Die groot verlief en trane
2012-11-19 06:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
My niggie Nita het as student ’n hartverskeurende liefdesteleurstelling gehad. Dit was haar eerste groot liefde en gevolglik die seerste seer.
Vir weke lank het sy gehuil oor ’n aantreklike jongman genaamd Christiaan en ons durf nie iets van hom voor haar sê nie, dan is daar ’n tranedal.
Só vra haar suster Anja haar in dié tyd eendag ewe onskuldig aan tafel: “Nita, wil jy ’n crispy bun hê?”
Net daar gaan Nita onbedaarlik aan die ween.
“Christiaan, Christiaan! Kan julle net asseblief ophou praat oor Christiaan!”
Liefdesteleurstellings is erg. Dis wanneer “crispy bun” klink soos “Christiaan”, wanneer selfs broodrolletjies jou kan laat huil, wat nog te sê van ou foto’s of liedjies waarop julle saam gedans het.
Ek ken dié gevoel. Om te glo jou een groot, ware liefde het nou deur jou vingers geglip en jy sal tot in ewigheid hartseer wees daaroor.
Maar my tannie het my destyds as tiener onwetend ’n belangrike les hieroor geleer.
Ons was op ’n dag in ’n winkel toe ’n ondeunde glimlag skielik om haar mondhoeke verskyn en sy duidelik met moeite haar lag onderdruk.
“Wat is so snaaks?” wil ek weet. As daar gelag word, wil ek mos saam kan lag.
“Sien jy daai oom?” Sy wys na ’n oorgewig, bebrilde, geplooide bleskopman met verbleikte PT-shorts en plakkies aan, besig om ’n roomys te eet.
Liefdesteleurstellings is erg, ja, maar nig Nita, troos jou daaraan: Daardie “crispy bun” is dalk eendag effentjies muf. Hoe kan enigeen daardie oorgewig oom met die roomys aantreklik gevind het, wat nog te sê gesoen het of, nog erger, oor gehuil het?
Want toe sê my mooi tannie: “Daai man… hy was my eerste skoolkêrel.”
Annie Klopper is ’n skrywer, digter en redakteur by Protea Boekhuis.