Droom vir jou 'n tuin
2010-09-04 13:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Begin by die begin, by jou droom. Bou vir jou ’n droomtuin in jou kop. Soek in tydskrifte prentjies van wat vir jou werk. Plak dit iewers op en begin só bou aan jou droomtuin.
Moenie eens dink aan wat dit jou gaan kos nie. Dit moet jou laaste oorweging wees omdat dit gewoonlik baie goedkoper kan wees as wat jy vermoed. ’n Mens moet net slim dink, beplan en uiteindelik só koop. Moet ook nie dink oor wat nou mode is en hoe die sogenaamde modetuin van die dekade sou lyk nie.
“Ja, dit is seker so dat daar tendense en modegiere is wat tuine betref. En sekere plante is wel die een dag hoogmode om net die seisoen daarna in vergetelheid te verval as die sogenaamde trendsetters hul sin sou kry. Maar uiteindelik gaan dit oor die tuin wat jý wil hê en waarin jy lekker gaan voel.
“Dit is vreeslik indrukwekkend om te kan sê jou ontwerperstuin is uitgelê deur X, Y of Z en het soveel en soveel honderdduisend rand gekos. Maar wat help dit as jy daardie strak tuin met die een titseltjie kleur haat en eintlik iets sou verkies wat soos jou ouma se voortuin vol pers viooltjies en geel gesiggies staan?”
Aan die woord is Jan de Waal, besturende direkteur van Garden World, ’n tuinsentrum in Muldersdrift buite Johannesburg. Dit is duidelik dat die liefde vir tuine en plante diep deur sy are vloei as hy begin filosofeer oor ruimtes buite en hoe ’n mens dit sinvol kan vul. Hy is al jare betrokke in die bedryf en vandag is daar niks wat iemand hom van tuinmaak kan vertel nie.
Tog is sy tuinfilosofie eenvoudig: “Dit gaan oor wat vir jou werk en vir jou mooi is. Ek het vrede met wat in die mode is. Die vuurwarmste plante en tuinmodes op ’n gegewe tyd is dit wat ’n mens graag wil hê en waarvan jy hou. Jy moet elke plant en blom kan geniet, of hy nou in die grond staan of as snyblom in jou huis.”
Sonder dat ’n mens dit regtig besef, vervul jou tuin (of balkon dan) ’n bepaalde behoefte in jou lewe. En dit is daardie einste behoefte wat grootliks sal bepaal hoe jou tuin gaan lyk.
Sommige mense wil eenvoudig ’n mooi landskaptuin hê waarna hulle kan kyk. Ander soek weer ’n plek waar hulle ná ’n dag se werk kan herlaai en die spreekwoordelike rose kan ruik, terwyl ander byna nooit in hul eie tuine kom nie. En as jy nie kry waarna jy onbewustelik soek nie, gaan jou tuin nie vir jou werk nie.
JJ van Rensburg, tuinboukundige by Garden World, stem daarmee saam en voer dit ’n stappie verder deur te verduidelik dat geen tuin ooit werklik klaar is nie.
“Wanneer ’n jong paartjie hul eerste tuin uitlê, is die klem waarskynlik op ’n lekker groot grasperk vir die kleintjies om op te kan speel en honde om op rond te hardloop. Namate die kinders grootword, sal die grasperke kleiner word, met groter klem op byvoorbeeld ’n formele groentetuin of eetbare plante tussen die sierplante. En dan gaan die kinders uit die huis, trou en die kleinkinders kom kuier, wat weer ’n groter grasperk vereis om lekker by Oupa en Ouma te kan speel.
“Sodra jy dus uiteindelik uitkom by die tuin wat jy nog altyd wou hê, sal jy vind dat jou behoeftes verander het en daarmee saam ook hoe jou tuin moet lyk. Dis ’n voortdurende groeiproses.”
As jy egter van die begin af reg beplan het, kan jy aanpas rondom die basis wat aanvanklik vasgelê is.
Hy stel voor jy begin by dit wat die struktuur gaan verskaf aan jou tuin en wat gewoonlik die duurste is. Dit vorm die hoofraamwerk van die tuin en kan bestaan uit groot bome, fonteine, potte of enige fokuspunt.
Dit kan ook baie duur wees (en hier praat ’n mens selfs van miljoene). ’n Klant het byvoorbeeld onlangs soveel as R600?000 betaal net vir ’n enkele muur van mosaïek as fokuspunt in sy tuin. Maar moenie moed verloor nie. Dikwels kan jy presies dieselfde effek kry deur goed rond te kyk en goedkoper te koop.
Onthou ook dat die prys van tuinmaak afhang van die grootte van die plant. Hoe kleiner jy koop, hoe goedkoper sal dit wees. ’n Jong plant kan jou byvoorbeeld R25 kos, terwyl dieselfde plant van twee jaar ouer in die omgewing van R200 sal kos. En dit gaan nie twee jaar neem vir jou jong plant om dieselfde grootte te bereik nie, want plante groei veel vinniger in die grond as in ’n pot.
Daarom is dit goed om altyd die droom in jou geestesoog te hou en soontoe te werk, al vat dit jou tien jaar. Onthou, dit is ’n stokperdjie (hulle sê die grootste ter wêreld) en niemand beoefen sy stokperdjie net ’n naweek lank nie.
Tuinmaak is ’n leefwyse. Dit is iets wat jou jare lank kan besig hou en dis die een ding in die lewe waar jy verseker kan wees jy kry daaruit wat jy ingesit het.
As jy vergeet het ...* Goeie voorbereiding van die grond lê die grondslag vir ’n goeie tuin. Moenie bang wees om die spreekwoordelike R20 vir kompos te betaal om saam met jou plant van R200 te gaan nie. Eintlik moet jy R200 se kompos koop vir ’n plant van R20 as jy regtig die beste uit jou tuin wil hê.
* Koop jou plante by die regte plek. ’n Mens vat tog nie jou hond na ’n tandarts as hy siek is nie. Net so moet jy jou tuingeld bestee by ’n plek waar mense jou die nodige leiding kan gee.
* ’n Mens het passiewe en aktiewe ontspanningsruimtes in jou tuin. Onthou dit en skep só “vertrekke” in jou tuin waar jy rustig kan ontspan en waar die kinders kan speel.
*As jy ’n mooi tuin wil hê, moet jy daarin werk. Net 10% van mense werk regtig in hul tuin. Van die res het die helfte ’n tuinier wat alles doen en die ander helfte staan bekend as “toon-tuiniers”. Hulle loop van bedding na bedding, wys met hul toon en vertel vir iemand anders wat om op daardie plekkie te doen. Dis veel groter pret om een van die 10% te wees.
* Garden World se 13 ontwerperstuine is steeds oop vir die publiek en werklik ’n lus vir die oog. En vir diegene wat idees soek, is dit die plek om inspirasie te kry. Bel die sentrum by 011 957 2046
’n Tuin vir die kinders Een van die groot modewoorde in tuinboukringe vandag is kindersensoriese tuine.
Dit is ’n groot woord vir iets wat eintlik maar net ’n tuin is waarin ’n kind gelukkig sal kan speel en iets kan leer.
JJ van Rensburg sê hoewel hy nie glo in voorskrifte wanneer dit by tuine kom nie, is daar tog ’n paar elemente wat enige sensoriese tuin vir kinders moet hê. Onthou dat dit só ontwerp moet word dat al die sintuie van die kind ingespan kan word.
Elemente waaraan aandag gegee behoort te word, is onder meer:
1. Plant plante wat voëls sal lok – nie net vir die kos nie, maar ook om nessies in te bou en soggens die kleingoed wakker te sing.
2. Sorg vir plante met verskillende geure – van blomme tot kruie. Die roos se soet geure kan afgewissel word met laventel, suurlemoen en byvoorbeeld basiliekruid wat die verskillende soorte geure kan uitwys.
3. ’n Kindertuin moet klem lê op verskillende kleure. Kinders word veral gestimuleer deur helderkleurige blomme soos papawers en gesiggies. Leer hulle dat kleur ’n bepaalde stemming oordra. In die winter soek ons helder kleure om die koue uit te sluit en lewe te simboliseer, terwyl jy in die somer smag na die sagter bloue en perse om die hitte te breek.
4. Wissel die grasperk af met areas waar kinders kan loop op boombas of klippies of selfs sand en skep só self goedkoop voetmasserings vir jou kind.
5. Sorg dat jy plante met verskillende teksture aanplant. As jy nie bome met verskillende soorte bas kan inbring nie, kan jy sorg vir plante met verskillende teksture in die blare.
6. Lok insekte en skoenlappers met die regte plante. Baie kinders het byvoorbeeld nog nooit ’n regte sprinkaan in die tuin gesien nie. En skoenlappers raak toenemend iets wat net in prentjies bestaan. Die regte plante kan dit verander.
7. As ’n mens dit kan bekostig, is ’n klein visdammetjie (wat beveilig is) met vissies in jou tuin die ideale manier om die kleingoed te leer van afskeid neem. Veral as hulle self vir die vissies sorg en hulle moet begrawe as die ergste gebeur.
8. Die belangrikste van alles: Kry hulle betrokke by die tuinmaak. Só leer hulle van seisoene, dat daar ’n tyd is vir voorbereiding, plant, oes en afsluit wanneer hulle alles moet uittrek om plek te maak vir die nuwe plante in ’n volgende siklus.
Wenk! Kinders word veral gestimuleer deur helderkleurige blomme soos papawers en gesiggies.
- Rapport