hom vinnig in die noodeenheid kry.”
Wat is die uitdagings van dié werk?
“Lang, ongereelde ure. ’n Mens sukkel maar om ’n sosiale lewe aan die gang te hou. Die meeste ouens trou met mede-paramedici of dokters, wat die ure en soort werk verstaan. Maar die werksbevrediging is groot. Die wete dat jy ’n verskil aan iemand se lewe gemaak het… dat jy eensklaps orde kan bring waar daar chaos is.”
Beskou hy homself as ’n held?
“Dis ’n vraag wat my ongemaklik maak. Hoe op dees aarde kan ek ’n held wees? Ek doen net my werk, dis tog wat van my verwag word.”

21:30
“Motorfiets op R27 agter in motor vas. Kode Rooi.”
Die R27. Weskuspad. Pad van die dood.
Wrakstukke lê oral gesaai. Glas, stukkies motorfiets, iets wat lyk soos die buffer van ’n motor. Die bestuurder – op die oog af ’n man in sy vyftigs – lê 25 tree van sy fiets. Hy beweeg nie. Sy swart valhelm eenkant.
’n Stuk of agt paramedici hurk rondom hom. Twee doen in tandem kardiopulmonêre resussitasie… sy hart het gaan staan weens ernstige inwendige beserings. Vriende en familielede drom verskrik saam. Daar is trane, dan gille.
Shane staan nader. Hy’s die draer van slegte nuus.
Dís Kode Blou…

23:30
“Bejaarde vrou in Kraaifontein… kwaai borspyn. Vermoedelik hartaanval.”
Shane ondersoek haar. Sommer daar in die voorhuis op die Morkels-rusbank. Dan gee hy die opdrag. Laai haar in die ambulans. Hy
vermoed nie ’n hartaanval nie, maar ’n mens kan nooit te seker wees nie.
Dis sewe ure sedert ons saam met Shane in die motor geklim het, 13 ure vir hom, maar ’n mens besef dit nie. Die adrenalien van jaag--togte, loeiende sirenes, die verligting, die afgryse laat jou vergeet jy’t eenuur vanmiddag laas iets te ete gehad.
Ek en Diaan staan buite en rook. Ons praat nie juis nie. Te veel om te sê. Te min woorde.

00:35
“Motorongeluk op hoek van Buitengracht en Coen Steytler.” Kode Groen. Niemand ernstig beseer nie. Shane bly nie lank op die toneel nie.
Ons ry terug Gen toe vir ’n paar laaste woorde.
Ontspan hy ooit?
“Ja, ek hou van musiek en kuier saam met vriende – meestal maar mede-paramedici. Ek is betrokke by die mensereddersklub in Kampsbaai. En ek bestuur ’n nie-winsgewende organisasie van 20 vrywilligers, die Campsbay Community Medics, wat ’n gratis paramediese diens in die gemeenskap lewer.”
Ek en Diaan kyk vir mekaar: En die man sê hy is nie ’n held nie?  

‘Die wete dat jy ’n verskil aan iemand se lewe gemaak het… dat jy eensklaps orde kan bring waar daar chaos is.’
– SHANE FASCIO, ER24


’n Slagoffer van só ’n grusame ongeluk kan oorleef as hy betyds by die hospitaal kom.
Reddings--operasies is meestal ’n spanpoging.

Ons praat nie juis nie. Te veel om te sê. Te min woorde.

Benewens ’n paar chirurgiese prosedures, kan Shane dieselfde doen as ’n dokter in ’n noodeenheid.
“Claremont Gen”, die Engen-vulstasie in Claremont, is waar almal kom ontlaai.
ERS sorg ook vir iets te ete vir nood-dienshonde.

Het jy geweet?


Emergency Refreshment Services (ERS) is ’n organisasie vrywilligers wat elke naweek en tydens groot noodoperasies gratis eet- en drinkgoed aan alle nooddienswerkers in Kaapstad verskaf.

Hulle maak staat op skenkings, maar betaal meestal self vir als.

Volg ERS op Facebook, twitter (@ERS24EMS) of kontak hulle via e-pos: info@ers4ems.co.za.

ER24 se noodnommer is 084 124.


Craig Northmore

Bestuurder: Kritiekesorg-eenheid van ER24/BASE4-helikopterdiens

“Ek kan nie glo ek word betáál om dié werk te doen nie,” sê Craig. “Dis amper absurd. Ek geniet dit só. Dis soms hartverskeurend, soms skreeusnaaks en soms gebeur daar niks. Maar dis altyd opwindend.”

Hy het in 1992 as paramedikus gekwalifiseer en het ook tientalle ure as helikoptervlieënier op sy kerfstok.

“As kind het my vriende cowboys-en-Indiane gespeel, maar ek was altyd die ambulansman.

Dis wat ek nog altyd wou doen.”

Ná 20 jaar as paramedikus, een wat in die 1990’s sy voete gevind het agterin ambulanse in die Wilde Weste van plekke soos Hillbrow, is hy aan die stuur van ’n aëromediese kritieke-sorg-eenheid.

“Ons vervoer pasiënte per helikopter van klein plattelandse sorgeenhede na groot hospitale landwyd. As iemand ernstig siek of beseer is, word ons ontbied. ’n Helikopter kan paramediese kenners vinnig na feitlik enige plek neem om mense net so vinnig by ’n hospitaal te kry.”

So, vertel Craig, kon hulle een nag ’n motor-fiets-ryer wat van agter in ’n vragmotor vasgejaag het binne 22 minute ná die ongeluk op ’n operasietafel kry.

“Sy slagaar het geskeur en sy kans op oorlewing was minimaal. As hy op ’n ambulans moes wag, was hy dood. Hy het die ongeluk oorleef.”

Nie als werk altyd so goed uit nie. Die teleurstelling is soms erg: “Ons kan nie almal red nie, maar ons kan aanhou probeer.” 

 “As kind het my vriende cowboys-en-Indiane gespeel, maar ek was altyd die ambulansman.”

Tania Morkel



Brandbestryder – Volunteer Wildfire Services (VWS)

As daar 25 uur in ’n dag was, sou die skraal-geboude Tania Morkel daardie ekstra 60 minute óók gebruik het om aktief te wees.

Dié 50-jarige is ma van vyf kinders, deeltydse Unisa-student in haar finale jaar van ’n vierjaar-graadkursus in natuurbewaring, sakevrou, veldloop-atleet en Tafelberg-stapgids.

Bowenal is sy ’n brandbestryder vir die Volunteer Wildfire Services, ’n organisasie vrywilligers wat enige tyd van die dag of nag – sonder vergoeding – uitgeroep word om te help waar ’n veld- of bergbrand is.

“Toe ek in 2008 deur Unisa begin studeer het, moes ek tien uur praktiese werk as deel van die natuurbewaringskursus doen. Omdat ek spesifiek fokus op plantlewe, wou ek by brandbestryding betrokke raak.” Sy was onder die indruk jy daag op, jy leer die basiese dinge en begin vure doodslaan. Toe nie.

“Dit verg ses maande van intensiewe opleiding – noodhulp, abseil, hoe om riviere oor te steek, kaartlees, globale posisionering, helikopterprosedures – voor jy naby aan gereed is om vure te slaan. Ek was ná die eerste paar uur verslaaf daaraan!”

Vyf jaar, tientalle vure en honderde brand-slaan-ure later (“jy kom tuis en in die bed kla jou man as jy uitasem, ruik dit na rook… ”), leer sy steeds. Hoekom doen sy dit?
“Want dis ’n uitdaging. Dit hou my fiks en neem my uit die gemaksone van ‘dit raak my nie direk nie, so dis nie my probleem nie’. Ek doen minstens iets wat dalk ’n verskil maak aan ander se lewe.”

 “Ek was ná die eerste paar uur verslaaf daaraan!”


Bruce Davidson

Stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsintituut (NSRI) in Bakoven, Kaapstad

Daardie kyk in die oë van ’n drenkeling wanneer dié besef: “Ek is oukei, hulp is hier, ek gaan lewe.” Dís wat Bruce ná 31 vrywillige diensjare as lid van die Nasionale Seereddingsinstituut steeds aan die gang hou.

Hy het langs die Atlantiese kuslyn grootgeword en het reeds as 16-jarige by die NSRI aangesluit.

“Dis wat ek wou doen. Die see is my lewe,” sê hierdie skrynwerker-lektor by Valsbaai Kollege.

Jy begin as leerling-seereddingswerker en kry praktiese opleiding en mentorskap van die senior ouens. Dan begin die kursusse – noodhulp, brand-bestryding, oefeninge saam met die Lugmag se helikopter-eenheid.

“Jy hou nooit op met leer nie. Ná drie dekades as vrywilliger leer ek steeds,” sê Bruce.

Dit verg 30 uur ter see – gelykstaande aan sowat ses maande – voordat iemand as aktiewe lid van ’n reddingspan op ’n NSRI-boot toegelaat word. As beginner. Bakoven is die oudste seereddingstasie in Suid-Afrika en het vier spanne van ses lede elk, almal vrywilligers.

“Die NSRI het sowat 980 vrywilligers landwyd. Benewens tien of so admin-mense by hoofkantoor, werk almal sonder betaling. Ons maak staat op 4% befondsing van die regering en vir die res word ons onderhou deur skenkings, geldinsamelings en bemakings.”

Die uitdagings, sê Bruce, is te veel om op te noem. Om drieuur die oggend, in ’n tierende suid-ooste-wind en reën, uit jou warm bed op te staan en in stikdonkerte iemand iewers op ’n onstuimige see te gaan red is nie grappies nie.

“Maar jy vra nooit hoekom nie. Jy doen dit net. Dalk kan jy ’n lewe red.”

“Maar jy vra nooit hoekom nie. Jy doen dit net.”

Het jy geweet?

60 minute… of die eerste uur waartydens ’n spesialis ’n ernstig beseerde pasiënt moet sien, word die Goue Uur genoem.
40 000... die aantal nood-oproepe wat ER24 per maand ontvang.
280... die aantal nood-voertuie wat ER24 landwyd het.
12 uur... is hoe lank elke dagligskof van die nasionale ER24-helikopterdiens is.  
456... baaiers is in Des. 2011/Jan. 2012 deur die NSRI uit die see gered.
18... noodoproepe is op 1 Januarie 2012 deur die NSRI ontvang.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-18°C Sunny. Mild. Pta: 11-24°C Rain late. Partly cloudy. Mild.
Jhb: 7-20°C Showery. More sun than clouds. Mild. Bfn: 0-23°C Sunny. Mild.
Dbn: 14-20°C More sun than clouds. Cool. PE: 8-19°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!