Die gezoem van die bye

2013-02-02 23:25

Skrywer en byeboer Jaco Botha en sy vrou, Ingrid. | Foto: Melanie Maré

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Vandag is ’n goeie dag om ’n byeboer te wees.

Dis wat ek dink terwyl die oggendson soos heuning deur die blare van die bos val. Uit die rigting van die strandmeer dra ’n seebries die reukreste van beekhout, stinkhout, maanblom, jasmyn en diep lae dennenaalde die bult uit.

Ek sit plat op my boude in die lang groen gras tussen die klompie byekorwe en my groentetuin. Die bye gaan hulle gang – geniet duidelik die rytjie sonneblomme wat ons vir hulle geplant het.

Om te kan skryf – iets van waarde – moet jy eers tot stilstand kom. Die wêreld om jou behoorlik betrag. Dis maar so met alle vorme van liefde betuig…

Reg in die middel van hierdie suiwer gedagte lui my selfoon. Dis my Regsgeleerde Vriend uit Sandton. Hy wil net hoor hoe ons op Knysna aanpas. Soos so baie van ons vriende vind hy dit amusant dat ’n TV-vervaardiger en geswore Johannesburger net so kon wortels optrek en met sy vrou en kat na Knysna in die Suid-Kaap versit.

Ek vertel hom van die groente en bye waarmee ek deesdae boer. My Regsgeleerde Vriend vertel op sy beurt van die regsposisie rondom die eienaarskap van ’n by.

Volgens die Corpus Juris Civilis (regsgeskrifte uit die sesde eeu n.C., wat in opdrag van keiser Justinianus opgestel is) is bye van nature wild. “Indien ’n by dus in jou boom tot ruste kom, is hy nie noodwendig jou eiendom nie – tot tyd en wyl jy hom hokslaan.”

Indien daardie by egter weer wegvlieg en iemand anders bou vir hom ’n hok of ’n korf, word hy daardie persoon se eiendom.

Terwyl my ou vriend oor Justinianus en die bye uitwei, hoor ek oor die foon die gezoem van Johannesburg op die agtergrond – die skel van sirenes en die brom van tallose motoriste te midde van die rotresies.

Ek is skielik diep dankbaar oor ons halsoorkop besluit van ses maande gelede. Maar laat ek eerder by die begin begin…
 
NÁ ’n moeilike jaar in die TV-bedryf het ek en my vrou, Ingrid, ’n vakansie nodig. My niggie bied haar huis op Knysna aan en ons pak die kar vir twee weke in die paradys. Kaneel, ons kat-seuntjie, moet natuurlik ook saam en drie dae, 1 500 km en vier katkalmeerpille later kom ons in Eden aan.

Miskien is daar iets in die lug wat mense wêreldwyd terugdryf aarde toe. Miskien is dit die feit dat ek in hierdie jaar veertig geword het. Maar op die Sondag voordat ons moet terugry Johannesburg toe, kyk ek vir Ingrid en ek sê:   “Ek sien eenvoudig nie kans om weer terug te ry met Kaneel nie – sal ons nie maar eerder net hier bly nie?”

“Oukei,” sê sy en die saak is beklink.

Ek bel vir Henry, my film-vennoot, en vra of ons sy kleinhoewe hier buite Knysna kan huur. Hy stem in en ’n week later is ons ingetrek in die klein plaashuisie met sy groot kaggel en baie boeke. Ingrid vlieg terug Johannesburg toe en pak al ons goed daar op. Nog drie weke later en ons het ’n CX-nommerplaat op ons kar.

Om net so wortels op te trek en te verskuif is natuurlik makliker gesê as gedaan. Daar is nie soveel werk vir ’n TV-vervaardiger op ’n dorp soos Knysna nie en terwyl ek agter my skootrekenaar in die tuin sit en skryf oor stootskrapers en myne besef ek klaar dat hierdie stroompie advertensiewerk uit Johannesburg ook op ’n
kol sal opdroog.

Dis dalk hierdie metafore van wortels en stroompies wat my op die gedagte van boer sit. Henry se plek is omtrent 44 hektaar – so daar’s oorgenoeg plek vir plant. Daardie Saterdag kry ek vir Mario van langsaan om vir my ’n stuk grond te kom omploeg.

Ek koop saad en rubberstewels by die plaas¬like koöperasie en val weg met ’n behoorlike vaart. Soos die plantjies opkom, groet ek amper elkeen met die hand en noem hulle: “Pappa se ou blaarkoppies.”
 
DIS net ná ons eerste bobbejaan-inval dat ek die eerste maal vir Errol ontmoet. Hy is ’n Rastafariese entrepreneur wat onderkant ons dekke bou. Hy kom simpatiseer net gou oor die baba-beetjies en wortellose wortels wat oral om my gesaai lê. Al wat ek vir seker weet, is dat “hoera vir die jollie bobbejaan!” beslis nie deur ’n boer geskryf is nie. 

“Ag, toemaar,” troos Errol, “my oupa het altyd gesê jy plant een saadjie vir die wurm, een vir die dief en ’n halwe ene vir jouself.”

Toe ek hom sê dat ons van Gauteng af kom, lyk hy selfs nog jammerder vir my.

“Johannesburg,” sê hy. “Ek sal nooit daar kan lewe nie. Daar is net te veel… ” Hy sê nie te veel wát nie. Hy hoef seker ook nie. Ek hou dadelik van hom.

Ná nog ’n bietjie familie uitlê, vra hy of “die broer” sal omgee as hy ’n paar byekorwe onder in die tuin kom hang. Ek sê sommer dadelik ja. Hoe moeilik kan ’n byeboerdery nou wees?

En so begin ons ook met bye boer.

Errol (vind  ek later uit) is ’n bietjie van ’n bee whisperer hier in die kontrei. Die mense sê hy kan enige by uit enige dak uitrook – hy ken van rook en het ook ’n slag met bye.

Hy kom sit ’n paar korwe neer en nou moet ons net wag. Hy vertel ’n swerm van 50 000 bye moet omtrent 80 kg heuning per jaar maak om daarop te kan oorleef. 

“Dan vat ons ook nog so ’n goeie 15 tot 20 kg ’n jaar – so hulle moet nogals werskaf,” vertel hy.

Een middag kom ons agter ’n kolonie miere het een van ons swerms binnegeval en ’n ander swerm het eenvoudig opgepak en getrek. Ek vertel vir Errol van die Corpus Juris Civilis en hy sê: “Ja, bye kom al van lankal af aan. Hy het vlerke en as hy wil trek, trek hy.”

Errol verduidelik ons sal moet stênds bou vir die byekorwe – om hulle buite bereik van die miere en ook die bobbejane te hou – want ’n bobbejaan is ook lief vir heuning.

Vir ’n halwe dag dra ons balke aan en hamer en timmer soos die Romeine sekerlik ook op hulle dag gedoen het. Dan staan die stênds en ons oorblywende twee korwe lyk darem veiligrig…

EEN oggend kom Errol vol knoppe by ons aan. Toe hy gisteraand nog twee korwe langs sy huis anderkant Judas Square gaan neersit het, takel sy buurman hom sonder waarskuwing met ’n knopkierie.

“Nie almal het ’n waardering vir bye nie,” skud Errol sy kop. Hy voel eintlik bietjie skaam oor die hele besigheid. Hy’t nog gebuk gestaan onder die eerste swerm houe en gewonder hoe hy die angel uit die situasie kon haal, toe gee die buurman vir Errol se vrou ook ’n behoorlike knopkieriehaal oor die blaaie, sommer so in
die verbygaan.

Toe skielik ontwaak die leeu in dié vredeliewende heuningboer – soos ’n Simson van ouds trap hy die piksteel wat daar langs die heining gestaan het los en laat wáái op die buurman.
Met die eerste twee houe slaan hy hom bewusteloos en met die derde, vierde en vyfde houe slaan hy hom weer wakker en terug tot binne-in sy eie jaart.
“Jy kan mos nie met ’n man se vrou só maak nie,” verduidelik Errol. En so het ons nog drie korwe bygekry…

DAN, uiteindelik, is dit tyd om die eerste heuning uit te haal. Siende dat dit sý bye is, proe Errol eerste: “Dis nogals special,” mymer hy, “gee jou so ’n tinkling in die maag.”

En toe ek self proe, weet ek dadelik waarvan hy praat. Heuning so reg uit die koek – warm, soet – mmm, die smaak van vrugtebloeisels, leiwater en suiwer sonskyn.

Ek sien hoe Kaneeltjie vir ’n loerie loer. Ek hoor hoe ’n katlagter lag. En vir die eerste keer in maande lag ek self uit my maag uit…  


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-15°C Morning clouds. Cool. Pta: 13-27°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 8-20°C Sunny. Mild. Bfn: 2-17°C Sunny. Mild.
Dbn: 16-20°C More sun than clouds. Cool. PE: 12-17°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!