KANTLYN: Selfs die gebarste mense
2012-07-07 14:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Een Saterdagoggend dwaal ek deur die Vrystaat Nasorgsentrum se kunsmark. Jammer vir die gestremde inwoners en jammer vir my eie swarigheid waarvoor ek woorde soek.
Effens afgetrokke kyk ek na die tafels en rakke waar die handewerk uitgestal word. Breigoed, eetgoed, houtwerk, plante.
Maar die mense… Dit kriewel in my nek om volwassenes só te sien.
By ’n werkwinkel sit ’n man skaam op die stoep by ’n pottebakkerswiel. Sy hande vol spatsels gryswit modderwater. Rondom hom staan kleikunswerke.
In ’n sykamertjie wag ’n klein vroutjie met wakker oë agter ’n groot bril.
“Kom in! Kyk net wat het ons alles hier binne,” nooi sy. “Vir wie skree Meneer vanmiddag met die rugby? Die Bulls of die Sharks? Of moet ek liewer nie vra nie?” Sy giggel effens stout.
“Ek is al van vyfuur vanoggend af op om te kom regmaak,” sê sy. “Om seker te maak alles is uitgepak.
“Sien Meneer hierdie?” Sy beduie na die spekvet uile wat die rak vol staan. “Die outjie wat dit maak, sê nie ’n woord nie. Toe gee Juffrou vir hom ’n prentjie
van ’n uil. En hy maak dit uit klei. Vanself. Toe weet ons, dis sy manier van praat – so met die uile.”
Glimlaggend wys sy my die kruise, die kleiharte. Sy vertel my wie wat maak. Hóé hulle dit maak. Haar sjarme is oorrompelend. Trots.
My swarigheid word ligter.
Sy vertel my hoe haar juffrou help waar hulle ’n bietjie verbrou het. Dalk met ’n ekstra stukkie klei, dalk ’n bietjie glasuur, een artikel wat ’n ander word.
Toe, asof dit van die Groot Pottebakker self kom, sê sy: “Meneer weet, Juffrou sê, elke ding wat ons maak, is vir haar móói. Sy kan álles gebruik, selfs al is dit gebars.”
Fanie Viljoen skryf kinder- en jeugverhale. Sy bekroonde tienerroman Betower het onlangs verskyn.