GEITE & GIERE: Kyk ‘n voël!

2012-10-21 14:52

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Al moet jy jou kamoefleer of jou kano soos ’n boomstomp laat lyk, moderne voëlkykers dink groen: Hulle respekteer die natuur om hulle stokperdjie te beoefen. En hulle is baie vindingryk as dit by die hóé en wáár kom!

Hulle beweeg geruisloos deur die gras, verkyker en voëlboek in die hand… Maar deesdae se voëlkykers kyk waar hulle trap om nie die natuur te versteur nie.

Daar is min stokperdjies wat jy feitlik enige tyd, enige plek in die wêreld kan beoefen, selfs in die oggendverkeer op pad werk toe. Kyk maar, ’n paar witborskraaie vlieg vinniger as wat die verkeer beweeg om die nag se padslagoffers op te pik. Dan verby die vleiland waar daar miskien ’n lepelaar of ’n paar kormorante oorvlieg. By die lughawe is ek op die uitkyk vir die indringer-huiskraai wat op pale sit en skel oor alles. Waar die ou kragstasie was, val jou oog dalk op die edelvalke wat hulle daar gevestig het. Seemeeue en rooipoot-elsies draai oor die rivier.

Só word die frustrasie in die verkeer minder, en kan ek my dag begin met my gunsteling-tydverdryf: om voëls te kyk. En dit is nie net ek nie.

Die eerste swart waterploeër (“black skimmer”) wat ooit in  Suid-Afrika bevestig is, het vroeg dié maand by Rietvlei in die Kaap sy verskyning gemaak. Dié voëls migreer gewoonlik tussen Noord- en Suid-Amerika. ’n Swart waterploeër is in Augustus, kort ná orkaan Isaac die ooskus van Amerika getref het, in Ierland opgemerk. Dis moontlik dié een wat van koers afgewaai is en toe instinktief suidwaarts begin vlieg het.

Binne ’n uur was die eerste 50 voël¬kykers al daar. Mense het verlof ingesit, honderde kilometers gery, gevlieg van oor die hele land – spesiaal om dié seldsaamheid te sien. Die voël het ná twee dae verdwyn en ’n dag later is ’n Skimmer by Walvisbaai opgemerk – moontlik dieselfde een, want hy/sy het dieselfde merke aan die kop. ’n Groepie vriende het van Johannesburg af Kaap toe gevlieg, maar moes hoor die voël is ’n paar uur terug al weg. Teleurgesteld is hulle terug, net om te hoor van die Walvisbaai-vonds. Weer in die vliegtuig, dié keer Namibië toe, en daar kon hulle darem hulle “prys” kry!

Baie voëlkykers hou ’n persoonlike lys van elke nuwe spesie wat hulle sien en elke honderdtal is ’n groot mylpaal – jy’s lid van die 800-, 900- of 1 000-klub. En as jy internasionaal rondrits, kan jy selfs die 2 000-merk haal.

Dis juis die nastreef van meer voëls op die lys wat van Suid-Afrika ’n gewilde bestemming vir oorsese voëlkykers maak. Ons het  meer as 900 voëls, waaronder 177 spesies wat net in Suid- of Suider-Afrika voorkom. Ons groot verskeidenheid bome, goeie pad-infrastruktuur, kundige voëlgidse en goeie verblyf lok die buitelanders.   

Met ’n geskatte inkomste van meer as R600 miljoen per jaar (so 10% gaan direk aan landelike gemeenskappe) is die impak van die voëlkykbedryf in Suid-Afrika enorm. Dis ook een van die stokperdjies ter wêreld wat die vinnigste groei.

Sommige voëlkykers geniet dit weer om net die gedrag en gewoontes van voëls dop te hou. Om te kyk hoe ’n mossie ’n windverwaaide veer agternasit, hoe bleshoenders mekaar met piesangpote te lyf gaan, of hoe ’n jong witkruisarend met klippe en stokke speel om sy jagvernuf te verbeter. Die eie gewoontetjies van die janfrederik wat elke dag in die tuin sing. Dit gaan nie hier oor nuwe spesies waarneem nie, maar om ou bekendes beter te leer ken.

En dan is daar natuurlik die voëlfotograwe.

Vir gewone voëlkyk is ’n goeie verkyker voldoende. As jy egter goeie toerus¬ting vir voëlfotografie wil aanskaf, kan dit jou die prys van ’n nuwe motor kos. En jy sal ’n rekenaar en sagteware nodig hê om die foto’s te verwerk.

Maar die beloning is ’n nuwe dimensie aan voëlkyk – jy word ’n “jagter” met jou kamera. Dis ’n lekker stokperdjie vir jonk, oud, selfs gestremd, want jy kan vanuit jou motor foto’s neem. Jy kan ook spesiale moeite doen en vir jou ’n paar kostuums prakseer – van ’n koei- tot ’n volstruiskostuum – om net ’n bietjie nader aan jou onderwerp te kom.

Ek het byvoorbeeld my kano in ’n drywende voëlskuiling omskep. Ek het ook ’n mantel uit kamoefleernet gemaak. Hiermee kan ek doodstil in die veld staan en gou raak die voëls gewoond aan my en kom hulle nader.

Eendag, ná ’n uur se doodstil staan, het ’n huiltinktinkie te mak geraak en op my kamera kom sit pleks van op die takkie voor my!

Ons het mekaar in die oë gekyk en toe is hy vort…  

* Saterdag 24 November is 
Birdlife Suid-Afrika se Groot Voëlkykdag.

Wat het ek nodig?


Die eerste stap as jy wil begin voëls kyk, is ’n voëlgids en verkyker.

Skaf die beste verkyker aan wat jy kan bekostig. ’n Goedkoper een sal waarskynlik later vervang moet word, terwyl die topmodelle lewenslank kan hou. Die vergroting moet minstens 8x wees, maar verkieslik 10x. Dit moet ook liefs 40 mm of groter wees om goeie beligting toe te laat. Die vermoë om naby te fokus is ook nuttig, en duursaamheid, stof- en waterweerstand is groot voordele.

Daar is verskeie goeie voëlgidse beskikbaar. Dit moet goeie illustrasies hê, verspreidingskaarte en ’n deeglike beskrywing, veral van die verskille tussen spesies wat baie dieselfde lyk. Betroubare titels is die immergroen Sasol Voëls van Suider-Afrika (Struik, R260) en die splinternuwe Roberts Geographic Variation of Southern African Birds Annual 2 (Jacana, R220).

Daar is ook verskeie elektroniese voëlgidse, wat sowel illustrasies as die voël se roep gee. Baie nuttig om saam te dra.

Hoe identifiseer ek ’n voël?

Daar staan jy nou met jou nuwe verkyker en boek in die hand. Wat nou?

Neem eerstens jou streek in ag. Indien moontlik, kry ’n streekboek of streeklys. Jy sal dan weet jy soek verniet na ’n witkruisarend op Robbeneiland.

’n Mens is geneig om eerste na die kleur van ’n voël te kyk. Dit kan tot groot verwarring lei, soos die keer toe iemand ’n voëlrehabiliteerder laat kom het om ’n beseerde witkruisarend te help. Gewapen met dik handskoene en ’n groot voëlkou het hy ’n klein witkruis-windswaeltjie aangetref. Dit is tog swart met wit oor die rug!  

1 Begin met vorm en grootte. Vergelyk die voël met iets wat jy ken, soos ’n duif. Vergelyk dan die afmetings van die voël in jou boek.   
2 Is sy pote gemaak om te hardloop? Geweb vir swem? Kloue vir prooi vang?  
3 Is die bek kort en dik vir sade oopkraak? Fyn gepunt vir insekte vang? Gehaak om vleis te skeur?
4 Voëlgedrag is net so belangrik. Skuil hy tussen bossies? Sit hy bo-op die boom of in die boom tussen takke? Of op ’n sytak van waar hy insekte kan buitmaak, byvoorbeeld die vlieëvangers?
5 Nou kan kleur hopelik jou raaisel begin oplos.  
6 Gehoor bly egter die beste wapen wanneer voëls moeilik op sig uit te ken is. Leer die verskillende voëlroepe ken en jy sal later met sekerheid ’n voël toe-oë kan identifiseer.
Dis altyd goed om by ’n voëlklub aan te sluit. Soek iemand met ’n goeie voëlkennis en probeer soveel moontlik saam met hulle gaan voëls kyk. ’n Goeie leermeester is goud werd.

Waar kry ek inligting?

• Die meeste provinsies het deesdae gekaarte voëlroetes wat stilhouplekke, verblyf, ens. aanbeveel. Gaan kyk by www.birdingroutes.co.za.
• Om meer uit te vind oor voëlklubs, -toere, -kursusse en baie meer, gaan na www.birdlife.org.za.
• Vir die Wes-Kaap is daar www.westerncapebirding.co.za.
• Vir Pretoria en Noord-Gauteng is daar www.blng.co.za.

Op safari


Cheetah Plains in Sabi Sands (013 751 3270, www.cheetahplains.com) en Jaci’s Lodges in Madikwe (083 700 2071, www.madikwe.com) bied nou voëlkyk-safari’s saam met die voëlkenner en -fotograaf Martin Benadie aan.

13 000 spesies in jou broeksak of boeksak


Die BirdsEye BirdLog-app vir iPad-, iPhone- of Android-toestelle is ’n oulike manier om rekord te hou van die voëls wat jy sien – en boonop word die inligting wat jy invoer direk opgelaai na die eBird.org-webwerf wat die data gebruik vir navorsing om voëls te help beskerm. Die app bied ’n volledige taksonomie van ongeveer 13 000 spesies en jy kan lyste opbou van voëls wat jy gesien het en jou besigtigings deel met ’n netwerk van ywerige voëlkykers. Die app kos $24,99 (ongeveer R200) en is beskikbaar in die iTunes-winkel of by Google Play.




Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-25°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 2-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Cool. PE: 13-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Insurance Sales Consultants

East Rand
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 000 - R28 000 Per Month

Audit Manager - Capital Markets / Investment Banking

Johannesburg
SET Recruitment Consultants
R700 000 - R850 000 Per Year

Administration

Pretoria East
4D Short Term Consulting

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!