Heilie se Hoender in Coke
2011-10-22 13:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vinnige, lekker en ekonomiese resepte is altyd gewild. Hierdie is so maklik en daarom gee ek vandeesweek sommer twee resepte wat treffers sal wees! Die hoender word geprut tot lekker klewerig in die sous en die varkworsies het weer ’n lekker soetsuur smaak.

Hoender in Coke
Lewer 4 – 6 porsies
1 kg hoenderstukke (boudjies, vlerkies, dye)
Marinade
60 ml (¼ k) sojasous
60 ml (¼ k) bruinsuiker
30 ml (2 e) bruinasyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
340 ml-blik Coke
roosmaryntakkie of enige ander vars kruie
Metode
1. Meng al die marinade-bestanddele saam. Giet oor hoenderstukke en marineer vir omtrent 1 uur in yskas.
2. Plaas hoender in ’n swaarboomkastrol en kook vir ongeveer 45 minute in die marinade. Draai hoender gereeld om.
3. Skep die meeste van sous af en braai die hoenderstukke in die laaste bietjie marinade tot goudbruin. Sit warm voor met ’n stysel of groente na smaak.
Soetsuur varkworsies
Lewer 4 – 6 porsies
30 ml (2 e) kookolie
375 g (omtrent 6) varkworsies
3 middelslag-uie, geskil en skywe gesny
125 ml (½ k) bruinsuiker
30 ml (2 e) Worcestersous
125 ml (½ k) tamatiesous
30 ml (2 e) bruinasyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode
1 . Plaas olie in ’n swaarboomkastrol en braai worsies tot ligbruin. Voeg uie by en soteer vir omtrent 2 minute.
2. Voeg al die ander bestanddele by. Bring tot kookpunt, verlaag hitte en laat prut vir sowat 20 minute. Sit worsies voor met sous oor kapokaartappels of rys.