Die oë agter die nuus

2012-11-26 13:36

Al die geslagte wat ná die uitvinding van die kamera gebore is, het minstens een ding gemeen: Die geskiedenis is vir ons nie ’n string stories wat losweg aanmekaargeryg is nie. Dis eerder ’n reeks ikoniese foto’s wat die belangrikste gebeure van die afgelope eeu of meer in enkele onsterflike oomblikke vasvang: Die jong matroos wat ’n verpleegster in ’n vurige omhelsing vasdruk aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog; ’n aasvoël wat onheilspellend wag staan naby ’n uitgeteerde kindjie in Soedan.

En die man wat tydens 9/11 uit die Wêreldhandelsentrum spring en vir ewig kop eerste ondertoe val… val… val.

In Suid-Afrika voel ons of ons dáár was die dag toe Hector Pieterson geskiet is. Ons weet iets van die glans van Sophiatown, en onthou Distrik 6 al het ons dit nooit self gesien nie. En ons snak steeds kollektief na ons asem voor die foto van daai bal wat Joel Stransky so netjies tussen die pale laat hang.

Wat ’n mens egter maklik vergeet, is dat agter elke onvergeetlike nuusfoto ’n man of ’n vrou staan met ’n oog op die aksie en ’n vinger op die knoppie.

Terwyl die rol van fotograwe opnuut in die spervuur is in die ondersoek ná wat by Marikana gebeur het – en in die nadraai van die dood van die legendariese Alf Kumalo (die fotograaf wat destyds as mentor opgetree het vir die ewe bekende “Bang-Bang Club”), kyk ons na vier van die fotograwe wat vandag die voorste medialinie vorm, die mense wat ons geskiedenis vasvang soos dit ontvou. Hulle koes vir koeëls, pangas en vuiste sodat almal kan síén, en plaas soms selfs hulle lewens op die spel sodat ons kan onthou.



Lulama Zenzile kry ’n unieke skoot van ’n straatsmous wat haar stalletjie probeer beskerm tydens ’n staking in Kaapstad in 2011.

"Die kind is nie dood nie. Die kind wat al van kleins af die reuk van traangas ken, het ’n man geword, ’n man met ’n kamera en ’n missie." 

Toe Lulama Zenzile klein was, was die dae in sy ouma se huisie in Nyanga sinoniem met toyi-toyi-optogte en onrus. Bedags het hy met sy maats saamgehardloop deur die strate, waar fotograwe soos Obed Zilwa en Bennie Gool die konflik en chaos op film vasgevang het. Saans het hy foto’s uitgeknip uit die koerante wat sy ouma, ’n huishulp in Kaapstad se wit voorstede, teruggebring het huis toe. Hy’t die foto’s in ’n boek geplak waardeur hy weer en weer kon blaai. Want hy het toe al geweet: Dís wat hy wil doen.

Vandag is Lulama ’n heeltydse fotograaf by Media24. Hy woon steeds in Nyanga, maar noem die lang skofte wat hy by Die Burger werk, sy “lewe”.

“Selfs wanneer ek af is en ’n ent gaan ry saam met my vriende is my kameras agter in die kar en my skootrekenaar is reg sodat, as iets gebeur, ek dadelik foto’s kan neem en instuur.”

In die fotograwe se half verlate kantoor in die Naspersgebou in Kaapstad wys foto-redakteur Sharief Jaffer Lulama se foto’s vir my. Soms skud hy sy kop, byna in ongeloof, as hy self weer die impak van een voel.

“Dis nie maklik om sulke foto’s te neem nie,” beduie hy ernstig. Maar die 37-jarige Lulama is beskeie. “Ek kan nie sê ek is ’n goeie fotograaf nie, maar as ek ’n geleentheid sien, dan gebruik ek dit. Ek kan dinge ráám. Ek skep orde uit die chaos met my lens.”

Ons gesels oor sy besonderse foto van ’n straatsmous wat desperaat haar ware probeer beskerm tydens die stakings in Kaapstad in Augustus verlede jaar. “Ek het onmiddellik geweet daardie is ’n goeie foto, maar eers toe ek na die tyd daarna kyk, het ek besef baie van die ander fotograwe is in my skoot en sou dus nie dieselfde hoek gekry het nie. Daar is altyd omtrent 20 fotograwe van verskillende koerante op so ’n groot storie, en dit voel fantasties om ’n unieke skoot te kry.”

Ek probeer die man voor my, met sy sagte stem en geweefde mus, en die gruwelbeelde op die skerm bymekaarbring. Hoe maak hy sin van hierdie goed? Die vinnige wegkyk en vingers wat onrustig aan sy dreadlocks vroetel is ’n antwoord op sy eie.

“Wanneer ek alleen is, dink ek soms daaraan, maar ek besef daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Hulle sê om stres en beroerte te voorkom moet jy net lag. So ek lag maar oor hoe wreed mense is en oor hoe simpel hulle kan wees. Ek bevraagteken nie meer hoe onmenslik en verkeerd dinge is nie – ek lag net.”  

Lulama was onlangs in die nuus toe hy beseer is terwyl hy die plaasstakings op Ashton in die Wes-Kaap afgeneem het.  Hy is deur ’n klip in die gesig getref en met ’n ambulans van die toneel af na die naaste hospitaal geneem, maar was kort daarna met sy kamera terug op die toneel om nog foto’s te neem.

‘Jy moet ’n absolute, ongesonde passie hê vir fotografie.’
–   HERMAN VERWEY, City Press



“HIERDIE werk eis ’n groot tol van ’n mens se persoonlike lewe. Om dit te kan doen, moet jy ’n absolute, ongesonde passie hê vir fotografie. Dit moet als in jou lewe wees. En jy moet jouself kan afsny.”

Herman Verwey is net 28 jaar oud, maar hy klink soos ’n ou hand. G’n wonder nie. Voor-verlede week is hy aangewys as wenner van die hoogaan-geskrewe SAB Fotograaf van die Jaar-prys, met ’n portefeulje van nege foto’s – die derde prys wat hy vanjaar wen.

As een van City Press se heeltydse fotograwe in Gauteng het hy al dinge gesien (en afgeneem) wat ander mense nooit sal sien nie – tensy daar ’n foto is. Oor die foon is Herman saaklik, maar dodelik ernstig oor wat hy doen.

“Fotograwe word onderwaardeer. Ons neem geskiedenis waar en lê dit vas. Iemand moet dokumenteer wat gebeur, anders is dit soos die Engelse sê – ‘out of sight, out of mind’. Mense is geneig om te vergeet. Of hulle wíl vergeet. Fotograwe moet hulle herinner.”

Sy portefeulje bevat haglike beelde wat ’n mens eerder sou wou vergeet: verkoolde liggame, woedende skares, bloed en binnegoed. Maar daar is ook ander foto’s: aksie-foto’s van groot rugbywedstryde, ’n portret van Madiba met ’n glinster in sy oog, ’n wasige ballerina wat oor ’n verhoog sweef…

Herman is net so gemaklik in die middel van ’n politieke optog as wanneer hy ’n rock-groep of kunsuitstalling afneem.

Dis net wanneer hy sosiale geleenthede moet dek, waar mense in duur klere rondloop en versigtig aan drankies proe, dat hy pynlik bewus is van die ongelykheid, armoede en swaarkry wat hy op ander opdragte teëkom. “Dit maak nie sin nie.”

In sy vrye tyd snuffel hy stories uit oor “underdogs”. Hy is veral passievol oor paralimpiese sport. Vroeër vanjaar het hy die paralimpiese spele in Londen gedek – die hoogte-punt van sy professionele loopbaan tot dusver.

“Ek het die swemmer Chad Gifford ontmoet. Hy inspireer my elke dag. Die foto wat ek van hom geneem het, vertel als oor hoe ek stories wil vertel en wat ek wil bereik deur my fotografie.”



Aan die een kant is dit verskriklik opwindend, aan die ander kant net verskriklik.’  
– WILLEM VAN DER BERG, Volksblad en vryskut

DIE jong fotojoernalis Willem van der Berg (28) is veral bekend vir sy aangrypende foto van ’n sterwende Andries Tatane in sy vriend Molefi Nonyane se arms.

In daardie stadium was Willem eintlik joernalis by Volksblad in Bloemfontein. Hy het die ontevredenheid oor dienslewering wat in 2011 in Ficksburg uitgebreek het van die begin af gedek, en was in die nadraai van Tatane se dood steeds nóú betrokke by die gemeenskap. “Molefi het ’n hele ruk ná Andries se dood vir my gesê dit is vir hom te pynlik om na die foto te kyk, maar dat hy bly is als is wel vasgevang. ‘Dit gee my hoop dat geregtigheid sal geskied,’ het hy gesê.” Maar Willem bly sinies.

Deesdae werk hy meer as vryskut-reis-joernalis, maar soms mis hy die opwinding van harde nuus. “Daar is baie emosie op tonele waar nuus plaasvind en dis waarvoor ons gestuur word: Die fotograaf se rol is om emosie vas te vang.

“’n Mens sien aaklige goed en dis moeilik om jou af te sny. Soms is al wat help om fisiek daarvan weg te kom en dis wanneer ek op my motorfiets klim.”

Hy geniet die gejaag agter adrenalien aan, erken hy, maar het gemengde gevoelens oor sy werk. “Aan die een kant is dit verskriklik opwindend om slegte stories te doen.

Maar aan die ander kant is dit net verskriklik.”



"Ek glo waarmee ek besig is, kan ’n verskil maak." – DEBBIE YAZBEK, vryskut
 
IN die middel-1980’s was Debbie Yazbek (50) ’n fotograaf in die advertensiewêreld toe ’n bom meters van die plek waar sy aan die werk was, ontplof het.

In hierdie definiërende oomblik het die illusies van die glansende wêreld wat advertensies vir ons voorhou vir haar onherroeplik uitmekaargespat. “Ek het geweet ek wil eerder die geskiedenis dokumenteer   soos dit gebeur – in al sy grinterige werklikheid.”

Debbie is fyn gebou, van Lebanese afkoms, maar sy staan meer as haar man in ’n harde bedryf. Sy is al twee maal as Persfotograaf van die Jaar aangewys en al is sy steeds die enigste vroulike ontvanger van die toekenning, is sy oortuig dat daar deesdae ’n gelyke speelveld vir mans en vroue is. Debbie was ook al fotoredakteur vir
The Star in Johannesburg, maar is deesdae vryskutfotograaf vir verskeie publikasies.

Ná al die jare aan die agterkant van die lens is dit steeds nie vir haar maklik om mense se mees intieme oomblikke met haar kamera binne te dring nie.

“Ek het in ’n stadium ’n indiepte-foto-projek oor vigs gedoen, veral oor die uitwerking wat die siekte op gesinne het. Ek het baie na aan die twee vroue gevoel wat ons gedokumenteer het, albei het siek geword en is binne weke van mekaar oorlede. Maar vóór die een vrou dood is, het sy die verpleegster gevra om my te bel. Sy wou hê ek moet daar wees. Die laaste foto wat ek geneem het, is van ’n traan wat net begin om in haar oog op te wel. Dit was ongetwyfeld die moeilikste foto van my loopbaan…”

Debbie bly glo in die krag van wat sy doen ondanks die emosionele trauma wat haar werk soms behels. “Ek onthou die gevoel wat ek gekry het toe ’n Amerikaanse filantroop met my kontak gemaak het deur The Star. Hy het foto’s gesien wat ek geneem het van ’n hongersnood in Malawi en wou geld gee aan die klooster wat die mense daar ingeneem en bygestaan het. Dit het my weer laat glo dat dit waarmee ek besig is ’n verskil maak.”


Fotografie en tegnologie


In September het ’n hewige debat uitgebreek rondom die digitale manipulasie van nuusfoto’s nadat The Citizen ’n foto op hulle voorblad gepubliseer het van ’n noodlottige bomontploffing in Kaboel, maar die liggame wat op die voorgrond van die foto sigbaar was, is digitaal verwyder. Citizen-fotograaf Johann Hattingh, wat op Twitter uitgevaar het teen die besluit om ’n gemanipuleerde foto te publiseer, is later afgedank.



Veteraan-fotograaf Greg Marinovich, een van die lede van die “Bang-Bang Club”, voel geen feite kan bygesit of uitgesny word nie. Sy goue reël is: “Moet niks méér doen as wat jy in ’n outydse donkerkamer met ’n enkele negatief sou kon nie.”

Herman Verwey sê: “Digitale manipulasie van nuusfoto’s is totaal en al ontoelaatbaar. Jou foto moet net die waarheid wat jy voor jou gesien het, weerspieël.”

Volgens veteraan-fotograwe is dit voordelig om jong fotograwe in die digitale era steeds met film-kameras op te lei, aangesien dit die fotograaf se bewustheid van komposisie en vermoë om oomblikke te herken en vas te lê, verbeter.






Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C Showers early. More sun than clouds. Cool. Pta: 8-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-13°C Mostly sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-12°C Sunny. Cool.
Dbn: 12-21°C More sun than clouds. Refreshingly cool. PE: 11-17°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!