Ballerinas in die kryt
2012-09-12 14:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Stories is die heel belangrikste ding in die wêreld, het Philip Pullman (His Dark Materials) eenkeer gesê. Hy meen sonder stories was ons nie mense nie. Hy’t ’n punt: Hoeveel sebras vertel vir mekaar staaltjies om die watergat oor daai keer toe die leeu hulle amper gevang het?
Deesdae is dit veral stories wat sonder woorde vertel word wat my aan die dink het, soos in ballet, waar jy die narratief dra deur jou bewegings.
Dink aan ’n ballerina wat ’n pirouette uitvoer, arms bo die kop, tone gepunt, om haar geluksalige toestand oor te dra.
En dan is daar rofstoei.
Rofstoei, wanneer dit goed gedoen word, is ’n kunsvorm. Dis wêreldklas-sportmanne wat deur iets so simpels soos ’n vlieënde elmboog die ewige stryd tussen goed en kwaad probeer kommunikeer.
Ja, rofstoeiers praat, maar die beste van hulle het nie woorde nodig nie.
’n Goeie heel (dis rofstoei-jargon vir die slegte ou) sal onderduimse taktiek gebruik, soos om die babyface (die goeie ou) in die klokke te wiks terwyl die skeidsregter elders kyk. ’n Goeie heel sal, terwyl die skeidsregter wel kyk, die reëls buig tot op breekpunt, die ander stoeier uitlok om self die reëls te verbreek (en sodoende gediskwalifiseer te word), en sommer die kykers ook die josie in maak.
Ja, dis gewelddadig. Ja, dit teer op die laagste gemene deler. Maar dit kan ’n bedonnerde storie vertel.
Darren Aronofsky, regisseur van die bekroonde Black Swan én The Wrestler, stem saam. Hy meen dié twee flieks is twee kante van dieselfde munt, as ’t ware. Dat, hoewel sommige rofstoei as “die laagste kunsvorm” en ballet as “die hoogste kunsvorm” beskou, kunstenaars in altwee dié dissiplines hulle liggame wonderlik aanwend om hulleself uit te druk.
Stories maak en hou ons menslik. Met of sonder woorde!
Leon-Ben Lamprecht is ’n joernalis by Weg!.