Die groen middeweg

2012-07-24 12:53

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wanneer laas het jy góéie nuus en vloekwoorde soos besoedeling, klimaatsverandering en habitatverlies in een sin raakgelees?

Die gruwelsyfers oor die koolstofspoor van Amerika, China, Indië en ook Suid-Afrika is so oorweldigend dat Jan en San Alleman meen slagspreuke soos “Hergebruik, Verminder & Herwin” is soos om donderweer met ’n onwelriekende windjie te probeer troef.

Wat baie van ons vergeet, is dat ’n omgewingsvriendelike(r) leefwyse – om jou impak op die omgewing so klein as moontlik te maak – glad nie moeilik óf nuut is nie. Mense het vir eeue so geleef. Soos die jong Stellenbosse egpaar wie se strooisteenhuis op hierdie blaaie verskyn, kan en móét jy meer volhoubaar leer leef, sonder om die 21ste eeu vaarwel toe te wuif.

DIE ABC VAN GROEN
• Gebruik minder energie.
• Skep minder afval.
• Bespaar water.
• Vermy giftige chemikalieë sover moontlik.
• Kweek jou eie kos en leef volgens die seisoene.
• Koop plaaslik.
• Moenie onnodig rondry nie – stap, ry fiets, gebruik openbare vervoer, stig ’n saamryklub.

JOU HUIS: BEGIN HIER
• Leef eenvoudiger – ’n kompakte huis is makliker en goedkoper om in stand te hou.
• Die meeste hitte en koue kom jou huis deur die dak, vensters en deure binne. Sorg vir goeie isoleermateriaal in jou dak, en maak vensters, gordyne en blindings oop of toe na gelang van die temperatuur buite.
• Vervang alle gewone gloeilampe met energiebesparende kompakte fluoorligte.
• Skakel toestelle en ligte wat nie gebruik word nie, heeltemal af – by die muurprop!
• Herwin plastiek, blik, papier, glas en kombuisafval – gaan na www.greenspace.co.za vir meer inligting.
• Red miljoene bome deur minder papier te mors: Skakel oor na elektroniese rekeninge, betaal al jou rekeninge aanlyn, druk op albei kante van die papier en herwin die papier wat jy weggooi.
• Skakel oor na herlaaibare batterye – dit is wel duurder, maar op die lang termyn goed¬koper en omgewingsvriendeliker.
• Vermy lugreëling – natuurlike kruisventilasie (die beweging van lug van die een kant van ’n vertrek uit by die ander kant) werk al eeue lank.
• Moenie toestelle of klere net weggooi nie – herstel of skenk dit.


BUITE

• Plant inheemse, verkieslik endemiese plante – dié plante is gehard, die beste aangepas vir die klimaat en soort grond, en het daarom minder water nodig.
• Begin jou eie vrugte-, groente- en kruie¬tuin om seker te maak jy eet organies. Span natuurlike beheermaatreëls in soos wisselbou, metgeselplante wat mekaar komplementeer en help om insekte weg te hou, en maak sommer ook jou eie organiese spuitmiddels om peste en plae te verjaag – daar is honderde resepte op die internet en in Jane Griffiths se boek Jane’s Delicious Garden (Sunbird Publishers, 2009).
• Plant soveel as moontlik bome – dit help om die lug te suiwer, verhoog die waarde van jou eiendom en help ook om die huis koel te hou. Plant bladwisselende bome buite groot vensters sodat dit in die somer die son kan wegkeer en in die winter dit weer inlaat.
• Plant ’n spekboomheining (Portulacaria afra) – dié plante absorbeer die heel meeste CO2.
• Gebruik ’n deklaag om grond langer koel en klam te hou. Dit onderdruk ook onkruid en irriteer slakke.
• Begin ’n komposhoop vir grassnysels, blare, takkies of kombuisafval soos groente- en vrugte¬skille, eierdoppe, teesakkies, koffiemoer (geen sitrusskille, gekookte kos en vleis nie), of koop ’n erdwurmplaas wat jou kombuisafval in wurmtee en ryk, fyn kompos sal verander. Lees meer by www.fullcycle.co.za, www.worm-farm.co.za en www.motherearthworms.co.za.
• Installeer ’n reënwatertenk en lei jou tuin met jou dak se reënwater nat.
• Hou jou grasperk so klein as moontlik.
• Installeer waar moontlik drupbesproeiing – dis die doeltreffendste manier om water by die wortels van plante, bome en struike te kry.

BINNE

KOMBUIS
• Kies energiedoeltreffende toestelle met ’n stergradering.
• Kook met gas eerder as elektrisiteit.
• Behalwe vir gebak, is dit selde nodig om die oond vooraf te verhit. ’n Mikrogolfoond is in die algemeen meer energiedoeltreffend, veral as jy net kos wil verhit.
• Koop ’n warmboks – ’n lapsak gevul met polistireenbolletjies – waarin jy kos kan gaarstoom nadat jy dit vir 10 minute op die stoofplaat verhit het.
• Installeer ’n waterfiltreerstelsel as kraanwater nie vir jou lekker proe nie. Vermy gebottelde water – ’n groot deel van die koste het met verpakking en vervoer te doen.

WASKAMER
• Moenie klere onnodig teen ’n hoë temperatuur was nie – tot 80% van ’n wasmasjien se energieverbruik is om die water te verhit.
• Moenie klere tuimeldroog nie. Spaar geld en laat jou klere langer hou deur dit buite op te hang.

EETKAMER
• Eet minder vleis – dis die hulpbron-intensiefste deel van ons dieet en speel ’n groot rol in ontbossing, gronderosie, waterskaarste, besoedeling, klimaatsverandering en die toenemende verlies aan biodiversiteit.
• Gee voorkeur aan organiese groente en vrugte, en eet net wat in seisoen is om die ellelange ketting tussen die plaas en jou bord so kort as moontlik te maak.
• Gebruik lap- eerder as papierservette.
WANNEER JY INKOPIES DOEN…
• Koop minder, koop grootmaat en kyk of iets nie dalk tweedehands op Gumtree of Freecycle beskikbaar is nie.
• Gee voorkeur aan plaaslik gekweekte of vervaardigde produkte – só help jy besoedeling en vervoerkoste beperk en skep jy werkgeleenthede.
• Vat jou eie inkopiesakke saam.
• Vermy produkte met baie verpakkings¬materiaal, veral iets soos polistireen wat nie bioafbreekbaar is nie.
• Kies produkte wat so lank as moontlik hou, soos tandeborsels waarvan jy net die borselkop hoef te vervang.

SLAAPKAMER
• Koop beddegoed van (organiese) katoen – dit hou langer, voel lekkerder en die vervaardigingsproses is minder skadelik vir die omgewing.
• Hou op ysige dae die vensters, blindings, gordyne en slaapkamerdeur toe om te keer dat koue lug van buite af inkom. Op sonnige wintersdae kan jy alles oopmaak om die huis te verhit.
• In die somer is ’n dakwaaier baie meer energiedoeltreffend as lugreëling om jou slaapkamer af te koel. Vang soggens die koel lug vas deur die vensters, blindings en gordyne oop te maak voor die son begin brand. Maak dan alles toe en eers weer oop as dit donker en die lug buite koeler is.

BADKAMER
• Installeer sonkragpanele vir warm water.
Stel jou geiser se termostaat laer (55 °C) en gebruik ’n geiserkombers.
• Maak druppende krane en toilette wat lek, so gou as moontlik reg.
• Installeer laewaterverbruik-toilette, -storte  en -krane. Talle moderne toebehore is ook reeds toegerus met ’n toestelletjie wat suurstof by die water klits sodat jy minder gebruik.
• Moenie die kraan onnodig laat loop terwyl  jy gesig was, tande borsel of skeer nie.
• Vermy skoonmaakprodukte wat skadelike stowwe bevat. Probeer Woolworths se Earth Friendly-reeks, die Ecover-reeks by Wellness Warehouse of Bloublommetjieskloof-produkte, wat by Pick n Pay en Checkers te koop is. Die aanlynwinkel www.faithful-to-nature.co.za verkoop verskeie groen produkte, maar jy kan gerus ook probeer om jou eie skoonmaakmiddels te maak met alledaagse bestanddele – daar is honderde resepte op die internet.
• Stort eerder as bad, maar moenie te lank onder die stort staan nie.
• Oorweeg ’n gryswaterstelsel waar jy jou  bad- en stortwater na die tuin weglei. Onthou om net bioafbreekbare seep en sjampoe te gebruik sodat die water geskik is vir die tuin.

Gaan maak gerus ’n draai by die Green Home Fair. Dis deel van Suid-Afrika se volhoubaarheidsweek. Daar kan jy leer hoe om meer omgewingsvriendelik te leef. 28-29 Julie, Sandton-konferensiesentrum.
sustainabilityweek.co.za

LEES MEER…
• Webwerwe: www.greenliving.co.za,  www.greenmatters.com, www.greenlivingtips.com
• Bereken jou eie koolstofvoetspoor op  www.myfootprint.org.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 9-19°C Mostly sunny. Mild.
Jhb: 6-15°C Sunny. Cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-22°C Sunny. Mild. PE: 10-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!