Die Storie: MANNE WAT BREI? (Grappies op ‘n stokkie)

2012-07-07 14:35

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

‘Iemand het vir my gesê hierdie kuns het ontwikkel uit die knoop van visnette deur Nordiese vissermanne in die Middeleeue. So, dis eintlik ’n mansbedryf.’
                                                    –  Barend de Wet

“’n Mens sou dink daar’s meer mense met wurms,” kom dit van Barend de Wet, ’n kunstenaar van Kaapstad. “Ek moes al die  pad Maitland toe om hierdie lot te kry.”

Die kartonboks wat Barend op die eetkamertafel neerplak, is vol wriemelende sywurms wat reeds die helfte van die kwota blare in hulle tydelike tuiste verorber het.

Gelukkig is daar  ’n enorme moerbeiboom sigbaar deur die sitkamervenster.

Barend het groot planne met dié blaarvreters. Sodra die kokonne gevorm is, sal hy sy draagbare spinapparaat van hout (aangeskaf op ’n onlangse trippie na Indië) uitpluk en begin spin.

Reg gelees: Barend spin. 

Diana, sy vrou, moet deesdae mooi kyk of haar hond genoeg hare het om hom deur die winter te dra, want deesdae kan haar man nie wag om sy hande op die hond se pels te kry nie.

“Is jy séker sy hare is nie te lank nie, Liefie?”

Om ’n bolletjie hondhaartou te weef gebruik Barend sommer ’n sogenaamde drop spindle, saamgeflans uit ’n deurstop, ’n stok en kombuishakie.

“Ek sal graag wil sien watse mooi goed ’n mens uit sywurmdrade kan spin,” sê hy met kinderlike opgewondenheid in die rigting van die sywurms.

Die spin-gier is ’n uitvloeisel van Barend se taamlik onlangse brei-gier. Verlede maand was van sy breiwerk-“skilderye” te sien in die nuwe SMAC Gallery in Kaapstad, en ander stukke word op die oomblik in Den Haag ten toon gestel as deel van The Rainbow Nation-uitstalling saam met ander Suid-Afrikaners soos Angus Taylor, Mary Sibande en Lien Botha. Barend is bekend as ’n ou vir giere. As een  hom beetpak, is hy die een wat nie sommer laat los nie.  Kyk maar na sy lyf – tatoeërmerke oral: die kunstenaar as lewende uitstalling. Daarna het hy die konsep om sy lyf as kunswerk voor te stel verder gevoer deur ’n obsessie met liggaamsbou. Die bonkigheid beur nou nog deur sy klere terwyl hy die sywurms vertroetel.

Maar as dit nie was dat giere hom só geboei het nie, het Suid-Afrika nou met een minder gesogte wêreldkampioen-titel gespog, dié van klimtolkampioen! Ná ’n verbete stryd in die VSA teen die heelal se bestes het Barend so ’n paar jaar gelede na Suid-Afrika teruggekeer as die trotse  eienaar van die Yo-Yo-wêreldtitel vir die verste gooi ooit in die “Shoot-the-Moon”-afdeling: ’n allemintige 8 voet 6 duim, in hulle taal.

Nou is dit egter brei en spin…

Die saadjie vir die brei-gier is gesaai toe sy ma hom jare gelede leer hekel het. Die progressie van een na twee naalde “in een gaatjie” was vir hom eenvoudig ’n kwessie van double your pleasure, double your fun. Diana het hom in die breikuns touwys gemaak.

“Onthou jy nog hoe almal tolletjie-brei op skool gedoen het?” vra hy en sê: “Dit kom natuurlik vir my. Kyk, waar ander ’n potlood of verfkwas of houtskool gebruik, gebruik ek wol as lyne. Ek skets basies daarmee.”

Die geraamde werke in sy huis in Tamboerskloof, Kaapstad, en dié wat nou in Nederland uitgestal word, projekteer helder, uitbundige vlakke in ’n Gauguin-agtige feesviering van kleur.

“Dis maar paintings,” verduidelik Barend. “Dis net tekeninge in ’n wol-medium.”

Hy’t dieselfde gedoen tydens sy staal-fase toe hy 6 mm-rondeyster gebruik het as sketslyne wat later in driedimensionele vorms geklee is.

Terwyl ons praat, gaan lê Barend op die rusbank met sy breinaalde. Hy’t ’n week gelede van ’n trap afgeval en sy been is steeds in gips.

“Ek weet nie of dit waar is nie,” lag hy, “maar iemand het vir my gesê hierdie kuns het ontwikkel uit die knoop van visnette deur Nordiese vissermanne in die Middeleeue.

So, dis eintlik ’n mansbedryf. Ek wil dit nou teruggee aan ons mans, terugbring na sy oorspronklike tuiste.”

Hy’s op ’n manier reg.

Die oorsprong van die Engelse term knitting lê weliswaar in die woord knot (knoop), of die  Nederlandse woord knutten.

Die moderne term is eers betreklik onlangs, tydens die 1400’s, by die Engelse woordeskat ingesluit en in die res van Europa tydens die Renaissance. Die meeste studies oor die oorsprong van brei plaas dit iewers in die Midde-Ooste, vanwaar dit deur die Mediterreense handelsroetes na Europa versprei het, en vandaar na die Amerikas.

Die oudste bekende voorbeelde van die kuns is in Egipte gevind en sluit kleurryke afvalstukke sowel as indigo en wit katoenkouse in, wat dateer uit 1 000 jaar n.C.

Van die kouse het dekoratiewe Arabiese seëninge en/of simbole in die patrone ingeweef om bose geeste af te weer.

Die eerste dateerbare stuk breiwerk in Europa is in 1257 in ’n verseëlde graf in Spanje ontdek, ook met soortgelyke seëninge. Spanje was toe nog onder Arabiese invloed.
Volgens die Britse breikunskenner Julie Theaker maak dit sin omdat ’n mens van regs  na links brei – soos Arabies gelees word.

Sekere kenners meen dus ’n mens kan met taamlike sekerheid aanvaar dat die kuns eers deur mans beoefen is. In die Arabiese gemeenskap was vroue destyds nie geletterd nie en sou hulle ook nie sommer toegelaat word om sulke belangrike take te verrig soos om geloofseëninge in kouse te borduur nie…  

PIETER VAN ZYL


Die Kaapstadse joernalis Pieter van Zyl het die breinaalde opgeneem toe hy so vyf jaar gelede wou ophou rook. Die klein blokkies wat hy geskep het om sy hande besig te hou het hy later begin saamflans om komberse te maak. Hy’t al meer as net ’n paar serpe vir kollegas gebrei!

“Brei is die nuwe joga,” sê hy trots. Hy’t onlangs in New York by ’n trendy trance club ingestap en daar sien hy hulle toe: Jong seuns en meisies wat saam sit en brei.

In goeie geselskap… Laurence Fishburne, Russell Crowe en Antonio Banderas is breiers, sê Pieter. Selfs Franklin D. Roosevelt was een.

“Dit vat niks van my manlikheid weg nie,” sê hy. “Almal by my local kroeg ken my al so met die naalde. As ons die middag iewers sit en rugby kyk, vat ek my breigoed saam.”

Wragtig…

DP Ferreira


DP het grootgeword op ’n Oos-Vrystaatse skaapplaas naby Bethlehem, so wol is in sy agtergrond ingeweef. Al woon hy deesdae in Knysna, waar hy ’n geleentheidskoördineerder is, stel hy steeds belang in natuurlike vesel en materiale – veral die verwerking van vilt fassineer hom. “Dis ’n delikate proses,” verduidelik hy.

“Om rou wol van die skeervloer af te vat en dit te kry tot op die punt waar jy dit soos klei kan vorm, is fassinerend.”

Die moderne era, sedert die industriële revolusie, het ons met ’n hunkering gelaat om iets met ons hande te doen, glo DP. En vir hom is dit brei.

Hy’t begin met wol en het alles van kussingslope tot onderbaadjies gebrei. Sy geliefkoosde medium is nou sybokhaar: “Suid-Afrika is die grootste produsent van mohair ter wêreld!”

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-17°C Morning clouds. Mild. Pta: 12-28°C Morning clouds. Pleasantly warm.
Jhb: 11-22°C Morning clouds. Mild. Bfn: 14-25°C More sun than clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 17-27°C More sun than clouds. Warm. PE: 14-20°C Numerous showers. Mostly cloudy. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!