Bevryding op die platteland
2011-11-26 15:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
My skoonmense het 11 jaar gelede in Riggstraat nesgeskop en in hul huis, wat net een erf weg is van die aangrensende wingerde, word jy elke oggend deur die voëls wakker gesing.
Maar toe hulle onlangs oorsee gaan rondloop, onthou ons dat ons verlede jaar met die Wacky Wine Weekend gehoor het van Hilda-Mari Jonker, van die plaas Jonkheer buite die dorp, se nuwe gastewoonstel. Ons pak sommer in die middel van die week kantoor op en vlug vir ’n paar dae Bonnievale toe.
Benewens dat die plaas een van die spogwynplase in die streek is, het Hilda-Mari ook vanjaar saam met haar man, Dirk, Oosterse meubels begin invoer en dié word ook op die plaas tentoongestel. Die gastewoonstel dien ook as luukse vertoonkamer as daar nie gaste oorbly nie.
Geen besoek aan Bonnievale, aan die oewer van die Breederivier, is vir my volkome as ek nie my leë konfytflesse op die plaas van Helmut en Waltrude Wulfarter gaan volmaak het met plaas-heuning nie.
Die rit soontoe op die grondpad, met beeste en perde wat rustig in hul kampe staan en wei en die berge as perfekte agtergrond vir die grasgroen weiding, is opsigself ’n bevryding.
Ons loer ook graag by die Bonnievale Slaghuis in vir lekker Karoo-tjoppies en wors, en nadat ons die motor se kattebak leeggemaak het by die gastehuis, is dit tyd vir rondkrap by “Mauritz se winkel”, wat vir diegene wat nie weet nie, bekend is as die Bonnievale Handelshuis. As jy nie ’n tweedehandse boek kry nie, loer gerus tussen die ou breekware, koop ’n emaljepot?… of hoe lyk dit met ’n bal-en-kloupoot-lessenaar wat jy by die huis kan gaan verf en ’n nuwe lewe gee?
Jy kan ook vinnig inloer by die dorp se museum, wat in private besit is, en laat die nostalgie jou beetkry by die Danie le?Roux-versameling, terwyl jy skons en room met ’n teetjie afsluk.
Maar dis terug op die plaas waar jou kop rus kry. Smiddae sit ons op die dek by Jonkheer, kyk tussen die twee reusagtige bome uit oor die wingerde en saans sit ons laat met ons glase yskoue Es La Vida en sterre kyk.
Een middag kom klop Hilda-Mari se skoonsuster en buurvrou, Annami, aan en bied aan om ons Bakenskop te gaan wys. Die koppie bied ’n onbelemmerde uitsig oor die vallei. Annami wys waar haar huis op die plaas BakenOord lê en ons drink Bakenskop Muskadel terwyl die son daar in die rigting van Robertson agter die berge verdwyn.
Jy kan ook met jou besoek aan die dorp jou hand in een van die omliggende damme aan vlieghengel waag, visvang by Outdoor Arena of gholf speel, ’n kano huur en op die rivier gaan roei of ver tussen die wingerde gaan stap. Dis ook ’n fietsryer en voëlkyker se droom.
Bonnievale is deel van die Robertson- wynroete. Die verskeidenheid wynplase om die dorp is legio, maar ons gaan gereeld by Van Loveren inloer, want hul wynproe is sommer ’n uitstappie. Die landgoed se bekende vier moderne, spierwit gewels staan in sterk kontras met die helderrooi en oranje kannas wat buite langs die pad na Robertson waghou.
Jy sit onder die bome voor die kelder by jou eie tafel en vra vir watter wyne uit die 25 wat beskikbaar is, jy wil proe. Jy word in vrede gelaat om te proe, maar intussen word daar sommer saam met die tafel langsaan gekuier en die personeel dra elke Saterdag varsgebakte suikermielie-koekies aan, waaraan jy kan weglê so tussen die sopies wyn deur.
Gedurende ons besoek is ek kort-kort terug skuur toe met my wenslysie van meubels, matte en skilderye wat ek begeer, maar helaas verlaat ek die plaas met slegs wyn en granaatsap. My man se sin vir die praktiese (en redelikheid) het geseëvier!
Ná drie dae van saligheid vul ons die brandstoftenk ná ’n lang ontbyt op ons dek, met die mis wat laag oor die wingerde hang. Terwyl ons wag vir kleingeld van die petroljoggie, vang my oog ’n klein plassie water op die vulstasie se sementvloer. ’n Papnat mossie skud die druppels van sy vlerke af, terwyl hy in die sonkolletjie probeer bly om gouer droog te word. ’n Mens sien regtig die klein dingetjies raak as jy tyd maak om rustiger te wees.
Kitsfeite
* Die Wacky Wine Weekend word van 7 tot 10 Junie 2012 op plase in die Robertson-vallei gehou en sluit wynplase van so ver as Ashton, Robertson, McGregor en Bonnievale in. Meer inligting by wackywineweekend.com.
* Bespreek ’n wegbreek na Jonkheer by Hilda-Mari Jonker by 082 575 6410.
* As jy op BakenOord wil oorbly, bespreek by Annami by 082 434 7509.
* Vir meer inligting oor verblyf op plase in die Bonnievale-omgewing, skakel 023 616 3563.