Gesoek: kos-kokkedoor

2013-02-23 23:01

Errieda du Toit | FOTO: JAN RAS

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ons sien hulle sit op TV terwyl hulle deelnemers se kospogings proe en kommentaar lewer (soet of sout). Errieda du Toit was een van die beoordelaars in kykNET se nuwe kos-realiteitsreeks Kokkedoor 2013. En sy’t hulle almal ontmoet… ook die man met die tuna-stroopwafel.

Dit was die beste van tye. Dit was die slegste van tye.”

Iewers het Charles Dickens in my tassie beland tydens die onthoukos-oudisies in Kaapstad, Bloemfontein, Gauteng en Prins Albert, wat ek as proe-adviseur op die Kokkedoor-beoordelaarspaneel meegemaak het. Dickens moes ’n lêplek skrop tussen die antisuur-tablette en goormaag-medisyne – vir die wis en die onwis.

’n Enorme eetlus en avontuurlike palet is standaard in my reistas. Wat ek onderskat het, is hoe intiem vertellinge van onthoukos sou wees, hoe betraand dit my by tye sou laat… 

Vertel my wat jy eet en ek sal jou vertel wie jy is, het die Franse gastronoom Jean Anthelme Brillat-Savarin in die 18de eeu geskryf.

Hoe berei jy jou werklik voor om ’n nimmer-eindigende stroom hoopvolle sjefs en tuiskokke se oudisie-offers op die tong te takseer?

Daar wás oomblikke dat die soveelste kamma-kreefkelkie my koud gelaat het, of die stemme van Rachel Ray, Paula Deen en die Barefoot Contessa van ingevoerde kostelevisie ons eie ikoonstemme soos Ina de Villiers, Louis Leipoldt, Topsi Venter en Peter Veldsman doodgepraat het.

Dan kom staan ’n Namakwalander voor ons met ’n skotteltjie en ’n meelsakkie vol droë gis. Tannie Skuinskoek, het ons haar gedoop. Ek en my medebeoordelaars staan in verwondering terwyl dié vrou vertel van die gis wat van jongby-larwes gemaak word. Die skuinsgesnyde, broderige, koekerige “oliebolle” smaak nie net na anys nie.

Ek weet nou hoe proe die sout van die aarde! 

Moenie vir ’n oomblik die proe-proses romantiseer nie. Ek steier steeds onder die bisarre kombinasie van pas ontdooide, bevrore wafels en goue stroop met ’n blob tuna-mayonnaise bo-op.

“Het jy die wafels dalk self gemaak? Die mayonnaise? Die tuna self gevang?”

Gelukkig was daar ook die bekende, soos toe ’n dominee van Van Zylsrus vir ons een van die beste melkterte van die hele oudisietoer voorgesit het.  

PADKOS bly ongetwyfeld ’n gewyde ritueel in ons kos-erfenis. Die mandjie se inhoud word met groot seremonie onthul. Frikkadelle eerste. Daar’s koue skaapnek, wat met ’n knipmes gekerf word. As dit skaapboud is, hang daar ’n oomblik se stilte oor die tafel. Hoenderboudjies word sonder trompetgeskal uitgepak. Toebroodjies met imposante vulsels, geskilde turksvye en tuisgemaakte limonade word met fanfare voorgesit. En ’n soetdingetjie. Die gemmerbier sis as die proppe afgedraai word…

Die mees onthoubare ervaringe het uit ’n trommeltjie, ’n tassie of ’n koekblik gekom. Hoe meer ingeleef, hoe meer treffend die onthoukos, asof elke duikie en skrapie aan die trommel sy eie storie te vertelle het. 

In Kaapstad maak ’n ouer man met ’n walrus-snor ’n ou koekblik met sy yslike, deurwinterde hande oop (hy was ’n kok op vistreilers).

“Ek het vandag vir julle my ouma se skurwe-jantjies gemaak.”

Daar, in die onpersoonlike oudisiekamer, raak ons almal verlief op Oom Snorre: ’n groot man met ’n sagte plekkie vir soetkoekies. 

Dis asof die nederige skurwejantjies die sluise ooptrek vir ’n vloedgolf kreatiewe vertolkings van onthoukos deur jong kokke en sjefs. ’n Energieke jong sjef met ’n bos krulhare maak ’n Bolandse mosbolletjie-“pizza”-basis waarop hy kerrievis en hande vol vars tuinkruie uitpak; ’n ander sit ’n robuuste volstruisterrien met pruimblatjang voor; daar’s malvapoeding-kolwyntjies met ’n melktert-hart; sult met plaasbrood en tuisgemaakte botter; gerookte snoek met appelkoosjellie; ’n tamboesie-nagereg wat as ambassadeur vir ons erfkos by ’n Verenigde Nasies van Smulpape kan diens doen. 

Saans, ná ’n marathon-proesessie, kom die paneellede grys om die kiewe en stokflou in die hotelkroeg bymekaar. Hier en daar bestel iemand ’n bier, maar niemand het krag vir eet nie. Ons besing die gewildheid van malvapoeding en Hertzoggies, gesels oor die hardnekkige teenwoordigheid van soutterte en quiches; die smaak van uiesoppoeier wat soms deurslaan.

Ons stry weer oor die meriete van die roosgegeurde melktert en die kondensmelktee in blomkoppies, wat kompleet met spesiale effekte (’n miswolk van roosgegeurde droë ys) op ’n blink skinkbord bedien is deur ’n dashing jong man in ’n swart sjefsbaadjie met swart leerhandskoene.

Smoke and mirrors, reken sjef Nic van Wyk, wat saam met sjef Hetta van Deventer die beoordelaars in die reeks is.

Ek reken weer dit was drama, vernuwing en ’n mooi ode aan die jong man se ouma.

MARK VELTMAN, die Engelssprekende TV-kenner op die paneel, het tydens die oudisies vir die eerste keer kennis gemaak met sult, slaphak-skeentjies en ander plaaskos. Hy was so beïndruk met Tannie Poppie se feesbord vol tradisionele lekkernye dat hy haar dadelik gevra het om sy ouma te word.

In Gauteng was die oudisie-getalle so hoog dat ons die proe-spanne moes verdeel, en ek het heeltyd gevoel ek loop iets mis.

“Jy moes Nic se gesig gesien het toe ’n vrou ’n leë blik voor hom neersit,” lig Paul Venter van Homebrew Films my in. Nic se wind is uit sy seile geneem deur ’n deelnemer wat niks opgedis het nie. “Ek het vir julle ’n poets gebak!” was haar verduideliking.

Boob tubes en bultende boesems het ook hulle verskyning gemaak, asof die vleeslike valleie en dale die oog moes weglei van die bra (!) gemiddelde oudisie-geregte. Ek kon op ’n keer nie die sterk bo-arms en breë skouers van ’n skaapboer miskyk nie – jammer die vleispaleis se winkel-wrap was te lig in die broek.  

Vir elke skelpienk aarbei-jogurt-yskastert met hundreds and thousands is daar ’n slopie anysbe-skuit, ’n flessie vyekonfyt of perskesnippers wat ons week laat. Vir elke uitspattige cupcake is daar ’n waaghalsige siel wat rondspeel met boegoe en wingerdblare of beet uit sy jellievorm bevry. ’n Peppermint crisp-tert herroep koshuiskamers en skoolkampe. Gedekonstrueerde bobotie word piekniekkos, lekker en mooi.

Maar ek sluk nog swaar aan die gedagte van hoenderslaai met kanariegeel grenadella-jogurt, en wonder hoe Cremoratert so ’n houvas gekry het. Dan onthou ek vir Selma, wat haar mooiste kolletjiesrok vir die oudisie aangetrek en versigtig haar erfstuk-teeservies ingepak het om ’n outydse somer-perskepoeding vir ons te kom voorsit.

“My ouma het die perskes met ’n ou handmeultjie gemaal, die styfgeklopte eierwitte ingevou en van die eiergele ’n dun vla gemaak, net soos haar ma – my oumagrootjie – dit in die somer op die koel stoep van haar Karoohuis bedien het.”

Vir sulke onthoukos het ’n mens ’n kantsakdoekie nodig. Nie Rennies nie.

Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger van Kokkedoor 2013, ’n vryskut-kosskrywer en die huiskok van RSG Huiskok Glanskok.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 2-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 1-9°C Sunny. Cool. Bfn: -2-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-19°C Mostly sunny. Cool. PE: 7-17°C More sun than clouds. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!