Geite & giere: Elke man in sy grot!

2012-10-17 14:32

Dit moes een van die eerste woorde op aarde gewees het: Grot.

Nog lank voor Fred Flintstone en sy boesemvriend, Barney, hulle na die naaste klipkroeg kon wend om weg te kom van hulle vroue se gesanik, was ganse families dag en nag saam ingekerker in hulle grotte. Vroue het natuurlik gou vir hulle ’n hoekie uitgesonder om mammoet-sop, T-bone-Rex-steaks en dies meer te maak. Maar vir die arme mans was daar geen toevlug ná ’n harde dag se gejag nie.

Dit het hulle ’n ruk geneem om hulle kleim af te steek, so ’n paar honderdmiljoen jaar of wat (om nie presies te wees nie).

Nog onlangs was daar ’n liederlike oomblik in die 80’s toe baie druk op mans uitgeoefen is om “sensitief” te wees en te “praat oor hulle gevoelens”. Hierdie druk het later so groot geword dat ’n jong skrywer, ene Jason Partridge, in die Britse GQ-tydskrif gekla het: “Ons word grootgemaak om stil, sterk voorsieners vir ons gesinne te wees, terwyl ons deur ontelbare vrouetydskrifte aangepor word om die sensitiewe, oplettende man te wees wat sy gevoelslewe kan deel – net om uiteindelik verwerp te word deur vroue wat hulle harte op ’n swierbol of pierrewaaier wil verloor.”

Hokaai, het die sogenaamde mitopoëtiese skrywers soos Robert Bly en Sam Keen teruggekap: “Mans het nou hulle ware identiteit verloor, hulle manlikheid prysgegee. Al die korporatiewe laventelhaantjies en swierige klein jappies so netjies toegespyker in hulle pin-stripe-pakkies moet weer die wilde man in hulle diepste psiges herontdek en vry maak.”

Die resultaat was skrikwekkend: Duisende maer, muesli-gedrewe mans met bandanas vir kopdoeke.

Maar tog het daar êrens ’n kollektiewe bewustheid onder mans ontwikkel wat hulle ’n nuutgevonde gevoel van bestaansreg gegee het. En dis hierdie mans wat daardie vryheid vier deur terug te keer na hulle grotte.

Die fenomeen van die moderne mangrot – ’n vertrek in die huis wat afgesonder word vir die eksklusiewe gebruik deur ’n man en sy vriende – is die eerste keer behoorlik aan die wêreld bekend gestel deur Tony “The Goose” Siragusa, die gewese Amerikaanse NFL-sensasie (National Football League), toe hy in 2007 as aanbieder begin optree het in Man Caves. In dié program besoek Siragusa verskeie mangrotte, wat dan op ’n merieteskaal beoordeel word.

Die neiging van byderwetse mans om tevrede te wees met net die tradisionele studeerkamer of werksplek in die motorhuis het glo vervaag, volgens die Johannesburgse verhoudingsterapeut Peter Armstrong.

“Ouens soek nou plek om te speel,” sê hy. Só ’n man se grot is nie net ’n plek waar hy sy ou Debbie does Dallas-video kan afstof sonder onderbrekings nie. Daar moet plek gemaak word vir alles van ’n pinball-masjien tot ’n kroeg.

“Dié fenomeen kan wees as gevolg van mans wat hulle van hulle eng rolle as voorsieners begin loswikkel en af-tyd soek. Of eenvoudig oor die enorme verskeidenheid nuwe speelgoed wat vir mans beskikbaar is,” meen Peter. 

In April vanjaar het die organiseerders van Decorex in Kaapstad besluit om ontwerpers te nader om mangrotte vir ’n paar van ons bekendste grotmanne te ontwerp. Só was dit die Top Billing-aanbieder en ontwerper Aidan Bennetts se eer om vir die Skinstad-broers (Bob en Dan) ’n grotjie te skep. Later, op die Durban Decorex, was dit die Sharks-speler Ryan Kankowski wat sy eie grot gekry het, en in Augustus in Johannesburg was nóg vier celeb-grotte te sien.

Volgens die kommunikasiekonsultant Jacqui Myburgh, wat as skakelbeampte vir die projek opgetree het, het mans nou hulle eendimensionele rol as broodwinner ontgroei en is hulle geregtig op ’n private plekkie in die huis.

“Waar is mansmense veronderstel om hulle boy toys te sit?” vra sy, voordat sy erken die idee is moontlik ’n sameswering van vroue om mans se “gemors” uit die sitkamer en slaapkamer te hou. (Jacqui erken haar man was “baie lanklaas” in sy grot nadat sy die koudste vertrek in die huis vir hom uitgesoek het.)

Neels Louw, eienaar van Big Boyz Corporate Ventures, ’n sekuriteitsmaatskappy, en Mubuyu Safaris, wat jag- en visvangtoere aanbied, sien uit dat die grot in sy nuwe huis in Irene, Pretoria, klaarkom: “Party mense hou nie daarvan om te sien hoe ek my ammunisie laai nie. Daarom soek ek ’n plek vir al my visvang-, duik- en jaggoed.” Hy voel ook dis die regte plek vir sy jagtrofeë soos bokkoppe.

Richard Calitz, ’n 33-jarige ingenieurskonsultant van Kaapstad, beskryf sy grot as sy happy place. Hy het dit in gedagte gehou toe hy die huis gekoop het, en dit het “organies ontwikkel”.

Hy beskryf homself as ’n “Renaissance-man” en ’n “Jack-of-all-trades” met ’n breë belangstellingsveld. Hy het dus plek nodig vir al sy “goeters”.

“Ek neem elektroniese musiek op, dus is my trom-masjien en al my toerusting daar,” verduidelik hy. “Ek speel ook kitaar en klawerbord. Dit word alles daar gehou saam met my branderplank en ander sportgereedskap. Ek het selfs ’n gholfsak. Speel so een keer per jaar, maar ’n man moet ’n gholfsak hê.”

Hy gebruik ook die ruimte om sy eie bier te brou. Die enorme emmers en goed “pas nie so mooi in by my vrou se binneversiering nie”.  

WATTER SOORT IS JY?

Daar’s basies twee soorte mangrotte: die Premium-grot en die Gomgrot of Gomgatgrot. Die derde soort sou alles tussenin kon wees…

In die Premium-grot

• En suite-badkamer met ’n neushaarverwyderaar en allerhande velmiddels, poeiers en ander versorgingsprodukte.
• Kristalfles en glase met konjak.
• Bevogtiger met Cohimbra-sigare.
• Maroen syjapon en gespikkelde halsdoek met leer-pantoffels.
• Donkerbruin leerrusbank met bypassende ottoman en outomatiese Joy-recliner van Chateaux d’Ax.
• Geborselde of sweedsleer-handskoene en boks met gegeurde papier-snesies op mobiele skinkbord-tafeltjie langs
die rusbank.
• Kaggel onder gekruisde swaarde (of minstens ’n opgestopte swaardvis).
• Die opgestopte kop van ’n buffel/leeu teen die muur langs die familiewapen.
• Uitgebreide biblioteek met hardebandboeke van skrywers met onuitspreekbare name.
• HD-platskermtelevisie. En ’n Bang & Olufsen-musieksentrum…
• Vollengte eikehout-snoekertafel.
• Eksemplaar van die Kama Sutra in Sanskrit op antieke koffietafel.
• Europese flieks en Japannese pornografie.
• Geraamde foto van die eienaar saam met Nelson Mandela.

In die Gomgatgrot


• Geraamde foto’s van Bosveld-jagtogte/Spur-aande met bierblikke omhoog.
• Wapenkas met messe en gewere.
• Vierkleurvlag teen muur langs daai vis wat sy kop skud en sing as jy ’n knoppie druk.
• Ou video’s van TV-reekse soos Baywatch, Bromance en Jackass.
• Kroegtoonbank met drupmatjies van 150 internasionale bierpromosies.
• Gewig-optelstoel met lae-kaliber-staafgewigte.
• Pinball-masjien.
• Pool-tafel met blou vilt.
• Vuvuzela.
• Playboy se Vargas-meisie-asbakkies.
• Rak met versameling speelgoed-karretjies.
• Ou Scope-tydskrifte.
• Posters van die McGregor-susters, Lee-Ann Liebenberg, Kanyi Mbau en Arnold Schwarzenegger.
(Oor 50’s: Raquel Welch/Farrah Fawcett of Bo Derek.)

7 WÊRELDBEKENDE GROTMANNE

Die noemenswaardigste mangrotbewoner is sekerlik Mark Twain. Hy’t twee grotte gehad: die berugte snoekerkamer, wat die ganse boonste verdieping van sy drieverdiepinghuis in Hartford, Connecticut, beslaan het, en sy beroemde agthoekige Victoriaanse “skrywershut” (oftewel gazebo) op sy suster Elmira se “upstate” New York-erf met ’n 360 grade-uitsig.

Grootmeneer Ernest Hemingway se skrywersateljee in Key West, Florida, kompleet met Karibiese rottang-meubels, tikmasjien, Kubaanse sigaarmakerstoel en opgestopte vis- en bokkoppe.

Die ewe entoesiastiese jagter en 26ste president van Amerika (1901 tot 1909), Theodore Roosevelt, se jagtrofee-kamer in Oyster Bay, New York, met luiperdvel-rusbanktooisel, olifanttande en bisonkoppe weerskante van die kaggel.

Charles Darwin se studeerkamer met die stapels boeke, dierskedels en versamelings plante en insekte, wat hy op sy wêreldreise versamel het om evolusie te verduidelik.

Britse premier Winston Churchill se kunsateljee – sy geliefkoosde heenkome om die swart hond van depressie op ’n afstand te hou, gewapen met sy kwaste en olieverf.

Die uitvinder van die grammafoon, rolprentkamera en gloeilamp, Thomas Edison, se biblioteek in sy bekende “Invention Factory” in New Jersey met sy geliefkoosde roltop-lessenaar.

Die Wright-broers se fietswinkel – wat as inspirasie gedien het vir die uitvinding van die vliegtuig.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-15°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 5-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-27°C Sunny. Warm. PE: 10-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!