Die tannie met die rooi rok
2012-09-12 14:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Was dit nie vir die vooruitgang van oogkunde-tegnologie nie, was ek en my familie volslae invalides. Ons is nie juis bekend vir goeie sig nie – veral nie die perifere soort, by die kant van ons brilrame verby nie. Kontaklense red ons meermale hiervan.
Maar dan was daar ook die keer toe my ma geduldig in haar motor gewag het vir die tannie met die rooi rok op die rand van die sypaadjie om oor die pad te stap. Ma wag, maar die tannie roer nie.
Ná etlike oomblikke word dit toe duidelik dat die tannie met die rooi rok stilstaan vir ’n rede: Die “tannie” is ’n rooi posbus.
Ter verdediging redeneer Moeder dat daar ’n klompie mense saam met die “tannie” gestaan en wag het voordat hulle oorgestap het. In my ma se oë – of uit die hoek van haar oog – “het die bejaarde tannie skrikkerig op die sypaadjie agtergebly”.
Ons kan dalk nie lekker sien nie, maar ons kan lekker lag. En ek lag gráág oor hierdie insident. Dikwels en met smaak, en in my ma se gesig – waar sy my goed kan sien.
Tot vroeër dié week, toe my skoenveter tydens my daaglikse wandeling op die Seepunt-promenade skielik loskom. Ek gaan sit op ’n houtbankie tussen kosstalletjies en buk af om dit gou vas te maak.
Uit die hoek van my oog merk ek ’n man met ’n beige broek en wit hemp wat met sy hande in sy sakke langs my staan en blatant na my staar.
Ek draai vervies so ’n rapsie weg, maar die ongeskikte man, met sy grillerige, gesette middel en belaglike kort bene, bly ongestoord en skaamteloos staan en staar.
Om my irritasie duideliker te toon ruk ek met groot gebaar my kop reguit in sy rigting en staar boos terug… na ’n groot glasvesel-draairoomys – ’n advertensie vir die roomysstalletjie daarnaas.
En so ontmoet ek toe ’n verlangse neef van die tannie met die rooi rok…
Annie Klopper is ’n skrywer, digter en redakteur by Protea Boekhuis.