Goeie flieks & nostalgie...
2011-05-07 19:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit was ’n wolklose aand einde November toe ’n groep mense hul motors staangemaak het by Bosman’s Crossing in Stellenbosch. Die doel: om op die outydse manier ’n inry-fliek te kom kyk.
Die musikant Melissa Ousus van der Spuy was ook daar. Sy het saam met ’n groep vriendinne – Mitzi Chopper Gilbert, Christine XTC Moller en Ingrid Bliengrid Blumer wat saam as Die Bliengs bekend is – opgedaag in haar motor, Hotwheels.
Getrou aan die retro en effense zef aard van die aand, het Bliengrid luukse rooi vlamme gemaak waarmee die motor “versier” is.
En op Die Bliengs se spyskaart was: Cheesegriller-worsbroodjies, viennas, pynappel, kaas en cocktail-uitjies op stokkies wat in ’n pynappel gesteek is. Hier skop die nostalgie vir ons almal nogal sterk in. Very early 80s move, daai pynappel met stokkies. Daar was ook ’n poging om groen koeldrank te laat herleef, maar in ’n meer volwasse gedaante. Mainstay en Cream Soda.
Die inry-teaterervaring was oorspronklik die idee van Werner de Swardt, die eienaar van Stellenbosch se hoogaangeskrewe Filmhouse DVD’s wat bekend is om sy groot versameling kuns- en kultusflieks, asook Pierre Lombard, ’n jong rolprentmaker en die eienaar van Cinemuse, waar hy probeer om die publiek bloot te stel aan meer verrykende rolprente en om dit toegankliker te maak.
Soms sorg Pierre en Werner dat dit tyd is vir inry, maar benewens die inry-aande is dit klokslag elke Maandag- en Donderdagaand in Stellenbosch tyd vir goeie rolprente van oor die hele wêreld.
Pierre verkies om nie die term “kunsfliek” te gebruik nie, want hy meen dit word onkrities toegeken aan enige nie-Amerikaanse, onafhanklike fliek.
Cinemuse vertoon meestal ouer flieks soos Stanley Kubrick se A Clockwork Orange, Emir Kusturica se Black Cat , White Cat en Federico Fellini se La Dolce Vita. Die “teater” is ’n groot vertrek bokant die bekende restaurant 5 Ryneveld. Sowat ’n halfuur voordat die fliek begin wys, begin mense al die sitplekke uit die 1960’s en 1970’s volsit. Gereelde besoekers aan die Cinemuse-vertonings weet al presies watter van die sitplekke is die gemaklikste.
Nadat hy graad gekry het, het Pierre ’n jaar lank gestudeer by Spellbound Education, ’n organisasie wat nie meer bestaan nie, maar mense destyds voorberei het op die werkomgewing en hulle gehelp het om ’n unieke bydrae tot die samelewing te lewer. Daar het hy besef sy werklike toekoms lê in die rolprentwese.
Die idee van flieks by Ryneveld wys, het posgevat toe hy in Londen was.
“By die Britse Filminstituut in Waterloo is ek oorweldig deur die verskeidenheid prente wat op DVD beskikbaar is. Ek het ’n goeie motivering gesoek om my uitgawe te regverdig. Ek het gedink aan 5 Ryneveld en gehoop ek sou toegelaat word om die flieks hier te kyk en vriende saam te nooi. Maar my paar DVD’s het nie lank gehou nie. Ná ’n ruk het ek Werner de Swardt van Filmhouse DVD’s ontmoet en danksy sy invloed het my aptyt vir hoofstroom-rolprente afgeneem.”
Ná die vertonings by 5 Ryneveld vind daar soms spontaan besprekings plaas en só ontdek mense die verskillende elemente in die flieks wat hulle nie voorheen sou raaksien nie.
“Ek wil graag ’n bydrae lewer tot die dialoog oor die rolprentwese,” sê Pierre.
“Ons blootstelling is hoofsaaklik aan Amerikaanse rolprente. ’n Mens moet gewoonlik moeite doen om ’n fliek te sien wat meer bied as die oppervlakkighede van die meeste hoofstroomflieks. Die Amerikaners se bemarking is briljant en ons neig om vas te klou aan dit wat hulle vir ons aanbied.”
Pierre, wat Cinemuse as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer het, glo blootstelling aan net een rolprentkultuur is negatief. “Ek het my eie stem as rolprentmaker begin ontdek nadat ek blootgestel is aan die flieks van verskillende kulture en lande.”
Andre Crous, ’n gereelde Cinemuse-ganger, sê hy kyk ou flieks dikwels oor en oor op sy skootrekenaar. “Dis ongelukkig nie altyd moontlik om van die ouer rolprente op die grootskerm te sien nie.
“Dis lekker om by 5 Ryneveld te sien hoe ander mense op die flieks reageer. Dis ook goed om ’n bietjie dieper te grawe en oor jou eie reaksie na te dink.”
Deur Cinemuse bied Pierre ook die geleentheid aan ander jong mense uit alle gemeenskappe.
“Ons het begin om ’n platform te skep vir jong rolprentmakers waardeur hul produkte blootstelling kan kry. Ons wys dit en stel dit bloot aan ons kontakte in die bedryf. Ons werk ook aan ’n konsep om ’n platform vir rolprentmakers te skep. ’n Skryfpaneel help om idees te ontwikkel in draaiboeke vir kortflieks. Ons sal dit uiteindelik verfilm. In dié stadium soek ons nog na borgskappe.”
Intussen is die inry-ervarings ook besig om al hoe gewilder te word. Die nostalgie vir outydse fliekervarings loop inderdaad hoog.
