Die skaam kant van Nataniël

2012-12-16 00:04

Hier is Nataniël saam met boeties Jason (5) en Eli Lee (3). FOTO CLINTON LUBBE

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

As hy aan blou Maandae geglo het, was vandag een, groet Nataniël.

Sy motor – pas gediens – wou nie vat nie. Toe hy vanoggend opstaan, was hy “pienk en geswel” aan sy linkerkant. Dus, net om seker te maak hy “verwag nie ’n hiëna nie”, is hy direk ná ons onderhoud op pad dokter toe.

Hy erken hy is ’n bietjie neuroties oor sy gesondheid sedert hy twee jaar gelede tydens ’n vertoning siek geword het: “Daar staan ek, en sê ‘hier is nou iets fout’, en die mense skater. Toe ek sê ‘ek dink ons moet nou die gordyn laat sak’, lag hulle steeds.” Dit was niks ernstigs nie – ’n kombinasie van lae bloed-suiker en adrenalien, reken hy – maar toetse het gewys hy sal sy leefstyl moet verander.

“Ek was een telling weg van diabetes en my cholesterol was daarbó.” Alles omdat hy homself in twintig jaar nooit “meer as twee dae in ’n ry” vakansie gegun het nie. Die gevolg was amperse uitbranding, en dit het twee jaar gevat om homself gesond te maak. Met kos, wat anders? Kos loop immers soos ’n goue draad deur sy lewe, vandat hy kan onthou.

Maar die skrik het gebly.

“Ek het nooit gedink daar kom dalk siekte voor dood nie. Ek het gedink ek gaan eendag ophou leef en hulle gaan my opstop en ek gaan net daar in my huis bly. Maar siekte... ?”

Nou laat bekyk hy elke pyn en skeet. “My dokter moes al verduidelik EKG’s is nie ’n stokperdjie nie. Ek het seker al 47 gehad dié jaar. Vrydae, as die tannies hulle hare laat doen, lê ek gekoppel aan allerhande masjiene.”

Ernstig? Sy gesig verklap niks. Dalk is dit oor hy “verlam gebotoks is”. En ja, ek mag maar alles wat hy sê, skryf, want hy het “klaar alles wat sleg is oor homself gesê, nou is daar niks oor vir die koerante nie”.

Nataniël het nooit aan homself gedink as snaaks nie, tot hy eendag as Matie-musiekstudent ’n paar klassieke stukke voor ’n gehoor moes speel. Tussen twee Chopin-stukke moes hy iets sê, “en toe wil die mense nie ophou lag nie”. Hy lyk half verbaas. Hy het ook nie geweet hy kan sing nie, tot hy in die plek van ’n ander student in ’n vertoning moes sing.

“En toe verf ek my gesig wit, trek my aan soos ’n nar en begin shows hou.”

Ek onthou sy wit gesig, vlegsel en pikswart uitrustings uit ons dae op Stellenbosch – ek ’n grootoog-eerstejaar, hy ’n weird ster op die Matie-horison. Was die wit gesig in navolging van Boy George?

“Ek het nie eers gewéét wie Boy George is nie. Onthou, ek het net klassieke musiek geken. En ek het tot ná universiteit nét aan myself gedink!”

Al wat hy nog sy lewe lank wou doen, was “om ’n blink ding te dra en te perform”.

“Ek dink die eerste dag ná ek my eerste tree gegee het, het ek al my ouma se hoëhakskoene gedra. In die Kerstablo het ek van kleins af almal gespeel: Maria, Josef, baba Jesus én Patti LaBelle.” Al die ander goed – dertien boeke, sy SARIE-rubriek, vertonings, kosdemonstrasies, die etiket-praatjies en vanjaar boonop ’n reeks wyne en sy eie kosprogram op televisie, Die Nataniël Tafel op kykNET – het per ongeluk gebeur. En eintlik, al glo mense dit nie, is hy nogal skaam en sukkel hy om ’n kompliment te hanteer…

Almal weet al sy ouma Maria Burger – “die perfekte kombinasie van wildheid en grasie” – was sy grootste aanhanger en aansporing.

“Sy het altyd vir almal gesê ‘los die kind, hy sal nog sy niche vind’. Toe ek op universiteit sulke wilde avant garde-operas geskryf en opgevoer het, was sy daar. Dan kruip ek hande-viervoet op die verhoog met ’n skoolklok in my mond, en Ouma sê: ‘My kind, Ouma verstaan nou nie wat jy gedoen het nie, maar dit was fantasties.’ Ek was fisiek verlam toe ek hoor sy’s dood.” Hy was toe 20 jaar oud.

Sy oupa Ben was net so snaaks, ’n verteller van “sulke vreemde stories” wat vir hulle strokiesprente agterop Ouma se briewe geteken het. Hy vertel van al die kuiers by Ouma en Oupa op Wellington in Huis Cummings, ’n vrouekoshuis van die destydse Hugenote-kollege. Eendag wil hy nog daardie gebou koop, sê hy.

“Ek sal in ’n oogwink Wellington toe trek.”

Intussen bly hy te lekker in die stilte van sy woud op die rand van Pretoria. “Daar is eekhorings en twee meerkatte, en (die land sal dit nou dalk verkeerd opneem) ’n hele versameling voëls.” Oor bome is hy ernstig. “Man, ek is soos Asterix se hondjie – mal oor bome! Ek druk hulle, praat met hulle, plant hulle. Ek gee nie om of hulle inheems of uitheems is nie, jy kap nie ’n boom af nie. Hy was voor jou daar.”

Snags, bieg hy, ry hy rond en haal al die tree felling-advertensies af…

Familie is vir hom baie belangrik. Veral syne, ’n lawwe klomp bymekaar.

“Ons lag onophoudelik.” Hy is sy ma, Martie, en pa, Eben, se oudste. Ná hom volg nog twee seuns (Ian, ’n wiskunde-professor in Dublin, en Erik, ’n opgeleide sjef, maar deesdae hoof van ’n skool in Frankryk waar sakemanne Engels leer), en Madri, sy laatlam-sussie, uit eie reg ’n bekende sakevrou.

Nataniël is sinoniem met lekker kos en onthaal. Hy sê hy kan eerlikwaar nie onthou wanneer kos ’n tema in sy lewe geword het nie.

“Dit was maar net altyd daar.” Goeie kos kort goeie wyn, en vanjaar het hy vennoot geword in die Laubscher-broers, Hardie en Abraham, van Altyd Lig buite Kuilsrivier, se wynkelder. “’n Mens kan die plaas sien van die huis waar ek grootgeword het, so dit voel vir my soos ’n reünie.”

Wynliefhebbers kan – vir eers – kies uit die Nataniël Sauvignon Blanc, die Nataniël Rosé of die Nataniël Shiraz. “Dis in beautiful bottels, met sulke skokkende bont etikette.

Die meeste wynbottel-etikette lyk mos soos doktersvoorskrifte.” En ja, hulle gaan die kelder oopmaak vir wynproe, maar moenie iets verwag wat soos ’n shopping mall lyk nie.

Liefdadigheid is nog ’n groot passie. Vanjaar het hy sy eie liefdadigheidsorganisasie – die Nataniël Progress Project – gestig. Hy was ’n paar jaar Kindersorg se ambassadeur, maar hulle is nou net een van die organisasies vir wie hy geld insamel. Hy wil méér doen, méér help. Veral studente in die kunste wie se studiegeld opraak. “Ons moet na daardie boonste laag ook kyk, anders verloor ons land daardie vaardighede.”

Hy verstaan nie hoekom meer mense nie help nie. “Geld is dikwels die laaste ding wat hulle kort. Soms kort hulle net goed, of tyd. Of dat jy dié-wat-het in kontak sit met dié-wat-kort. Ek wil ook meer bejaardes help. Die nood is groot in Suid-Afrika en dit pla my. Die mishandeling en verwaarlosing is verskriklik. Verskriklik. Veral diere en kinders, want hulle kan nie net hulle goed vat en loop nie.”

Hy verstaan dat mense oproerig raak omdat hulle nie enige vooruitsig het op werk of huise of goeie opvoeding vir hulle kinders nie. Hy sou waarskynlik heel voor betoog het as dit hy was. “Maar ek sou dalk net eers by ’n boetiek ingebreek het dat ek darem oproerig kon wees in ’n mooi jassie…

“Maar, weet jy, iewers moet ons iets begin doen. Hou op kla oor hoe sleg dit hier gaan. As jy die televisie aanskakel, sien jy nie eintlik plekke waar dit veel beter gaan nie. Dink maar aan Libië en wat in Gaza gebeur. In die VSA is rassisme net so ’n groot probleem soos hier. So, hou op kla en doen iets. Jou bediende werk al dertig jaar by jou, maar jy ken net haar naam? Dis mos nie reg nie.

“Ek sê altyd jy moet sorg dat die mense op jou werf gelukkig is. Jy kan nie die hele wêreld help nie, maar jy kan vier of vyf mense naby jou help. Dan móét dit mos uitkring… ” 

“Kinders het geen beheer oor goed nie en is dikwels uitgelewer aan onbeskryflik onnosele gesag.”

Vir die fotosessie het Nataniël van sy peetkinders en vriende se kinders ingespan. Maar, sê hy, hy het nie geweet ’n fotosessie met kos en kinders is só moeilik nie: “Nooit weer nie, sê ek jou. My huis is omgekeer, daar was brandwonde, skreeuende kinders, huilende ma’s, my grimeer-kunstenaar het weggeloop en ek het ’n senu-ineenstorting gehad.”

Nataniël oor…

Kos
“Hou dit eenvoudig. Niks meer as vier bestand-dele nie – die lewe is kort.”
Kookboeke
“Dit inspireer my, en jare ná ek gelees het van ’n vrou wat ’n hoender in ’n telefoongids toegedraai het, val dit my by, en dan ontwikkel ek só ’n resep met my eie bestanddele.”
Gesigsontrimpelings
“Ek het mos nie hare nie. So, ek kan dit nie doen nie. Maar ek gaan nog eendag crack en sê hulle moet dit net doen. Dan gaan ek seker rondloop met twee bollas vel agter my ore, soos Heidi.”
Verhoudings
“Eendag wil ek nog op ’n regte date gaan. Almal met wie ek nog op ’n date was, stop altyd by ‘Jis, ek het in my hele lewe nog nooit so baie gelag nie’.”
Celebs 
“Ons land het min regte celebs. Daar is wel baie wat dink hulle is… ”
Familiariteit
 “Ek hou niks daarvan nie. Behandel my met respek. ’n Joviale klap tussen die blaaie en ‘Hoezit, my tjom! Maar jy kan mos nie roomys eet nie; kyk hoe dik is jy al klaar!’ is nie respek-vol nie.”
Padvarke
“Ek sit sommer iemand agterna wat oor ’n rooi robot of stopstraat jaag. My peetkind kon daar op sy fiets gery het! Ek gaan nog ’n webwerf begin met toekomstige pad-moordenaars se registrasienommers op.”

*Jy kan betrokke raak by Nataniël se liefdadigheidstigting. Lees meer op www.nataniel.co.za.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
13 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-18°C Morning clouds. Mild. Pta: 4-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-16°C Sunny. Cool. Bfn: -2-17°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!