Jong talent: Topskut FRANCOIS DU TOIT
2012-07-07 14:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Geklee in gekamoefleerde skietklere demonstreer die 17-jarige Francois du Toit van Parow in Kaapstad sy gunsteling-skietposisie genaamd die “Dead Man”. Hy sit kruisbeen plat op die grond met sy windbuks wat op sy bene rus en verduidelik hoe hy vir die metaalteiken sal mik.
Pa Kevin, sy mentor, is oudergewoonte aan sy sy.
Dié graad 11-leerder aan die Hoërskool President het net vier jaar gelede met veldteikenskiet begin en spog reeds met groot titels, soos die Suid-Afrikaanse kampioen vir 2011 en 2012 én junior wêreldkampioen vir 2009 en 2011. Hy’t ook algeheel sewende geëindig by verlede jaar se wêreldkampioenskaptoernooi in Italië, waar hy teen ervare skuts meegeding het. Sowat 200 skuts van 29 lande was daar saamgetrek.
So waar kom dié passie vandaan?
“My ma het vir my pa gesê hy moet iets met my begin doen, want ek sit net heeldag by die rekenaar en ons doen nooit iets saam nie,” vertel hy met ’n skewe laggie.
“Toe koop my pa in 2008 vir my ’n windbuks en ons gaan skiet op ’n vriend se plaas. Kort daarna het ek van ’n wedstryd buite Kraaifontein gehoor, deelgeneem en gewen.
Van daar af het dit net aangehou… Ek behoort nou aan die Cape Air Rifle-skietklub.” Sy geweer is ook ’n menéér van R20 000!
By vanjaar se SA kampioenskappe het hy sy skietheld, Piet Breedt, geklop waaroor hy meer opgewonde is as die titel van veldteikenskietkampioen.
“Hy’s 46 jaar oud en hy skiet al sy hele lewe lank. Ek skiet maar vir vier jaar en ek het hom gewen! My skietstyl kom eintlik van hom af. Maar hy was baie bly vir my.”
Kevin beaam: “Dís die groot ding – hy’t sy idol gewen.”
Francois oefen nie voor wedstryde nie, maar sien eerder die sowat 16 kompetisies waaraan hy deur die jaar deelneem as oefening. “Hoe sê hulle – ek’s net ’n natural born shooter,” sê hy ewe nonchalant.
Die feit dat hy goed is, is vir hom die lekkerste deel.
“Ek het al baie sportsoorte probeer en was nooit goed daarin nie. En toevallig vind ek toe iets waarin ek baie goed is. Ek’s steeds voor die rekenaar, dít het nie verander nie,” skerts hy.
Dit laat Ma Annene net kopskud.
Veldteikenskiet maak nie inbreuk op sy skoolwerk nie en al is hy nie dol oor die akademie nie, was hy verlede kwartaal onder sy graad se toptien-leerders. Ná matriek wil Francois inligtings-tegnologie studeer.
“Ek weet nog nie watter rigting nie, maar my passie is rekenaars.” Vir eers is sy hooffokus egter die wêreldkampioen-skaptoernooi in Noorweë in Augustus en aanstaande jaar se wêreldkampioen-skappe in Duitsland.
“Dít gaan groot wees.”
Vir meer oor veldteikenskiet in Suid-Afrika, besoek www.saftaa.co.za