Dawid Minnaar: In die kop van Eugène Marais

2012-08-29 10:42

"Ek het oor die pad gestap en skielik ’n gevoel gehad van hiér het hy geloop, hiér het dit gebeur…” Foto: Jan Ras

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Hy lig sy voorvinger, delikaat gepunt, die middelvinger en duim raak amper. Sy blou oë is gerig op die bobbejaanmannetjie voor hom. Roerloos sit dié, bek halfoop, oë starend.

’n Bries speel met die hare van sy pels, maar hy sit… asof in ’n dwaal.

“’n Mens noem dit mesmeraais,” sê hy later vir die meisie waar hulle in die veld hardgekookte eiers afdop. Om hulle is dit ruig en groen, die berge blou op die horison.“

Dawid Minnaar het nie Eugène Marais gespeel nie. Hy het hom geword,” sê Katinka Heyns van haar eerste fliek in 15 jaar, Die Wonderwerker. Die draaiboek deur haar man, Chris Barnard, dek ’n periode van net nege jaar aan die begin van die 1900’s in die lewe van hierdie joernalis, advokaat, digter, taalstryder, storieverteller, verkenner van die menslike psige, skrywer van die seminale Die siel van die mier en The Soul of the Ape – en morfienverslaafde.

Vir Chris was dit jare al ’n passie om oor Marais te skryf.

“Marais se briljante veelsydigheid aan die een kant en die vreemde skaduwees wat hy van vroeg af met hom saamgedra het – dit was asof die een die ander weerspreek. Sy hele lewe was ’n weerspreking.”

“Chris het ’n soort geslote ruimte geskep,” sê Katinka. “’n Huis en ’n werf oor een jaar. Aanvanklik is die karakters elkeen vasgevang in sy eie lewe. Dan ontvou die storie en die transformasie wat plaasvind, is so delikaat… Ek het die eerste weergawe van die draaiboek in 2001 gekry en was in trane.”

Die storie van Die Wonderwerker speel af op Gys en Maria van Rooyen se plaas Rietfontein in die Waterberg, ’n tydperk wat Marais in ’n stadium aan ’n vriend beskryf het as “die gelukkigste van my lewe”.

Vir bykans ’n dekade het hy hier in ’n stoepkamer gewoon en daagliks in die Bobbejaanskloof gaan stap om die termietneste en bobbejane te bestudeer.

Hy het geskryf, vriendskappe aangeknoop en boweal verlief geraak. Maar ná hy in 1916 weg is, het morfien sy houvas op hom versterk.

Hy het nooit na die Waterberg teruggekeer nie.

Twintig jaar later leen hy ’n dubbelloophaelgeweer onder die voorwendsel dat hy ’n slang wil skiet en loop die veld in. Die skoot in sy bors is nie noodlottig nie. Daarna druk hy die loop in sy mond en trek die sneller. Hy was 65 jaar oud.

“Ek onthou die dag toe ons by die plek was waar hy dood is,” sê Dawid. “Dit was ’n dag soos vandag, reënerig, mistig. Naby Brits, op Pelindaba, die plaas van sy vriend Gustav Preller. Ek het oor die pad gestap en
skielik ’n gevoel gehad van hiér het hy geloop, hiér het dit gebeur…”

Ons sit styf opgebondel in truie en serpe agterin die fotograaf se motor. Die ruitveërs is op volspoed, die vensters toegewasem.

Dawid het vroegoggend aangekom uit Johannesburg. Met ’n pet en sagte bruin leerbaadjie uit Spanje, swart leerskoene en swart jeans is hy reg vir die uittog: Om ’n stukkie aarde in die Wes-Kaap te gaan soek wat soos die Bosveld lyk sodat ons fotosessie kan aansluit by Die Wonderwerker.

Katinka het vroeër al laat weet ’n toneel, waar sy deur ’n mak tierboskat verlei is en later besef het dis te soetsappig, is vroeg vanjaar by einste dié plek in die Bontebokpark buite Swellendam oorgeskiet.

Dawid vertel hoe Katinka die eerste keer vir hom die draaiboek in 2006 gegee het.

“Ek het dit in een sessie in ’n Melville-restaurant deurgelees en geweet ek wíl dit hê. Daar was soveel aspekte aan Marais wat geresoneer het. Die feit dat hy nie ’n tipiese voorbeeldige, stoere Afrikaner was nie, maar ’n alternatiewe lid van sy ‘stam’. Eenkant. Stroomop.”

Ek kyk na die hardeband-skryfboek wat Dawid uit sy skouersak grawe, die bladsye vol notas in egalige kursief. Luister na sy mooi gemoduleerde stem en onthou die eenkant-jongman wat jare gelede saam met my eerstejaar was in drama aan die Universiteit Stellenbosch.

Die outjie met die slap groen trui en (dikwels) kaalvoete, laatlam van vyf kinders van ’n Namibiese boer. ’n Jaar ouer as ons, want hy’t met ’n BA in geografie begin. Hoe hy gesukkel het met sy aksent. Die dringendheid waarmee hy elke rol aangepak het. Die fokus. Maar ook hoe hy kon skaterlag.

En ek verstaan hoekom Katinka gesê het sy en Chris was so verlig toe hulle besef ná al die jare waarin hulle geswoeg het om geld vir hulle fliek te vind, is Dawid nog net so reg vir die rol van Marais as destyds.

“As daar een mite is wat ek sou wou nekomdraai,” skryf Chris in ’n e-pos, “is dit die indruk wat dekades al bestaan dat Marais ’n somber, donker en morbiede mens was. Hy was nie. Hoekom het so baie vroue op hom verlief geraak?”

“Hulle was wel bang ek sou te oud vir die rol wees,” sê Dawid. “Gelukkig het Chris my in Binne¬land gesien en gedink ek lyk ‘goed’. Ek drink nou al vir twee jaar nie meer nie – en ek kón kuier! Ek rook ook nie meer nie.” Hy skil die papier van ’n sesamsaadstafie af.

“Dis belangrik, want Marais was ’n mooi man, hoor. Gesteld op sy voorkoms. Op foto’s was hy altyd onberispelik aangetrek.”

Een van die eerste dinge wat Dawid gedoen het om die rol “soos ’n baadjie aan te trek”, was om Leon Rousseau se biografie van Marais, Die groot verlange, te lees. Twee keer. Toe Marais se versamelde werke, albei dele.

“En dan wend jy jou maar tot tasbare goed: Hoe hy op foto’s gelyk het – altyd so regop, met die hakke bymekaar. Wat mense van hom gesê het: sy ‘goeie maniere’, sy ‘mooi blou oë’ – die blou kontaklense het my nogal ontsenu... Die feit dat hy ’n bietjie van ’n houdinkie gehad het. Toe hy in Pretoria gewoon het ná vyf jaar in Londen was daar ’n boemelaar wat na hom as Die Prins verwys het.

“Tog het Marais nie bevoorreg grootgeword nie. Hy was die jongste van 13 kinders van ’n witboordjiemisdadiger. Sy pa, Jan Christiaan Nielen Marais, het geld verduister en is onder huisarres geplaas.

“Op 16 het hy matriek gemaak en as 19-jarige was hy redakteur van Land en Volk, die enigste Pretoriase koerant wat president Paul Kruger teengepraat het.

“Ná die dood van sy jong vrou, Aletta of Lettie Beyers, aan kraamkoors agt dae ná die geboorte van hulle seuntjie, was hy verbitterd. Hy kon nie vir sy kind alleen sorg nie en het dit oorgelaat aan sy ouer suster, Sophie.

Twee jaar later, in 1897, is hy Londen toe om regte te gaan studeer. 

“Ek het fototjies van sy vrou gesien – sy was pragtig, met mooi donker oë en ’n dun middeltjie. Uit my leeswerk het dit gelyk of hy nooit oor haar dood kon kom nie. Daar was altyd vroue in sy lewe, dikwels jong vroue, ’n cockney-prostituut in Londen byvoorbeeld, en dit was of hy altyd na Lettie in ander vroue gesoek het.

“Marais, ’n fynbesnaarde mens, het al van vóór sy vrou se dood morfien gebruik. Glo vir slapeloosheid en ooreising. Dit was iets wat ’n mens daardie jare oor die toonbank kon koop. Sy seun, Charles, het weer gesê sy pa het gesê hy ly aan neuritis, ’n pynlike ontsteking van die senuweevesels, en dat hy morfien gebruik om die gevolge teen te werk.

“In die Londen van die sogenaamde ‘naughty nineties’ het Marais ’n eksotiese lewe gely. Dit was die tyd van opium-hole, van Darwin en Freud. Dis waar hy geleer het omtrent hipnose, waar hy mediese kennis opgedoen het al het hy in die regte studeer.

“Hy’t ook ’n baba-sjimpansee aangeneem, wat hy Sally gedoop en soos ’n kind in sy woonstel groot-gemaak het. Later ’n marmoset-apie.

“In Brooklyn in Pretoria, waar hy in ’n kothuis gewoon het voordat hy Waterberg toe is, het hy ’n mak skerpioen gehad en veghoenders.

“By tye was dit oorweldigend om te dink ek moes in die kop klim van dié man. Ek het my soms betrap dat ek dink ‘Hel, dis Eugène Marais’. Maar die feit dat ons in die Waterberg kon skiet, ’n hanetree van Rietfontein, het dit makliker gemaak.

“Dit, en die klein tydraam van Chris se draaiboek: Marais, wat siek aan malaria by die gesin aankom en uiteindelik daar intrek. Die 17-jarige aangenome dogter, Jane Brayshaw, wat hy daar ontmoet. En die naamlose verlange, altyd die naamlose verlange na iets… ”

By die Bontebokpark sif die reën steeds. Die Honda se agterstewe gly soos ons die draai na die koppie vat. Dawid sit vorentoe. Hy herken die omgewing. “Dis hier,” sê hy.

Toe ons stilhou, trek die wolke oop en ’n waterige son kom uit. Om ons suis die stilte. ’n Groot doringboom staan eenkant, die pendorings wit afgeëts teen die stam.

Dawid ruik die lug. “As ’n Namibiër bly die reuk van reën iets spesiaals,” sê hy. Hy gaan kuier nog gereeld op die familieplaas, Rooikam, naby Helmeringhausen, waar sy ouer broer Tiekie deesdae boer. Albei sy ouers is lankal oorlede.

Op pad terug is die atmosfeer loom. Dawid onthou af en toe iets: Hoe Marais bevriend was met Ebrahim Ravat van Nylstroom, by almal sommer bekend as “Abram Koelie”; hoe hy met die “remittance men” (swartskape van prominente Britse families, wat na die kolonie gestuur is sodat hulle uit die oog kon skande maak) in Naboomspruit se Orient-hotel tot twee-uur die nag sou poker speel; die keer toe hy morfien¬onttrekking gekry het tydens ’n jagtog – “nie ’n aangename gesig nie”.

Tog noem hy een toneel nie, die een waar die toneelaanwysing in die draaiboek bloot sê: “Eugène skink Chlorodine in ’n glas en drink dit.”

Die aanloop, sê Katinka, is die keuse wat Marais moes maak omtrent Jane, die eenvoudige plaas¬meisie op wie hy verlief geraak het; die feit dat hy dieselfde aand nie ’n sterwende kind se lewe kon red nie; en dat hy deur die Van Rooyens gekonfronteer is met ongegronde beskuldigings.

“Ons het Marais toe al leer ken as ’n man wat soms – soos sy seun gesê het, hom ‘kapot’ kon lag as ’n ding vir hom snaaks was, wat die vermoë gehad het om die ‘onverklaarbare, onfeilbare goddelike sisteem’ in die natuur te sien, maar nooit die ‘naamlose verlange’ kon besweer nie.

“Dis die eerste keer wanneer ons hom sy masker sien afhaal – die gewonde heler wat homself nie kon heel nie.”

Met die verfilming van dié toneel, sê Katinka, kón sy nie objektief bly nie – “ek het net die kamera laat rol”. Ná die tyd het die kameraspan woordeloos na hulle sigaretpakkies getas.  

Die Wonderwerker se première is aanstaande Woensdag om 18:00 tydens die kykNET Silwerskerm-fliekfees in die Bay Hotel, Kampsbaai, Kaapstad.

“In Pretoria het ’n boemelaar Marais Die Prins genoem.”

Katinka Heyns sê die ooreenkomste tussen Dawid Minnaar en Eugène Marais – hulle voorkoms, intellek, kreatiwiteit én sin vir humor – was een van die wonderwerke van die fliek.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-24°C High level clouds. Mild. Pta: 11-27°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 10-22°C Sunny. Mild. Bfn: 9-28°C Sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 14-26°C More sun than clouds. Mild. PE: 12-23°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!