Die storie: Werkplek van môre

2012-09-12 14:20

Anya van der Merwe, sedert Mei vanjaar ’n erelid van die Amerikaanse Instituut van Argitekte (AIA), kan nie lank stilstaan nie. Terwyl die fotograaf kiek en die stilis kort-kort rats vorentoe tree om ’n rebelse haar op sy plek te sit, prewel Anya sonder om haar lippe te beweeg: “Ek is ’n argitek, nie ’n model nie!”

Anya skep ander soorte modelle. Modelle van geboue.  Van der Merwe Miszewski Argitekte  (VDMMA) is al vir 21 jaar verantwoordelik vir ontwerpe van die hoogste gehalte. Boonop het Anya ook al haar bydrae as assistent-professor in argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad gelewer. Dis van die redes waarom die AIA besluit het om hulle hoogste eer aan nie-Amerikaners aan haar toe te ken – erelidmaatskap.

En sy is in goeie (manlike) geselskap: Slegs die vyfde Suid-Afrikaner, die eerste vrou, wat met hierdie eer wegstap. Sy is gevlei, kom ’n mens agter, maar nie geflous deur die kompliment nie: “My kollegas sal vir jou sê dat ek nie te veel waarde heg aan toekennings nie. Dis ’n vorm van erkenning, maar dit maak nie deure oop nie.”

Sy vertel selfs sy lees nie kommendasies of sulke goed waarin haar naam genoem word nie: “Ek is heeltemal te selfbewus!” (Sy hoop om op reis te wees in Egipte wanneer hierdie uitgawe van My Tyd verskyn!)
Wat het dan gemaak dat die Amerikaanse Instituut haar en VDMMA raakgesien het?

Wel, wat huise betref… daar staan Tree House in Oranjezicht, Kaapstad. Die dekortydskrif Visi se lesers het dit aangewys as die gewildste gebou in Suid-Afrika. Ander residensiële projekte sluit in Bridge House (Kaapstad) en Highveld House (Gauteng).

Op ’n groter skaal is daar – om maar net drie te noem – die De Beers-hoofkantoor in Ormonde, Johannesburg, die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum en die nuwe Allan Gray-hoofkantoor by die V&A Waterfront in Kaapstad.

Die uitstekende werk wat die firma (met Anya as een van drie vennote aan die stuur) met die De Beers- en Allan Gray-gebou gedoen het, bewys dat VDMMA hulle voorste posisie verdien wanneer dit by kantoorgeboue kom.

Hoewel die De Beers-gebou al in 2004 voltooi is – en met ’n merietetoekenning deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte (SAIA) bekroon is – is dit steeds ’n voor-loper wat vernuwende idees in die werkplek betref.
Maar, sê Anya, met nuwe tegnologie en ontwikkelings by die ontwerp ingesluit, is die Allan Gray-kantoor in die Kaap deesdae ’n kortkop voor.

Sy sê baie het in die afgelope agt jaar ver-ander in kantoorontwerp, maar veral een aspek staan uit: “Volhoubaarheid.”

Vergete is die dae toe volhoubaarheid aan die ontwerp van die gebou gemeet is. In die toekoms sal ’n sakebestuurstelsel ’n gebou se “funksies” monitor – elke halfuur in Allan Gray se geval! Só sal die lig- en luggehalte, lugversorging en beligting kort-kort aangepas word by eksterne faktore (byvoorbeeld ’n verandering in natuurlike lig wanneer die wolke om Tafelberg of op die Hoëveld saampak).

ONS HET LAPTOPS!


“Dis opvallend hoeveel klem op personeel-geriewe gelê word wanneer geld ter sprake kom is,” merk Anya op. Selfs in die moeilike finansiële omstandig-hede waarin firmas hulle tans bevind.

Maar dis juis ’n goeie tyd om oor kantoorruimte te herbesin, meen Nadine Harris van Collaboration, ’n Kaapstadse firma wat spesialiseer in die ontwerp van kantoor- en kommersiële ruimtes.

“Wanneer die ekonomie druk en maat-skappye hulle bates optimaal wil aanwend, is dit nie net innovasie, koste-besparing en handelsmerk-uitbreiding wat aandag verdien nie,” sê sy. Nadine glo kantoorruimte is die mees onderbenutte bate in hierdie proses. Buiten die koste om dit te onderhou lei ’n goeie kantooruitleg ook tot beter samewerking en produktiwiteit tussen werknemers.

Boonop raak werkgewers al hoe meer mededingend en werk-soekers al hoe slimmer – veral die jonger geslag neem hulle werks-omgewing baie ernstig op en kan op grond hiervan besluit om ’n werk te aanvaar of nie.

Daarom, sê die Kaapse argitek Eloise Collocott Russell van Field Architecture, word dit al hoe belangriker vir werkgewers om ’n omgewing te skep wat die regte talent trek en dit behou. Dit sluit ook nie noodwendig die nuutste ontwikkelings op tegnologiese front in nie.

“Mense gebruik deesdae al hoe meer hulle eie skootrekenaars en ander tegnologie, juis omdat dit ingestel word volgens eie behoeftes.

“Die werkgewer moet voorsien in die waar en hoe,” sê Eloise.

Kyk byvoorbeeld na The Open of die nabygeleë HUB in die Johannesburgse middestad. Hoewel dié geboue gemik is op entrepreneurs is dit geskoei op die beginsel van ’n oop kantoor met verskillende ruimtes vir verskillende take – van vergaderings tot ’n vertroulike gesprek tussen twee mense, of selfs net ’n hoekie waar iemand ’n paar uur se werk (teen ’n fooi) kan inpas.

’n Gemaklike pas, noem Eloise dit, waar die raamwerk verskaf word, maar elkeen dit invul volgens eie behoefte.

Kortom: Dis die kantoor van die toekoms…

DINK NUUT

Die tyd toe alle werknemers oor dieselfde kam geskeer is, is verby: Mense se take verskil en dus ook hulle verwagtinge van ’n werks-omgewing.

“Ruimtes bepaal optrede,” glo Nadine. “Belê dus in ’n kantoorruimte wat dié eien-skappe wat jy soek, aanmoedig.”

Die kreatiwiteitsghoeroe John Hunt van die advertensiemaatskappy Hunt Lascaris en skrywer van The Art of the Idea (oor die invloed van ’n kunstige kantoor op kreatiwiteit), verduidelik dieselfde beginsel: “Idees gebeur nie in ’n vakuum nie. Dis sensitief vir die omgewing en word dikwels bepaal deur die heersende stemming van die tyd.”

Onthou egter dat dit nie moontlik is om die kultuur van ’n kantoor van die heersende wêreldkultuur te skei nie: Mense wil soos volwassenens behandel word en die ruimte hê om hulle eie besluite te neem, waarsku die argitek Tamem Richa, ’n kollega van Eloise.

’n Uitdaging is om voornemende kliënte sover te kry om die onderliggende beginsels van nuwe kantoorruimtes te aanvaar, eerder as bloot die “prentjies” na te aap. Soos wanneer kliënte vra vir ’n ontspanningsarea asof dit ’n speelruimte moet wees.

“Dis nie nodig om altyd so letterlik te wees nie,” sê Tamem, en verwys as voorbeeld na die glyplanke en brandweerpale by Google se kantore in Mountain View, Kalifornië.

Kundiges meen daar lê nog baie werk voor om personeel én besluitnemers al hierdie nuwe ontwikkeling te laat aanvaar. Maar dis nie omdat Suid-Afrika “agter” is nie.

“Weens tegnologie kán ons nie meer agter wees nie,” sê Nadine Harris.

Maak jou gereed vir…

Hier is ’n paar neigings wat, volgens die kenners, binnekort ou nuus gaan wees:

1 Weg met roetine Mense se waarde lê in wat hulle anders kan doen: ontdek, innoveer, spanwerk, lei, verkoop en leer. (Los alles wat outomaties en prosesgedrewe is vir masjiene.)
2 Werkswerms Dis spanwerk – veral mense wat op ’n ad hoc-grondslag saamkom om ’n projek aan te pak.
3 Konneksies Mure bepaal nie meer ’n kantoor nie. Dit gaan oor hoe en waar mense werk, soos byvoorbeeld iemand wat deel is van ’n span, maar op ’n ander plek werk.
4 Tegnologie Hoe beter die tegnologie, hoe makliker om dié konneksies te maak – tussen kantore, stede, lande, en jou en die baas se huis!
5 My plek Hoe meer “vloeibaar” die kantoorruimte word, hoe minder is die grense tussen jou werk en jou private lewe. Maak seker dat jy dit goed bestuur anders kan jou werkslewe jou private lewe opslurp! 

(www.gartner.com, www.sodexousa.com, www.officeofthefuture2020.com)

Hoe warm is jou lessenaar?


Oopplan-ruimtes is niks nuuts nie, ons ken dit omtrent almal.

“Dis nie meer soos in die ou dae van óf oopplan óf afgeskorte kantore nie. Deesdae beteken oopplan eintlik uiters gesofistikeerde akoestiek, ligrefleksie, ergometrie, klankbane en siglyne wat uitleg beïnvloed,” sê Marguerite Pienaar, ’n argitek by die firma Holm Jordaan Argitekte in Pretoria.

Hierdie benadering is ook baie meer geskik vir die installeer en organiseer van meganiese en elektriese stelsels as die “ou” sellulêre benadering.

Die balans van ‘oop’ teenoor ‘toe’, aldus Nadine, word bepaal deur die besigheidskultuur. En dít weer, hang af van hoe belangrik dit vir jou is om in verbinding en mobiel te wees (die sleutelwoorde is connectedness en mobility).

Sy meen dis belangriker vir ’n werknemer om met die regte gereedskap toegerus te word as om noodwendig ’n eie lessenaar te hê. In elk geval, vra sy: “Waarom vir iemand ’n lessenaar koop as hulle skaars daar gaan sit?”

Eloise stem saam: “Navorsing het bevind mense bestee deesdae maar sowat 45% van hulle dag by hulle lessenaar.” Veral verkoopslui tel onder hierdie groep, en dis by mense soos hierdie dat die sogenaamde hot desk ontstaan het (daardie rekenaar wat oop is vir almal om kort tydjies daar te werk). M.a.w., jy kom in, maak jou tuis waar daar plek is, skakel aan en in en doen wat jy moet doen. Sodra jy klaar is, beweeg jy aan en iemand anders kom soek ’n beskikbare hot desk.

Volgens Marguerite is dit deesdae deel van al hulle kantoorprojekte. Dis ’n noodsaaklikheid eerder as ’n nuwigheid.

WIE GEE DIE PAS AAN?


• Melrose Arch, Johannesburg
• Umhlanga Ridge, Durban
• De Beers-hoofkantoor en ondersteuningsdienste, Ormonde, Johannesburg
• ANZ-bank se hoofkantoor in Melbourne, Australië
• Macquarie-groep se hoofkantoor in
Sydney, Australië
• British Airways se hoofkantoor net buite Londen, Verenigde Koninkryk

EN AAN DIE BUITEKANT?

Volgens Marguerite Pienaar van Holm Jordaan Argitekte in Pretoria is die dae van geboue wat net bestaan uit kantoorruimte getel.

Gemengde gebruik is die toekoms: “Dit skep meer ‘lewendige’ stede, vir gebruik 24/7.”

Die ander ononderhandelbare eienskap is “groen”.

“Een van die beste voorbeelde internasionaal is die Council House 2-gebou in Melbourne, Australië.”

Die CH2-gebou spog boonop met ’n intelligente “vel”. “Dis definitief die toekoms. Die vel van die gebou word ’n geïntegreerde stelsel.” Die buitenste laag is verantwoordelik vir die beheer van direkte sonstrale en lig. Die binneste lagie van die vel bestaan uit trappe, hysbakke, pype, geute, balkonne en plante. Saam vorm dit ’n mikro-klimaat wat maklik beheer kan word.

Nog ’n kenmerk van geboue wat in die toekoms meer prominent sal wees, is ’n gebou se vorm: Kantoorgeboue word toenemend gesien as bakens in ’n stad, bv. die Swiss Re-gebou (die sogenaamde “Gherkin”) of die pasvoltooide Shard, albei in Londen.

Ook die soort gebou, sê Marguerite, want stadsdigtheid neem toe en grond word al hoe skaarser.

“Daar is al hoe minder groen ruimte en party private geboue het selfs openbare parke op hulle dakke!”




Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-18°C Morning clouds. Mild. Pta: 4-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-16°C Sunny. Cool. Bfn: -2-17°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!