Jong talent: Kunshoof Renier Zandberg
2012-08-22 13:57
Renier is die ene kreatiwiteit. G’n wonder hy’s ’n uitblinker in die advertensiebedryf en die wenner van talle reklametoekennings nie.
Kreatiwiteit was nog altyd in my bloed. Ek sal van my kop af raak as ek nie meer kreatief kan wees nie,” sê die 27-jarige Renier, wat altyd die norm bevraagteken… en versot is op grondboontjiebotter.
Hy’s pas aangestel as kreatiewe groephoof van die advertensie-maatskappy TBWA Hunt Lascaris in Johannesburg, waar hy onder meer saam met ’n kopieskrywer idees vir advertensies konseptualiseer.
Renier het die afgelope drie jaar aan groot advertensieveldtogte in verskillende mediums gewerk vir onder meer M-Net en KFC. Van die talle toekennings wat hy al vir sy werk gewen het, is twee goue Loeries, ’n goue en silwer Pendoring én ’n silwer en ’n brons toekenning by die Cannes Lions International Festival of Creativity – om maar ’n paar te noem.
“Dit maak my trots op wat ek al bereik het in my kort loopbaan. Ek het in 2011 by Cannes gewen met ’n advertensie wat vlam gevat het op die internet. Met ’n besondere klein begroting, want dit was vir die liefdadigheidsorganisasie POWA (People Opposing Women Abuse), het ons span dit reggekry om vir die wêreld te wys hoe min bure omgee as vroue onder hulle neuse mishandel word. Ons het een aand hard tromme gespeel in ’n kompleks, toe kom kla baie mense. Die volgende aand het ons harde klanke wat vooraf opgeneem is oor luidsprekers gespeel wat klink asof ’n vrou mishandel word – niemand het kom kla nie…”
Renier, ’n boorling van George, het in 2007 ’n BKS-graad in grafiese ontwerp aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy het ook vier jaar by Ogilvy in Johannesburg gewerk én by die innoverende advertensie-maatskappy Johannes Leonardo New York in Amerika.
Hy moet as kunshoof daagliks met oorspronklike idees vorendag kom en erken dis nie altyd maklik nie. “Dis elke dag ’n uitdaging. Jy weet nooit wat die dag kan oplewer nie, omdat daar nie ’n vooropgestelde formule is wat ons kan volg nie. Maar dis ’n groot voorreg dat ek heeldag kan speel met idees én betaal word daarvoor.”
En waar kry hy al sy idees?
“In die stort, om die braaivleisvuur, op plekke waar ek die minste aan oplossings probeer dink. Die beste idees bekruip jou wanneer jy dit die minste verwag.”
Dit help dat hy ’n kreatiewe vrou aan sy sy het.
“Ek is pas getroud met Lia, ’n grafiese ontwerper. Elke dag is interessant as jy en jou vrou saam ’n kreatiewe leefstyl volg.”
Hy droom ook nog van sy eie besigheid wat nie net op advertensies fokus nie, maar ook op alledaagse probleme wat kreatiewe oplossings nodig het.
En hy wil weer in New York gaan werk. Die hoogtepunt van sy loopbaan is immers sy tyd in New York – of soos hy sê: “New York, New York. Dis só cool, jy moet dit twee keer sê.”
As jy enige toestel kan ontwerp, wat sal dit wees?
Dit verbaas my dat ek nog so baie mense sien ver stap elke dag. Ek sal ’n fiets ontwerp wat goedkoop genoeg is vir almal om te bekostig en die fiets sal dubbel die krag uitskop as jy trap – soos power steering.