Die gedierte in jou keel
2012-07-24 12:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit begin gewoonlik laatnag in daai sagte plekkie waar jou kakebeen se hoek jou gorrel groet. ’n Krieweling, soos ’n koors wat nesskop. Eers dink jy: Dis net die aandlug wat so koud by die venster inwaai, of ’n koekiekrummel van vroeër.
Maar dan sluk jy.
Die vreemde gediertetjie ontwaak uit sy sluimering en bestorm jou binne-oor met ’n warm spons in elke klou. Dié prop hy met ’n klotsklank agter jou oortrom vas en duik dan af, verby sy lêplek, om met die volgende sluk ’n mandjie turksvye in jou keel om te dop.
Hy kekkel van lekkerkry, trap wydsbeen teen jou mangels vas en wriemel sy skraal, harige armpies in jou sinuskanale op om jou neus met sy kneukels te knie totdat jy nies.
Jy draai om op die ander sy en bly vir nog ’n paar tellings lê – oë nou oop. Die asem stoot dan eensklaps so warm deur jou neus uit, en is dit sweet teen jou slape? Dié tyd van die nag?
Jy sluk weer, en die oor wat nou bo lê, word ook toegestop. Dan vlieg jy op, klap wild na die bedlampie se skakelaar, gee ’n versigtige kuggie. Nee, daar is darem nog nie ’n roggel nie. Jy strompel badkamer toe en vroetel met vaak vingers tussen die boksies, buisies en botteltjies in die kas rond. Alles wat oranje is, pak jy op die wasbakrand uit – gevolg deur die potjie Vicks, vir voorkoming.
Die derduiwel het nou sy intrek in jou vel geneem en jou polsgewrigte voel so dig.
Koue kraan oop, tinfoelie wat knars soos jy angstig kapsules uitdruk. Jy sluk die hele lot, gevolg deur ’n bruistablet en ’n paar Echinacea-druppels.
Maar jy weet: Jy kan net sowel ’n koppie kasaterwater wegslaan, want dié bliksempie gaan aanhou rinkink tot sy gô uit is.
Terug bed toe, plof neer.
Ons kan mense op die maan neersit, maar nie ’n simpel verkoue stuit nie. Iewers het iets skeef¬geloop…
Sophia van Taak is artikelredakteur by Weg!.