Die wye wêreld in

2012-08-14 14:00

Mike Horn|Foto: Dmitry Sharomov

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

’n Ekspedisie na die Noordpool Mike met ’n groep van sy leerders in Mongolië.

Toe die vuurpeloton se manne hulle AK47’s lig en na sy kop mik, het hy sy oë toegemaak en gedink: “As jy wéér kon kies, Mike, sou jy dit anders gedoen het?”

En die antwoord was “nee”.

Mike Horn is ’n Afrikaanse boytjie van Johannesburg, deesdae wêreldreisiger, ontdekkingsreisiger en die tafste ou wat lewe.

Swem die Amasone-rivier plat (ag, so 7 000 km in ses maande), vat 27 maande om te kyk hoe loop die Arktiese Sirkel nou eintlik (sonder vervoer met enjins), loop in totale winterduisternis na die Noordpool, weer sonder gemotoriseerde vervoer of hond, hy en ’n Noorweegse mede-avonturier, Børge Ousland, (ag, het hulle so 61 dae gevat), en berge laer as 8 000 m is nie eintlik ’n uitdaging nie (sonder suurstof).

Kry die prentjie?

Dis die soort goed wat Mike doen. Avontuurlik en gevaarlik. Léwendig.

Hy woon al vir die afgelope 22 jaar in Château-d’Oex, Switserland, waar hy ’n opleidingskamp in die Alpe bedryf, en waar hy vroeg in Julie vanjaar die Proteas onder hande geneem het om hulle koppe reg ingestel te kry, te motiveer en spangees te bou voor hulle huidige toer in Engeland – kop op die bal, manne.

Hy glo in kopkrag. Daarmee kan jy ver kom as jy onder druk is.

Dis op die ewenaar dat hy voor die vuur-peloton beland het. Hy’t in 1999 besluit om ál met die ewenaar langs om die wêreld te reis (weer sonder enjinkrag). Latitude Zero het hy die ekspedisie gedoop, die 46 670 km wat hy te voet, te kano, te seilboot en te fiets afgelê het. Té te…

Toe, iewers in die Demokratiese Republiek die Kongo, midde-in rebellefaksies se bloedige oorlog, word hy gevang, as spioen gebrandmerk en voor ’n vuurpeloton gegooi.

’n Polisieman het gelukkig net betyds in-gegryp en sy bas gered.

Dit word sommerso terloops genoem, was maar deel van die reis. Hy had vrede met wat kon gebeur het, want in daardie stadium van sy lewe kon Mike reeds sy lewensfilosofie in ’n enkele sin opsom: “Die onmoontlike bestaan slegs tot jy ’n manier vind om dit moontlik te maak.”

Sedert 1991 het hy dit verder, hoër en dieper as die meeste mense op die aardbol gewaag. Sy CV van adrenaliengedrewe aktiwiteite is ’n miljoen seemyl en nog meer kilometers anderkant indrukwekkend.
Hy is wêreldbekend. Vier top-verkoperboeke oor sy wedervaringe is al gepubliseer en hy is, onder meer, ontvanger van die Laureus-toekenning as Beste Alternatiewe Sportman van die Jaar en Avonturier van die Jaar van Out There-tydskrif. Hy is die real deal, soos die Engelsman sê.

Ons ontmoet mekaar op die seiljag Pangaea, die een waarmee hy die afgelope vier jaar saam met groepe jong avonturiers van al die uithoeke van die aardbol om die wêreld gevaar het. Einde Julie het hy uiteindelik finaal in die Victoria & Alfred-hawe in Kaapstad vasgemeer. Dis dié “jong volwassenes”, soos hy na hulle verwys, wat die nuwe generasie ambassadeurs vir die omgewing gaan wees, meen hy.

Soos die meeste van sy avontuur-idees was die idee van die Pangaea-ekspedisie eenvoudig: een seiljag, vyf oseane, vier jaar. (Pangaea, terloops, beteken “all earth”.)

Tussen 2008 en 2012 het hy groepe omgewingsbewuste tieners gewerf om saam met hom te seil, die uithoeke van die aardbol te ontdek, van bewaring te leer en iets prakties gedoen te kry om ’n verskil te maak.
Dié kennis, glo hy, is ’n belegging vir die toekoms. Jongmense moet verantwoordelikheid aanvaar vir ons planeet se voortbestaan.

Mike is, soos jy kan verwag, seningrig, bruingebrand en geklee in verblykte jeans, T-hemp en plakkies. Hy is 46 en groet met ’n ystergreep wat jou iewers duskant die pyndrumpel laat besef dié vingers het al seile in stormwinde gehys, met yspikke gletsers gekloof en om den lewe geklou aan ’n lyfplank in die stroomversnellings van magtige riviere.

“Ek was as kind al ’n buitelug-outjie,” verduidelik hy. “Ek was nuuskierig oor wat daar aangaan, veral ná ek van ontdekkers soos Shackleton, en Scott en Jacques Cousteau se diepsee-ekspedisies te wete gekom het. Ek het gedroom daaroor om ook die wye wêreld in te vaar en dit self te gaan beleef.”

’n Nuwerwetse Hansie Slim wat nie na sy ma toe teruggehardloop het nie.

Ná verpligte militêre diens en ’n graad in menslike bewegingskunde aan die Universiteit Stellenbosch het hy op ’n dag eenvoudig besluit om al sy aardse besittings by ’n afskeidspartytjie aan sy vriende te gee en sy kinderdrome ’n werklikheid te maak.

“Ek het met ’n rugsak vol klam klere by die (destydse Jan Smuts-) lughawe opgedaag. My ma het die vorige dag als wat ek oorgehad het, gewas. Die plan was om die eerste beskikbare sitplek op ’n vlug oorsee te neem. Die opsies in daai jare (1989) was beperk: Londen, Israel of Switserland.”

Toe kies hy koers Switserland toe, en ry duim tot op ’n klein dorpie aan die voet van sneeubedekte berge.

“Daai berge! En die sneeu! Dit was presies soos ek as kind daaroor gedagdroom het,” vertel hy, nou nog opgewonde.

In die verloop van ’n paar maande het hy

as ’n werknemer by ’n ski-oord homself leer ski. Toe die sneeu begin smelt en die riviere begin swel, het hy die ysige water met enigiets wat kon dryf, aangedurf – nóg ’n nuwe ondervinding.

Op ’n dag kry Mike ’n oproep uit Italië – hulle wil ’n TV-advertensie vir ’n horlosie skiet.

“Die ou sê toe hy hoor ek tuimel by watervalle af asof dit niks is nie en of ek in hulle advertensie ’n waterval van 12 m sal aandurf. Hulle betaal $7 000, en kan ek hom kom ontmoet sodat hy na my CV kan kyk.”

Mike klim op sy fiets, lyfplank op die rug, en trap nege uur lank oor die St. Bernardpas tot by die grenspos met Italië vir die ontmoeting. Daar aangekom, moes hy met die sakkie patats vorendag kom: Daar ís geen CV met vorige ondervinding van waaghalsige toertjies nie!

“Maar ek het my toerusting saamgebring. Kom ek wys jou wat ek kan doen,” het Mike gesê. Die kontrak is daar en dan geteken en dit, basies, was die begin van sy loopbaan.

Dis ’n eensame bedryf, vertel Mike. Hy het sy vrou van meer as twintig jaar, Cathy, en twee dogters, Annika (19) en Jessica (18), gedurende die Pangaea-ekspedisie baie min gesien – vir een maand in vier jaar!

“Dis die opoffering wat ’n mens moet maak. Hulle gee my die vryheid, want hulle weet daarsonder sal ek wegkwyn. Sonder hulle ondersteuning sal my werk nie moontlik wees nie. Ek sê altyd: Dis nie oor ek my gesin haat dat ek die pad vat nie, dis oor ek hulle liefhet dat ek terugkeer.”

Word hy ooit bang? vra ek versigtig, nie soseer vir die nuwe uitdaging wat voorlê nie, maar vir homself… dat hy dalk meer afbyt as wat hy kan kou?

“Daar was al kere – in die Noordpool, die tog deur die Amasone, in Siberië, daai vuurpeloton – dat ek gedink het dis regtig die laaste dag van my lewe. Dis dan wanneer ek myself afvra: Is jy tevrede met wat jy gedoen het? Ek kon elke keer “ja” antwoord.

“Dis seker selfsugtig om so daarna te kyk, maar ek doen wat ek doen nie omdat ek die dood wil tart nie, maar omdat dit my lewendig laat voel.”

Sy jongste avontuur, die Pangaea-ekspedisie, is nou voltrek. Nog ’n inskrywing op sy doen-lysie is afgetik: Om die kennis van die omgewing, wat hy oor bykans twee dekades ingesamel het, met jong dagdromers (soos hy, destyds) te deel. Wat is volgende?

’n Nuwe droom, natuurlik!

’n Groter seiljag – die Panthalassa – ’n katamaran van 70 m lank, slaapplek vir 100 mense en aan boord enigiemand wat ’n betekenis-volle verskil aan die natuur wil maak, of dit nou die plant van koraal in die oseaan of bome in die Amasone is, of die bou van filtreerstelsels in Colombië, wat keer dat die giftige afval van koffiebone in riviere beland.

Hoe werk dit?

“Jy betaal jou kaartjie tot waar die boot is, en ek bied jou die ondervinding van ’n leeftyd,” belowe Mike. “Gratis verblyf en kos.

Al wat ek soek, is jou tyd om iets terug te gee aan die natuur.”

Die gemiddelde lewe, sê Mike Horn half filosofies, bestaan uit 30 000 dae. En jy kan nie een daarvan mors nie!

“’n Lewe sonder uitdagings is g’n lewe nie. As jou drome jou nie bang maak nie, dan is jou drome nie groot genoeg nie.” 

Mike oor die jare


1991

Bereik die piek van die hoogste berg in Peru, die Huascara (6 768 m).

1995
Stel wêreldrekord op nadat hy met ’n hydrospeed oor die hoogste waterval (22 m) in die Pacuare-rivier in Costa Rica afgeduiwel het.
Voltooi die lengte van die Colca-canyon in Peru (die diepste ter wêreld) op ’n hydrospeed-lyfplank.

1997

Oorkruis Suid-Amerika te voet en op hydrospeed via die Amasone-rivier – 7 000 km in ses maande, sonder enige bystand.

2002
Reis na die Noordpool en oorkruis die Arktiese Sirkel tussen 76.5° en 66.5°N.

1999
Reis om die wêreld, ál met die ewenaar langs, sonder enige gemotoriseerde vervoer – 40 000 km in 17 maande.

2006
Word saam met die Noorweegse avonturier Børge Ousland die eerste mense ooit wat tot by die Noordpool stap.

2007
Bereik twee Himalaja-pieke van 8 000 m sonder bykomende suurstof.

2008 – 2012
Die Pangaea-ekspedisie waartydens hy en tieners in vier jaar om die wêreld seil.

2 jong ambassadeurs sê

Henko Roukema (20) van Kaapstad:

“Ek was in 2011 saam met Mike op ’n Arktiese oseaan-ekspe-disie. Sy passie vir die omgewing is ongelooflik en danksy hom het ek dinge gesien en beleef wat ek waarskynlik nooit sou kon nie. Hy beskik oor onskatbare kennis van die natuur en hy deel dit met graagte – ek kan nie dink aan ’n beter rolmodel vir enigiemand nie.”

Inge Pietersen (21) van Pretoria:

“Ek was in 2010 in Mongolië saam met Mike en was ná die tyd ook betrokke by ’n omgewingsprojek in Indië. Mike het my bewus gemaak van die verskil wat één persoon aan die omgewing kan maak.”


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-25°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Cool. PE: 12-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!