Anti-held soos min... André Stander

2013-02-23 23:01

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dít was André Stander, ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse polisiediens, wat in die 70’s en 80’s banke op ’n streep beroof het – dikwels onder die neuse van die polisie. Met Stander, Charles J. Fourie se eenmanvertoning binnekort weer by die US Woordfees te sien, onthou die oud-misdaadjoernalis De Wet Potgieter hoe dié bende destyds joernaliste en koerantlesers se verbeelding aangegryp het. Hy vertel.

“Okay, I give up!”

André Stander gooi sy hande in die lug en gaan lê uitasem op die grond, die fiets waarmee hy netnou nog probeer wegjaag het, eenkant gegooi. Maar toe die polisieman,
haelgeweer oorgehaal, nader kom, spring Stander skielik op, gryp die polisieman in ’n stoeigreep en kry die geweer in die hande. In die harwar gaan ’n skoot af. Die polisieman retireer tot teenaan ’n heining, sy eie geweer nou op hom gerig. Toe pluk hy sy .38-diens- pistool uit en skiet eerste; vier keer druk hy die sneller. En die berugte windbol-bankrower met die hangsnor en voorliefde vir Porches en prostitute bloei dood in ’n nat straat in die nag in Florida, Amerika.

We don’t mess around with robbers over here,” was op 13 Februarie 1984 die eerste amptelike bevestiging dat een van Suid-Afrika se mees enigmatiese rampokkers dood is, duisende kilometers van sy geboorteland.

André Stander en sy bende was so anti-establishment dat hulle kultusstatus bereik het. Dit was in die donker dae van apartheid. Ek was toe assistent-nuusredakteur by die
destydse Johannesburgse dagblad Die Vaderland, en halfvyf die oggend het twee hopies teleksberigte van internasionale nuusagent-skappe al op my lessenaar lê en wag.
 
Bo-op die breaking news-hopie was een van Reuters wat my oog gevang het. ’n Suid-Afrikaner is deur die polisie in Fort Lauderdale in Amerika doodgeskiet. Toe die redakteur, Harald Pakendorf, by my aankom met sy kenmerkende kug en gebruiklike “Goeiemôre, al ’n hoofberig?” stop ek hom die teleks in die hand...

Daardie oggend was dit ’n geskarrel soos min in die nuuskantoor, met ’n voorblad, binneblad en plakkate wat vir die storie uitgehou is. Ek het die misdaadjoernalis Johann Verster sommer in die gang geskraap: “Kry jou gat in rat en kry die polisie in Fort Lauderdale in die hande!” 

Met die opwinding en entoesiasme tasbaar het my gedagtes teruggegaan na drie maande tevore toe ’n spesiale taakspan van die polisie op die bende se wegkruipplek in Houghton toegeslaan het. Net een van die bendelede, Patrick Lee McCall, was in die huis. McCall het gelê en slaap toe die polisie die huis omsingel en skokgranate deur die vensters gegooi het. Een van die granate het langs hom op die matras geval. Hy’t dit opgeraap en teruggegooi. Maar toe die stof gaan lê het, was McCall dood. Hy het verkies om homself te skiet pleks van in die hande van die polisie te beland...

Dit was nie moeilik om die oggend van Stander se dood kommentaar van die Suid-Afrikaanse polisie te kry nie. Anders as vorige kere, toe hulle altyd nors en onwillig bevestig het die Stander-bende was weer suksesvol, was hulle nou skoon grootmond oor die “reuse-deurbraak”.

Die Vaderland se plakkaat was kort en kragtig: “André Stander geskiet.” Een van ons topverkopers ooit.

STANDER was ’n produk van die destydse Suid-Afrika onder die ysterhand van die Nasionale Party, die Broederbond, die NG Kerk en sy generaal-pa, wat gesorg het dat hy ’n polisieman word nadat hy matriek pluk. Hy het sy werk gehaat. Sy huwelik was – vir die tweede keer – aan ’t verbrokkel.

Dit het alles in 1977 begin.

Een afdag vlieg hy van Johannesburg na Durban, sit ’n vals baard en pruik op, huur ’n kar en versoek die mooiste meisie in die bank sjarmant om sy drasak vol te maak. Hy sê dankie en stap doodluiters uit voordat enigiemand anders as die kassiere iets kan agterkom.

Dit word ’n gewoonte. Eenkeer hou ’n veiligheidswag selfs die deur vir hom oop.

Daar word beraam Stander het in drie jaar weggekom met sowat R100 000 (terwyl ’n middelklasbestuurder destyds sowat R2 000 per maand verdien het).

Maar toe praat hy sy mond verby terwyl hy dronk is. Hy spog by ’n vriend en voormalige spioen van die Buro vir Staatsveiligheid, Corrie van Deventer, oor sy 40 rooftogte.

Van Deventer en ’n senior kollega agtervolg hom en in Januarie 1980 sien hulle hoe Stander iets uit ’n motor op die Johannesburgse lughawe haal. Die volgende oggend is daar weer ’n bankroof in Durban. Met sy terugkeer vind die polisie R4 000 en ’n vuurwapen in sy koffer. Stander word summier in hegtenis geneem.

Op 6 Mei 1980 word hy in die Durbanse hooggeregshof skuldig bevind op 15 aanklagte van gewapende roof en vir 17 jaar tronk toe gestuur. Maar dis hier, in die Zonderwater-gevangenis, waar hy sy twee jonger “kollegas”, die aggressiewe bankrower Allan Heyl en die senuweeagtige kardief Patrick Lee McCall, ontmoet.

Stander en McCall word op 11 Augustus 1983 saam met vyf ander gevangenes vir rug-behandeling na ’n fisioterapeut in Cullinan geneem. Daar oorrompel hulle drie bewaarders, neem hulle vuurwapens af en dwing die fisioterapeut om haar motorsleutels vir hulle te gee... Twee maande later bestorm hulle die vaktoetssentrum by Olifantsfontein om Heyl te bevry en  jaag weg in ’n Ford Cortina, Heyl op die agtersitplek.

Vir die volgende paar maande het die Stander-bende Johannesburg behoorlik onder beleg. Hulle beroof soms tot vier banke op een dag. Van November 1983 tot middel-Januarie 1984 voer hulle 20 rooftogte uit.

Stander se bejaarde pa hou vol sy seun sal nie moor nie, maar besef die polisie sal hom moet skiet.

“Ek ken my seun. As hy in ’n hoek gedryf word, sal hy nie maklik sonder geweld oorgee nie,” sê hy in ’n onderhoud. 

Die lewe is vinnig; die meisies, drank en kaviaar volop. ’n Rits luukse-blitswaens, selfs ’n gesteelde kanariegeel Porsche Targa, is in die oprit van die bende se veilige huis in Sesde Laan, Houghton, geparkeer – een van drie sulke huise. Die manne eet elke aand in restaurante, koop net die beste klere en vermaak hulleself openlik met hoëklas-prostitute.

Maar dinge begin warm raak. Die eerste foto’s van die drie verskyn in koerante. Hulle onderhandel om ’n luukse seiljag, die Lily Rose, in Kaapstad te koop. Teen die einde van Januarie 1984 is Stander op pad Florida toe met ’n vals Australiese paspoort as ene Peter Harris om vasmeerplek vir die Lily Rose te reël.

In dié tyd slaan die polisie op die Houghton-huis toe ná ’n wenk van ’n prostituut. McCall kruip in ’n linnekas weg waar hy later dood gevind word. Heyl skuil in ’n ander huis in Houghton en vlug daarna, hare kort geskeer en met ’n Duitse aksent, Griekeland toe.

In Amerika word Stander van die pad afgetrek omdat hy in sy tweedehandse oranje Ford Mustang ’n rooi lig verontagsaam het. Daardie selfde nag breek hy by die skut in en steel sy Mustang terug. Die Amerikaners ruik lont.

Die volgende aand omsingel ’n taakspan van die polisie Stander se blyplek. Halfelf kom hy daar aangery – op ’n fiets. Michael van Stetina is die polisieman wat hom konfronteer – en skiet. Stander sterf op die naat van sy rug, geboei, in die helder ligte van ’n polisievoertuig vóór die aankoms van die ambulans...

NIEMAND weet werklik waar dinge in sy lewe skeefgeloop het nie. Tot met sy dood was hy baie lief vir sy eerste vrou, Leonie (Bekkie), met wie hy twee keer getroud was. Sy neem etlike jare ná sy dood in Oktober 1992 haar eie lewe weens depressie.

Heyl vlug Engeland toe, maar word aangekeer en nege jaar lank tronk toe gestuur ná ’n rooftog. Met sy vrylating in die middel 1990’s dien hy ’n verdere vonnis tot 2005 in Suid-Afrika uit voor hy vrygelaat word op parool. Heyl is nou 61 en ’n motivering- spreker.

Destyds het Heyl Stander beskryf as “yskoud”, “berekend” en “emosieloos”.

Maar: “Daar was nie ’n Stander-bende nie, dis ’n mite,” sê hy verlede maand in ’n telefoniese onderhoud. “Julle joernaliste skryf mos nooit die waarheid oor ons nie. Ons was nie helde nie, ons was misdadigers.” 

* Lees ook: VIDEO: Om Stander te word

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 18-24°C High level clouds. Mild. Pta: 12-26°C Mostly sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 11-21°C Morning clouds. Mild. Bfn: 10-24°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 18-28°C Afternoon clouds. Warm. PE: 16-21°C Mostly cloudy. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!