Kantlyn: Busboerboel vannie Baai
2012-08-22 13:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Baaise “Busboerboel” wat Oos-Kapenaars onlangs nog laat regop sit het van verbasing was ’n wonderlike hond met uitsonderlike talente.
Nee, hy het nie soos my oorle’ ouma se boerboel, Tsjaka, my broer as kannetjie aan die binneboud gebyt nie. Inteendeel, dié boerboel het nóg byt nóg blaf gehad. Hy was pure sjarme.
Verbeel jou egter jy is ’n busbestuurder en skielik is daar g’n passasier agter jou nie. Net ’n onbekende roesbruin boerboel. Jy skrik dat jou bloedsomloop na jou ore afgesny word. Daarna word jou ore koud en slaan toe.
Nou werk jou balans nie meer so lekker nie.
Jy gooi die bus amper om. Rem dat ’n swaar reuk van brandende bande in die lug hang. Trap die deur met albei skoenhakke oop. Spring uit om sover moontlik van die bus af te land.
Beland met albei hande in ’n doringbos en word begroet met beesdorings in jou hande. Hardloop die Wille Weste in. Kyk terug en sien stomverbaas hoe rustig die boerboel na jou staar vanuit die bus. Nou loop jy met ’n helse skuldgevoel dog versigtig terug.
Einde Junie het Busboerboel dié bynaam gekry toe hy sonder ’n buskaartjie op ’n bus geklim het. Dit nadat al die passasiers afgeklim het. Ná ’n 15 km-rit is Busboerboel in die sorg van die DBV geplaas.
Sy baas het egter nooit opgedaag om hom op te eis nie. Ná weke se nuusberigte en GESOEK-kennisgewings was dié vriendelike hond steeds “wees”.
Treur en eensaamheid het seker sy immuniteit laat afneem, want bosluiskoors het sy organe aangeval. En gewen. En al is Busboerboel vandag op ’n plek waar geen trauma of dieremishandeling toegelaat word nie, is die trane nog maar vlak daar by Nelson Mandela-baai se busterminus.
Jason Lloyd is ’n joernalis, boekemens en rubriekskrywer.