In 'n tiener se kop

2012-09-18 16:07

Jaco Jacobs, Carina Diedericks-Hugo en Fanie Viljoen

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Fanie Viljoen, die “soet seun”

Hy lyk soos ’n Oxford-student, immernetjies, gehemp en gebaadjie, effens ingetoë. Maar die perfekte voorbeeld van stille waters, diepe grond. Dis nie verniet Fanie wat die opspraakwekkende BreinBliksem geskryf het nie – die rockboek wat tieners nie vir hulle ouers wil gee om te lees nie, en ouers nie vir hulle tieners nie. En een wat deesdae ook in Frankryk soos soetkoek verkoop.

Hy het Vrydagaand sy soveelste ATKV-prys gewen vir sy Nova-reeks oor VVV’s, ruimte¬wesens, tieners en geheime. Hy’t ook al die MER-prys vir ’n jeugboek gewen, talle Sanlam-pryse en Betower, ’n bosroman vir tieners, was verlede jaar die naaswenner in Lapa se jeugboekwedstryd.

Op pad: Leeus met letsels, ’n avontuur-en-¬verhoudingsroman (verskyn in Oktober).

Hoe verstaan jy tieners en hulle leefwêreld om jou boeke geloofwaardig te maak?

Daar is sekere goed wat altyd kwessies sal bly. Aspekte soos vervreemding (die outsider), die strewe na vriendskap, liefde, probleme met jou ouers, ens.

Wat van alkohol, drank en seks (soos in BreinBliksem)?
Dis als werklikhede vir tieners, of jy nou daarvan hou of nie. Dis redes vir konflik in die samelewing en daarom ook in boeke. Kyk, dis waar dat ek destyds blindelings in ’n manuskrip ingeneuk het en BreinBliksem was die resultaat, maar ek het dit onbevange probeer skryf, sonder selfsensuur. En dis nie die laaste een van sy soort nie. Volgende jaar kom nog een…

Ek dink daar moet onderskei word tussen boeke vir jonger tieners en vir ouer tieners. Ek sal graag meer volwasse kwessies wil aanspreek, maar ek kan uiteindelik nie kies in wie se hande daardie boek gaan beland nie. ’n Tiener sal die boek kry en dit lees as dit as verbode vrugte voorgehou word.

Ouers moet beslis help met ’n kind se leeskeuses. Hulle weet hoe volwasse, al dan nie, hulle kind is.

Hoe beïnvloed “rof” ’n boek se verkope? SNL en geweld?
Vreemd genoeg verkoop my “makker” boeke beter as my “rowwe” een. BreinBliksem is egter baie gelees, maar dis dalk omdat hy baie uitgeleen word. Dis nogal ’n groot ding van tiener wees: Jy leen jou stuff vir jou pêlle. Só wen jy ook vriendskap.

Skryf jy anders vir seuns as vir meisies? Boonop skryf jy en Jaco Jacobs baie suksesvol boeke onder meisiename. My boeke is meestal gemik op seuns. Ek weet meisies sal dit in elk geval ook lees. My onlangse boek, Betower, is dalk meer gerig op meisies, maar nie só dat dit seuns sal vervreem nie. (My skuilnaam verklap ek liefs net by skoolbesoeke!)

Hoe skryf jy oor ouers en gesagsfigure? Die ouers in my verhale wissel van toegewyd en betrokke tot afsydig. Hulle het probleme nes ouers in die werklike lewe.

Hoekom skryf jy vir die jeug? Dis vir my belangrik dat my boeke kinders aan die lees kry, dat my boeke vir hulle nuwe wêrelde oopmaak.  

Carina Diedericks-Hugo, die “stoute prinses”

Carina is die Herschel-meisie, lank en blond en lekker stout en 100% bewus van wat in seuns se koppe aangaan, die skepper van die supergewilde Thomas@-reeks. Sy is ook 1985 se Cabana Beach Umhlanga Roomys-eet-kampioen, het verlede jaar 92ste plek behaal in die WP Wynland se oopwaterswem-kom-petisie en het ’n MPhil in joernalistiek.

Hoogtepunt? “Dat die Thomas@-TV-reeks al by Reeks 2 trek terwyl kykNET Reeks 1 verfilm!”
Op pad: Die Thomas@-reeks in Januarie op kykNET, en die verskyning van Spesiale (en geheime) agent Pieter van der Wind en die Chinese draak binnekort.

Dis asof ’n mens nog steeds vasgevang is in ’n jong ouderdomsgroep of bloot net ’n oorontwikkelde gevoel van empatie het. Andersyds moet jy tyd saam met tieners deurbring, hoor wat in hulle lewens aangaan, die issues, die modes. Ek is Facebook-vriende met ’n stuk of 200 kinders en dit help enorm baie.

Ek dink daar is daadwerklike kwessies wat deel is van ’n tiener se werklikheidsbestaan, wat beslis nie in ons boeke aangespreek word nie. Bring genoeg tyd saam met tieners deur en jy sal skrik as jy hoor waarmee hulle te doen kry. Daar is en sal altyd hekwagters wees. Maar om te sê daar is en sal altyd sensuur wees, beteken nie ek stem saam nie. Ek pas beslis sensuur toe op my eie werk, want my boeke is voorgeskryf en ek kan nie bekostig om daardie mark te verloor nie. Natuurlik sal ek verder wil gaan – vir ouer tieners skryf as my 13-tot-15-jaar-mark. My gunsteling- (eie) werk is Die verdrinking van Josua van Eden. Die boek het net positiewe resensies gekry, maar het nie veel verder as dit gevorder nie weens ’n baie subtiele sekstoneel van ’n halwe paragraaf. Van ouers en onderwysers was daar baie klagtes. Ek dink dis
paternalisties – sit ’n uur lank in ’n groep tieners se geselskap en luister. Porn op die internet, sexting, seks tydens pouse, swangerskappe, dwelms, molestering, ens. is so deel van hulle lewens soos saalbyeenkomste.

Moenie vra hoekom nie, maar ek kan net vanuit die perspektief van ’n seun skryf! Ek het die pienkste kamer in die buurt gehad, maar my pêlle was meestal seuns.

Derick van der Walt, die “ouman”

Derick is die “ouman”, die late bloomer, soos hy sê, met ’n gesig wat wys hy het baie jare al baie en lekker gelag. Sy drie seuns is die inspirasie vir sy boeke – en die Blou Bulle.

Hoogtepunte?
“Dat ek op 50 gedebuteer het, nogal met ’n jeugboek. En Lien se lankstaanskoene (2008) wen toe ’n Sanlam-prys, MER-prys en IBBY-toekenning. Willem Poprok (2010) het ook die Sanlam-prys en MER-prys verower.”
Op pad: Sy jongste manuskrip, Hoopvol, is op die kortlys vir 2011 se Sanlam-jeugromanprys, wat in Oktober aangewys word, en die fliekweergawe van Lien se lankstaanskoene wys binnekort in SterKinekor-teaters landwyd.

Ek dink in die eerste plek “karakter” en nie “tiener” nie. Dit gee my ’n pyn as ’n skrywer probeer om cool te wees en dan skryf hulle sulke oulike, egte “tienerdialoog” en alles wat hulle oor jongmense geGoogle het, word ingebou om darem te wys hulle weet wat gaan vir wat. Tieners is bloot mense wat nie almal só is en sús doen nie. Ek dink ook nie tieners praat meer slang of Engfrikaans as grootmense nie. Ek en my vrou, Lenie, het drie seuns grootgemaak, daarom weet ek waarvan ek praat.

Baie Afrikaanssprekende volwassenes kyk steeds konserwatief na die Afrikaanse kunste. Hulle wil as ordentlik en behoudende draers van “hoë” morele waardes in boeke, rolprente, musiek en die ander kunste gesien word. (Dit het raakpunte met Zuma en daai skildery!) 

Ouers is naïef as hulle dink tieners weet nie van seks, drank en dwelms nie. Dis bloot ook oneerlik om sulke kwessies in Afrikaanse jeugboeke te ignoreer. Die meeste tieners wat lees, lees lánkal volwasse boeke waarin dié kwessies eksplisiet uitgebeeld word.

Ek dink dat ’n mens nie stereotipies na dogters en seuns (en mans en vrouens) moet kyk nie. Dit gaan daaroor om geloofwaardige karakters te skep met unieke eienskappe. Moenie te veel op Nikes, MTV en Amy Winehouse se liedjies konsentreer nie. Ek dink dis meer eg om na die Spur en Jack Parow te verwys.

Jaco Jacobs, die “platjie”


Jaco is ’n platjie. Kort, vol grappe, intens, ’n bondel energie. ’n Outjie wat tog te lekker kan lag as hy tydens skoolbesoeke die “bom” kan laat val dat hy nie een nie, maar talle gewilde tienerreekse vir meisies skryf – onder ’n meisienaam.

Bekend vir
: Topverkopers soos Suurlemoen!, humoristiese rympiebundels soos die bekroonde Wurms met tamatiesous, en prettige kinderboeke.
Hoogtepunte? “Die verskyning van Troetelgedrog, my eerste kinderboek in 2001, die dag toe my algehele verkope ’n halfmiljoen oorskry het, en ja, pryse. Boonop is Suurlemoen! in 2008 deur die internasionale kinderboekliggaam, IBBY, as ereboek in die Afrikaans-kategorie aangewys.”
Op pad: Die eerste twee boeke in die Bastian Blom-reeks, Bastian Blom en die pratende portret en Bastian Blom en die gillende geraamte, wat vandeesmaand verskyn.

Ek het ’n broertjie dood aan die idee van “in ’n tiener se kop klim”. Tieners is nie ’n homogene groep nie – en hulle is ook nie hierdie totaal uitheemse spesie nie. Die vraag behoort eintlik te wees: Hoe klim ’n mens in enige karakter se kop? Vir my is die antwoord – wat tienerboeke betref – deels waarneming en deels ’n belangstelling in jongmensdinge. Ek luister graag na hoe jongmense praat.

Ek dink regtig nie daar is meer baie taboes in jeugliteratuur nie – ook nie in Afrikaans nie. En dis ’n goeie ding. Skrywers moet die vryheid hê om oor enige onderwerp te kan skryf, ook vir tieners.

Wat my wel irriteer, is die groot klem wat op die taboe-temas in jeugboeke geplaas word – tienerboeke kry min aandag in die Afrikaanse media, behalwe wanneer berig word oor die opspraakwekkende temas of taalgebruik. Dit skep die indruk dat ’n tienerboek oor ’n sensitiewe tema móét gaan. Die terugvoering wat ek gereeld van jong lesers hieroor kry, is dat dit hulle irriteer.

Die oorgrote meerderheid van onderwysers verkies om boeke voor te skryf wat nie te veel eksplisiete beskrywings of vloekwoorde bevat nie. Sommige mense rol hulle oë, maar die realiteit is dat dit vir ’n onderwyser (en vir leerders) baie ongemaklik kan wees om so ’n boek in ’n klassituasie te behandel.

Onder die naam Tania Brink skryf ek liefdesverhale vir tieners, soos Liefde laat jou Rice Krispies anders proe, Ouens is nie pizzas nie, My hart is vol graffiti en Al die meisies hou van Divan Louw. En ek skryf die Stalmaats-reeks, wat handel oor ’n groepie vriendinne se avonture op ’n perdeplaas, onder die naam Lize Roux. Die skuilname is omdat navorsing bewys meisies vind sterker aanklank by tipiese “meisieboeke” wanneer dit onder ’n vrouenaam verskyn. 


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-17°C Showers early. More sun than clouds. Cool. Pta: 8-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-13°C Mostly sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-13°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 12-21°C Showers early. More sun than clouds. Refreshingly cool. PE: 12-17°C Partly cloudy. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!