Duur diagnose
2013-02-02 23:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek was nog net ’n enkele keer by die geboorte van ’n mens teenwoordig. My eie. En dit was die eerste keer dat ek ’n dokter aanskou het.
Was dit maar ook die laaste gewees…
Maar toe ek hom so loer, nadat ek die vrugwater uit my oë gevee het, het ek geweet: Van jou soort sal ek nooit ontslae wees nie. Klein soos ek was, het ek natuurlik reg gehad, want dit is net ’n handjievol geseëndes wat nooit siek word nie.
My effens negatiewe beskouing aangaande dokters het onlangs ’n nuwe dimensie ryker geword. Ek is deur welmenende vriende na die volmaakte huisarts verwys: Sy bedside manner is subliem; hy behandel sy pasiënte as ménse; hy maak hom nie aan oorhaastigheid skuldig nie, want hy is duur genoeg om ordentlike wins uit ’n veel kleiner omset te maak.
My kwaal was die begin van ’n liesbreuk, het ek vermoed, maar ek wou sekerheid hê sodat ek die nodige lapwerk kon laat doen, sou dit nodig wees.
Die nuwe dokter het my binne sekondes op my gemak gestel voor hy my versoek het om die kwellende liggaamsdeel bloot te lê.
Hy het sy wysvinger op die ertjiegrootte bultjie geplaas en sagkens drukking daarop uitgeoefen. Sagkens, tot daardie kundige vingerpunt die effense skeurtjie in my
liesvlies gevind, dit wyd oopgedwing en my buikholte binnegedring het – ’n erg pynlike ervaring.
Toe die dokter sy vinger uit my lyf haal, het ’n stewige bult in dié se plek verskyn, wat hy terstond deeglik bestudeer het.
“Sonder twyfel ’n liesbreuk – ons sal moet opereer,” het hy verklaar.
Sedertdien druk ek my derms maar op gereelde grondslag terug deur die skeur in afwagting op die afspraak wat my goedkoper, meer stugge dokter vir my by die hospitaal gemaak het.
Jan van Tonder is die skrywer van onder meer Roepman.