Anna-Mart: die vrou wat tuisgekom het

2012-08-22 13:15

Foto: Jan Ras

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Sy’s ons Boere-Mona Lisa: tydloos. Kort duskant 50 het Anna-Mart van der Merwe nou die moed en selfvertroue wat met die ouderdom kom en gesels sy oor Franschhoek, waar sy en haar man, George, kom anker gooi het.

In die Kaap is die minute langer. Dis asof jy hulle kan eet, happie vir happie. Nie soos in Johannesburg, sê sy, waar elke minuut is soos om ’n hele plak sjokolade in jou keel af te gooi en te hardloop nie.

Anna-Mart van der Merwe sit afgeëts teen die wingerde waar sy uitkyk by die venster van die statige 18de eeuse herehuis op die 23 hektaar landgoed van die Grande Roche Hotel in die Paarl. Dis ’n wolklose wintermiddag in die Drakenstein¬vallei – só mooi dat dit voel of dit kan breek.

Netnou, tydens haar hoeveelste voorblad-fotosessie, was Anna-Mart blink gegrimeer, ge-Polo en ge-Pringle; die toonbeeld van tydlose tydskrifsjiek. Nou, in haar eie grys jas en blomrok, sou sy van oudword ’n modegier kon maak: Sy lyk nie ’n dag ouer as 34 nie, met net die fynste spore van lagplooie om die vol lippe en blougrys oë.

Dié boorling van Vredendal het steeds die kenmerkende Weskus-aksent, haar klanke vol son en wind en klip. Soos dikwels praat sy sonder punte of kommas oor die Kaap en Franschhoek, waar sy en haar man, George, amper drie jaar gelede kom anker gooi het.

“Dis ’n plek waar jy kan doodgaan,” sug sy tevrede. “As ek in daai vallei inry, dan voel dit altyd asof ek huis toe kom. Jy kan veilig daar sit en kyk na die wêreld, en as dit so ’n bietjie rof gaan, slaan jy jou oë op na die berge.”

Op 49 (sy’t verjaar op 9 Augustus) hét sy immers tuisgekom. Maar dis baie meer as bloot ’n geografiese gegewe, verduidelik sy. “Dis ’n emosionele tuiskoms in terme van ouderdom.”

Vergete is die storm en drang van haar jeug; haar mislukte huwelik van tien jaar met haar mede-akteur Philip Moolman en haar 24 jaar in Johannesburg: eers as die-nuweling-waaroor-almal-praat by Truk en later as die ster van talle TV-reekse en films.

“Toe ek veertig geword het, was dit vir my baie lekker, want ek het skielik besef ek staan nou hier op ’n muur. Die laaste stretch is nou vorentoe, en iets daarvan was vir my totaal bevrydend.”

Ná veertig het die selfvertroue gekom om stil te staan, skoon te maak, asem te skep. Soos nou, ná ’n “histeries besige” lente, somer en herfs waar sy soos ’n trekarbeider tussen teaters in Johannesburg, die Klein-Karoo, Nelspruit en die Kaap moes pendel.

Dit het begin met ’n pantomime in Johannesburg – ’n uitmergelende vier maande-speelvak as die Goeie Fee in Janice Honeyman se Cinderella – en geëindig met ’n hoofrol in Pieter-Dirk Uys se satiriese komedie, Die Van Aardes van Grootoor, by die Innibos-kunstefees.

Nou skep sy asem voor sy einde Julie die tweede episode van Die Boland Moorde skiet, waar sy in die skoene van die ryk wynweduwee, Elise van Vuuren, klim.

Hoe hou sy kop bo water?

Deur terug te keer na Anna-Mart, sê sy sonder om te dink. Háár lewe, háár ID-nommer. “Dis hoekom ek bly is ek het op Vredendal grootgeword. My anker is eenvoudig agterdeur, stoeptrappie,
koffie, Marmite-broodjie. Daar is dit, dan is ek terug.”

Met die ouer word het sy ook meer moed om te sê: Kan nie meer nie, moet nou stilstaan. “Tevore het ek net aangegaan, aangegaan, want jy gee alles vir die werk wat jy doen. Nou, juis omdat ek weet wat die werk van my verg en wat dit met my kop en my gesondheid laat gebeur, het ek die selfvertroue om soms weg te stap. Dis hoekom ek kon Kaap toe skuif en afskaal. Prioriteite regkry.”

Haar glimlag het die tydloosheid van ’n Boere-Mona Lisa. “Ek is nie die somtotaal van my werk nie en ek wil ook nie doodgaan as iemand anders nie. Ek kan op my doodsbed lê en ek kan vir jou al die fasette van my wys via die karakters wat ek gespeel het, maar wat ek is, is nie daai nie. Dit sou ’n minagting van die feit wees dat ek ook net mens is en lewe gegee is.”

Die trek Kaap toe in 2009 was in dieselfde jaar as haar troue met George  – die Zimbabwiese sakeman wat die akteurspaar Susan Danford en Stephen Jennings in 2000 aan haar voorgestel het. Dié troue was eintlik “doodgewoon boring”, lag Anna-Mart. Sonder ’n rok of ringe of ’n formulier of gaste. Niemand het iets gemis nie, niks ge-sensasie nie. ’n Huweliksbevestiger het vir hulle twee vrae gevra in ’n huis in Johannesburg en toe moes hulle ’n dokument teken.

“Nee, ek sweer voor een Here, soos ek altyd gesê het: Ons wóú nie troue hou nie. Been there, done that, got the T-shirt, maar ons het albei besluit ons wil dit graag wettig maak, want ons sou graag saam wou ouer word.

“Ons is baie rustig in ons verhouding en ons voel getroud en ons huweliksherdenking is die dag toe ons ontmoet het en besef het iets gaan gebeur.”

Die trekkery Franschhoek toe was ’n ses-jaar-avontuur. Vakan¬sies in die Kaap het hulle vanaf Woodstock tot Wellington gesoek en uiteindelik op ’n dorp besluit nie verder as ’n uur vanaf Kaap¬stad en die lughawe nie.
“Niks kom sonder dat jy ’n bietjie moet opoffer nie en opoffer is goed, want dit beteken jy skep ’n vakuum sodat iets kan vol word,” mymer sy.

Saam met die trek het hulle besluit om die ritme van hulle lewens te verskuif en meer “in blokke te werk” en dan te rus. “Soos jy ouer word, wil jy wees waar daar amper ’n bekendheid is en ’n gemak. Om omarm te word deur jou omgewing.”

Dit pas dus dat haar voorouers Franse Hugenote is. Die Anna Prevot, oorspronklik van Calais, na wie sy vernoem is (sy’s Anna Martha Prevot van der Merwe) het met ’n Schalk Willemszoon van der Merwe getrou. Dié paar het hulle in die laat 17de eeu op ’n plaas in die Drakenstein gevestig.

Dis hier waar sy die trappe van vergelyking geklim het van die vrou-wat-haar-bekommer (een wat soms sommer agter ’n boom gaan wegkruip het) tot die vrou-wat-(meestal)-weet-wat-sy-wil-hê.

Sy rol haar oë. “Ek kan baie selfkrities wees. Spesifiek oor werk, maar ook in my eie lewe. Daarom vind ek nou ek is beslis baie meer in beheer. Om daai goed van jouself te erken en om lief te wees daarvoor. Jy eien die situasie en gaan aan.”

Sy aarsel.

“Die punt wat ek wil maak is, ek hoef nie meer te verduidelik nie. Partykeer is die rede hoekom jy ’n ding doen ’n instinktiewe kennis in jou lyf, in jou psige, in jou wese; jy kan dit nie eens vir jouself verwoord nie, maar jy kom al hóé lank met die proses. Uiteindelik mag jy vreesloos besluit, want jy is verantwoordelik vir jou lewe, slegs jy.”

Dalk is dit omdat sy van jongs af besef het dié lewe is ondanks én danksy die dood. Toe sy elf jaar oud was, is haar ma, Reyna, op vyftig dood aan haar hart.

 “As ek nou sê dit was ’n laagtepunt, dan wil ek nie sê ‘Oh woe is me, ek wil nou snot en trane huil nie’. Dis meer omdat ek besef dit het my op ’n baie jong ouderdom taamlik sinies en fatalisties gemaak. Jy dink as kind jou ouma en oupa is die eerste linie bome, dan jou ouers en dan jy. Ek het nie oumas of oupas geken nie, so my enigste linie was my ouers.”

Sy kies haar woorde versigtig. “Aan die ander kant het dit my baie onafhanklik gemaak en ek is baie bly daaroor, want ek is baie happy op my eie en ek kan die lewe aanpak op my eie.”

Tog, toe haar pa ’n paar jaar later sterf, óók hart, het sy haarself al hoe meer begin buffer.

“Jy laat nie mense in nie, en dis ook nie altyd goed vir my werk nie. Nou moet jy tonele speel en in elke tweede toneel moet jy huil, en dan wil jy sê: ‘Ag, honestly people. Mense wat rêrig swaarkry, jy flippen huil nie!’ Mense wat rêrig suffer, ek belowe jou, is sterker as wat jy dink.”

Die wintermiddag buite word sag. Sy bly ’n oomblik stil. “Gelukkig is my werk amper soos terapie. Baie van die werk wat ek gedoen het, het my gehelp op sielkundige vlak.”

Voor ons groet, onthou sy die Edvard Munch-uitstalling tydens een van haar talle reise. In die galery het sy gaan stilstaan by ’n skildery van ’n man in ’n boot saam met ’n geraamte. Dis tóé dat sy besef die dood is “die een faithful companion”; een wat jy nie hoef te vrees nie.

“Eintlik is die lewe nie ’n onbekende nie, want al ons stories eindig dieselfde. So dis oukei.”

Sy knik. “Ouer word het iets daarmee te doen dat jy weet dis daar en dat jy die eerste keer fokus op tyd wat daar ís. Om by die venster uit te kyk na hierdie ding lewe. En snaaks genoeg, dat die weggaan vir werk, wat so ’n akute, wonderlike lewenservaring ook is… dat ek partykeer, as ek eindelik by die huis kom, dink: Maar hoeveel tyd is daar oor?”

Sy staan op, ’n wysgeer van die Weskus wat al baie lewens geleef het. “Dis nie angs nie. Dit maak dit baie spesiaal dat die geraamte ook in die bootjie sit.”  

My anker is eenvoudig agterdeur, stoeptrappie, koffie, Marmite-broodjie. Daar is dit, dan is ek terug.”


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-25°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Cool. PE: 12-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Java Developer

Pretoria East
DAV Professional Placement Group

Civil Engineer

Johannesburg CBD
DAV Professional Placement Group
R1 000 000 - R1 300 000 Per Year

C# Developer ( Hire Resolve )

Johannesburg South
Hire Resolve

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!