Hier kom die bruid

2012-11-05 05:50

Foto’s Johan Wilke

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dis nou trouseisoen en vra jy rond oor wat’s nuut, kom jy gou agter troumodes is so wyd soos die Heer se genade. Hier’s wat in is, wat kom en hoe jy kan bespaar.


Danksy die internet is trou-inspirasie net die druk van ’n knoppie ver. Daar is troublogs, trouwebwerwe, Pinterest en allerhande apps wat bruide kan help om hulle mooiste dag onvergeetlik te maak. In ’n tyd waarin groot klem op individualisme gelê word, is dit ook verfrissend om te sien dat moderne bruide nie bang is om te waag nie.

 “Avontuurlustige paartjies eksperimenteer graag met alternatiewe benaderings tot die formaliteite en is nie bang om die tradisionele reëls te verbreek om hulle eie opwindende ervaring te skep nie,” sê Hannes Loubser, troubeplanner en aanbieder van Bruilof op kykNET. “Ek het al ’n paar unieke versoeke gehad, soos ’n troukoek wat soos ’n reuse-sjokolade-paas-eier moes lyk en met ’n mini-krieketkolf stukkend geslaan is, en ’n geliefde hond wat die ringe by die paadjie afdra.”

Aleit Swanepoel, Kaapse troubeplanner en geleentheidskoördineerder, vertel dat paartjies deesdae veel ouer is wanneer hulle vir die eerste keer trou. “Hulle is dikwels hier by 28 rond, met eie loopbane.” Só ’n paartjie help nie net self betaal aan die troue nie, maar is ook nie huiwerig om ’n unieke stempel af te druk nie.

Venue-troues – waar alles van die seremonie tot die onthaal by een plek plaasvind – is en bly groot nuus. In Gauteng en ook ander groot stede in ons land is talle sulke “landgoedere” wat spesialiseer in troues. In die Kaap is wynplase al jare lank baie gewild, en vra ’n mens rond op die platteland hoor jy hoe gewild plaastroues – dikwels op wildsplase – deesdae is. Bitter min mense hou nog bruilof in die stadsaal of kerksaal.

Restaurante is ook gewild vir kleiner troues.

Aleit vertel plaastroues was die afgelope jaar of twee baie gewild. “Dis gewoonlik baie groter – van 150 tot 300 mense. Stadstroues is meer intiem, met tussen 40 en 60 mense.”

Hannes meen mense hou van ’n plaastroue omdat dit ’n neutrale ruimte gee waarop hulle hulle eie stempel kan afdruk. “As jy wil, kan jy selfs onder ’n boom of op ’n krans trou.”

Aleit vertel sy maatskappy het al ’n hele paar stadstroues gereël waar verskillende dele van die vierings op verskillende plekke gehou word. “Voorafdrankies is byvoorbeeld by ’n restaurant, waarna die seremonie by ’n kerkie of selfs op ’n gebou se dak plaasvind. Dan skemerkelkies op ’n ander plek, en daarna eet almal saam by ’n restaurant.”

Die drie-dag-troue bly steeds baie gewild – dit begin met ’n lekker saamkuier en braai op die Vrydagaand, die troue Saterdagmiddag en aand en ’n gesamentlike ontbyt die Sondagoggend.

Die idee van ’n “uitgebreide” troue word ook op ander maniere toegepas en is net so gewild oorsee. In 2012 was die after party oorsee baie gewild, maar omdat dit met eie musiek, spyskaart en selfs nuwe uitrustings (en dus ekstra koste) gepaardgegaan het, voorspel kenners dat die klem in 2013 eerder op ’n uitgebreide seremonie by een plek sal wees. Dis min of meer wat ons hier plaaslik reeds by venue-troues ervaar – eers die seremonie, dan skemerkelkies, daarna ’n rustige aandete met al die seremonies, en daarna ’n lewendige partytjie vir die jonger garde.

Hannes sê trou-tendense verander voortdurend en wissel van kleur-skemas en dekortemas tot troues op onkonvensionele plekke. “Buite-seremonies is steeds baie gewild en ook interaktiewe kosstalletjies en lekkergoed-tafels pleks van nagereg.”

Aleit moes al ’n troue op ’n seiljag reël. “Toe daag die bruid op met ’n rok vol skulpe, waarvan die helfte afgeval het met die uitklimslag uit die motor. En toe dring hulle daarop aan dat die seiljag uitvaar uit die hawe, en net mooi almal raak seesiek.” Dan kies ek eerder die troutrein wat hy Matjiesfontein toe gereël het, baie dankie.


Elma oor háár troudag

kykNET-Dagbreek-aanbieder Elma Smit en haar man, die sport-joernalis Richard Maspero, is verlede jaar op Stellenbosch getroud. Dit was ’n intieme geleentheid met 65 gaste.

Grootste uitdaging?
Om ’n troue oor ’n afstand te reël. Ons woon in Johannesburg, maar kom albei van die Kaap af en wou daar trou.

Waarop het jy bespaar?
Toe ek hoor roosblare vir confetti kos R250, het ek summier wit streamers gaan koop teen R60 vir 80 rolletjies by ’n partytjiewinkel!

Enige uitspattighede?
Ek het by my begroting gehou, maar my man het besluit hy wou ekstra uitgee op klein goedjies soos spesiaal-gemaakte fortuin-koekies vir elke gas.

Was daar ’n krisis?
Teen die laaste naweek in Maart is die ergste van die Bolandse hitte gewoonlik al verby – of so het ek gedink. Ons het in die laatmiddagson in die tuin getrou op ’n dag dat die kwik by die 37oC gedraai het. Ons moes die gaste met ekstra botteltjies yswater lawe sodat niemand gedurende die seremonie flou word nie!

Wat’s in?

Vanjaar was troues met swart en wit gewilder as ooit tevore. En helder kleure. Uit met pastelle en in met skokpienk, helder oranje, lemmetjie-groen en rooi, gekombineer na hartelus. En nie net vir die blomme nie – vir als van die tafeldoeke en die troukoek tot die bruidegom se sakdoek!

Koninklike vintage – ou silwer kandelare, kant, spierwit linne, ou porselein en juweelkleure soos pers en blou vir aksent – was een van vanjaar se gewildste troutemas. Die vintage-voorkoms is al baie jare gewild. “Dis ’n veilige, vroulike voorkoms, veral as dit gebruik word saam met sagte blomme soos rose en lelies,” sê Hannes.

Vir 2013 voorspel hy bietjie meer oordadige elegansie, met groot en baie blomme en ruikers wat uit die dak hang.

Nog een van vanjaar se groot gunstelinge was die kleur goud. Dit kan sorg vir ’n onvergeetlike troue, mits dit reg gestileer word en jy die regte skakering en hoeveelheid gebruik.

Vanjaar was ougoud baie in die mode. Gekombineer met kleure soos ivoor, wit en room sorg dit vir subtiele sjarme. Dit kan ook goed werk saam met die oordadige voorkoms deur dit te kombineer met kleure soos blou, pers, rooi en groen, en as jy warmte wil skep (veral by ’n wintertroue), kombineer dit met herfskleure soos oranje en bruin.   

Die fokus op natuurlike materiale en organiese elemente soos hout en veldblomme was vanjaar al groot nuus, en sal al jou “groen” vriende se goedkeuring wegdra, veral as julle boonop ’n boom plant om julle koolstofvoetspoor te neutraliseer en vir gaste saad as aandenking gee.

Aansluitend hierby is iets wat Hannes “global tribes” noem. “Dit bring etniese elemente, natuurlike en organiese versierings soos skulpe en hout, en lap met interessante patrone alles bymekaar vir ’n eklektiese voorkoms.

So ’n bietjie boho chic, met borde en glase en eetgerei wat nie bymekaar pas nie.”

Minimalisme sal altyd met ons wees. Vanjaar was jy dalk by ’n hele paar troues waar tafelversierings tot die minimum beperk was, en waar skoon lyne, oop spasies en min kleur die botoon gevier het. Dis beslis iets om te oorweeg as jy in 2013 trou, veral as jy ’n moderne stadstroue beplan. “Dis vir paartjies wat hulle eie ding doen. By só ’n troue kan jy ook verwag dat daar afgewyk word van die tradisionele tafelplanne met mense wat die hele aand op dieselfde plekke bly sit. Hier kry jy eerder oral sithoekies, en kos word deur kelners rondgeneem sodat almal met almal kan kuier,” sê Hannes. Oorsese troubeplanners sien dié soort kuiers met kuierhoekies, weg van ’n lawaaierige dansbaan, ook as die in-ding vir volgende jaar se troues.

Maar moet jy doen wat almal doen? Aleit het waardevolle raad. “Moet jou nie blind staar teen ’n modegier nie. Oor twintig jaar wil jy nog jou troufoto’s kan wys sonder om jou te skaam vir jou rok. Dis ook die een dag in jou lewe wat jy wit kan dra na ’n troue toe – doen dit! Hou die troue wat jý wil hê, nie wat in die mode is nie. Laat jou gaste spesiaal voel, maar onthou, jy kan dit ook met die helfte minder geld regkry.”

Wanneer geld knyp

Troues is baie duur –’n gemiddelde een kan jou maklik R150 000 uit die sak jaag – maar al die troubeplanners met wie ek gepraat het, beklemtoon dat ’n paartjie hulleself nie in die skuld moet dompel vir ’n troue nie. “Gebruik die geld eerder vir ’n onvergeetlike wittebrood, of, nog beter, vir ’n deposito op ’n eerste huis,” sê Aleit. En dit beteken nie jou troue hoef ’n vaal affêre te wees nie – dink net meer kreatief!

Pam Black, troubeplanner en skrywer van The Really Useful Wedding Book for South Africa, sê ons kan gerus gaan kyk hoe dinge in die 1950’s gedoen is. “Troues is toe gewoonlik Saterdagmiddae gehou, met die seremonie wat rondom 14:00 plaasvind. Daarna is daar tee en koek, met versnaperinge soos petit fours en delikate klein toebroodjies op die spyskaart. Laatmiddag is daar skemerkelkies en ’n dans, en die bruid en bruidegom vertrek so van 19:00 af op hulle wittebrood.”

Onthou, as jou troue 15:30 se kant begin en aanhou tot middernag, moet jy die gaste amper agt ure lank vermaak en kos en drank voer. Aandtroues is ook meer formeel en die dekor dus duurder.

Nog ’n manier om te bespaar is deur koek te kies wat sommer ook as nagereg voorgesit kan word. Trou-kolwyntjies gaan nog lank met ons wees, al kos dit tussen R20 (vir ’n standaard-grootte) tot R30 vir ’n reuse-kolwyntjie, weliswaar ’n klein kunswerkie.

Volgens Linda Knopp van Sugarcakes in Kaapstad is rooi fluweelkoek tans hoogmode vir troukoeke, maar wortelkoek, sjokoladekoek en vanielje-koek (sowat R1 500) bly gewild. Blykbaar hou Suid-Afrikaners nie meer baie van vrugtekoek nie, vertel sy. (Miskien ook omdat ’n drielaag-vrugtekoek jou R5 000 tot R6 000 uit die sak kan jaag…)

Wat koekversierings betref, doen Linda net wat die paartjie wil hê, maar vars blomme as versiering is steeds baie gewild, en ook die goedkoopste opsie.

Trou-uitnodigings kan ook ’n klein fortuin kos, maar smaakvolle digitale uitnodigings gaan groot nuus word, veral as ’n mens boonop aanlyn kan RSVP. Jy kan ook jou eie troue-webwerf skep en gaste elektronies nooi met Weduary (www.weduary.com), ’n gebruikersvriendelike sosiale media-opsie.

Op Weduary deel jy alle noodsaaklike inligting oor jou troue, soos tyd, plek, beskikbare verblyf en selfs ’n skakel na jou geskenkregister. As bonus bring jy die gaste voor jou groot dag in kontak met mekaar.  

TROU-INSPIRASIE
SA troues in syfers

200 000: die aantal troues in 2010
R27 miljard: die bedrag in 2010 aan troues bestee
R150 000: die gemiddelde koste van ’n troue
R15 miljoen: wat die troue van eiendoms-magnaat David Mabilu en Phala Mokgophi in Mauritius gekos het
tussen R15 000 en R30 000: die gemiddelde koste van ’n trourok, maar ’n rok van ’n internasionale ontwerper soos Vera Wang kos ongeveer R120 000
R6 000: gemiddelde koste van blomme per troue
1,8 miljoen: die hoeveelheid ure wat trou-DJ’s in ’n jaar musiek maak
R1,5 miljard: gemiddelde bedrag per jaar aan wittebroodvakansies bestee (plaaslik en oorsee)
Statistiek SA



Trou só goedkoper

Trou ver van waar jy woon Só skakel jy die partytjiediere uit wat kwalik besef wie trou. Of, nog beter, moet hulle nie nooi nie!

Begroot eers, nooi dan
Gehalte eerder as grootte behoort jou wagwoord te wees. Dus, eerder ’n kleiner, mooier troue as ’n groot afskeeptroue. Deur 10 mense teen byvoorbeeld R300 per kop weg te laat bespaar jy nie net die R3 000 vir kos nie, maar ook op dinge soos tafelversierings en drank vir daardie tafel.

Onderhandel Onthou, die ekonomie knyp oral en verskaffers is meer as ooit tevore bereid om te onderhandel.

Dag en datum Vermy die spitstye. By sekere plekke kan jy tot R30 000 aan venue-fooie bespaar as jy op ’n Vrydag of ’n Sondag eerder as ’n Saterdag trou. September tot Maart is hoogseisoen, met Desember die gewildste (en duurste). Oorweeg ’n herfs- of wintertroue.

Plaaslike blomme en blomme in seisoen Dis goedkoper. Sekere tye is blomme duurder (rondom Valentynsdag, Moedersdag en Kersfees). In die winter is blomme weer kleiner en het jy meer nodig.

Hou jou gevolg klein Dink eerder aan ander maniere om goeie vriende en familie by die seremonie te betrek.

WAT WORD OORSEE VOORSPEL VIR 2013?


Virtuele troues Dit gaan groot nuus word! Met familie en vriende wat wydverspreid oor die aardbol woon, voorspel kenners dat al hoe meer troues via die internet “uitgesaai” gaan word.

’n Sitkamer-area by die onthaal Weg van die dansvloer en spesiaal vir mense wat wil gesels en kuier. Dis ook die plek vir ’n fotohokkie.

Kant Dis al eeue lank met ons en te oordeel aan internasionale loopplanke, maak dit in 2013 ’n groot terugkeer op trourokke. Kantdetail wat in die dekor, op die uitnodigings en op die troukoek herhaal word, maak ’n baie elegante stelling. Kombineer dit gerus met vintage-elemente. 

Patrone Verwag enigiets van blompatrone, polkakolle en strepe tot paisley op alles van uitnodigings en tafeldoeke tot die bruidegom se strikdas en die strooimeisies se rokke.

Voëltjie-temas Dis groot nuus: op die uitnodigings, vere in die hare, voëltjiesaad eerder as confetti, dekoratiewe voëlhokke in outydse style as deel van die dekor…

Trourokke met sakke Hoe gewild dít gaan wees, sal net die tyd leer. Oorsese mode-ontwerpers ontwerp glo al klaar rokke met sakke vir ’n paar bekendes.

Die 1920’s Kenners voorspel dat dit ’n baie gewilde tema gaan wees vir volgende jaar se onthale, veral in die lig van die gewildheid van reekse soos Downtown Abbey en die heruitreiking van The Great Gatsby. Boonop is die styl baie romanties en vroulik, met baie kant, pêrels en interessante hooftooisels.

Pret!
Verwag meer “kosstalletjies” met gunstelinge soos spookasem, lekkers, toffie-appels en draairoomyse. Nog gewilde pret-aktiwiteite is ’n laataand-braaivleis, en oorsee speel trougaste reeds saam speletjies soos hoefystergooi. En moenie verbaas wees as jy gehuurde towenaars, voordragkunstenaars en selfs ’n dans-instrukteur op ’n troue aantref nie. Laat die pret begin!

Kontakbesonderhede aleit Swanepoel, The Aleit Group, www.thealeitgroup.com, 021 887 4448 • Hannes Loubser, Wedding Concepts, www.weddingconcepts.co.za, 083 684 1413 • Pam Black, Pam Black Weddings en Celebration House, www.pamblackweddings.com, 021 674 7350 • Linda Knopp, Sugarcakes, www.sugarcakes.co.za, 082 341 6037

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-22°C Sunny. Mild. Pta: 3-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 1-19°C Sunny. Mild.
Dbn: 13-21°C Mostly sunny. Cool. PE: 8-18°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!