Kantlyn: Sonde met die Spotlight!
2012-08-14 14:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Verlede week bevind ek myself in die wonderlike wildtuin, en met ons aankoms by Shimuwini (“plek van die groot boom”) gaan kyk ek dadelik in die boek waarin besoekers hulle ervaringe neerpen.
En daar kom ek af op ’n inskrywing van 21 jaar gelede deur ’n jong seun met ’n lang lys van wat hulle als gesien het, en hy sluit af met: “Onthou altyd om ’n spotlight te bring.”
En daardie moeilik leesbare skrif van die knapie behoort toe aan niemand anders as ek nie. Toe nog bekend as Nelius, wat gelukkig later Neels geword het, want “Nelius” klink darem net te veel soos ’n uitgroeisel.
Punt is, Nelius het hierdie keer onthou om sy spotlight te bring. En nie sommer enige spotlight nie, boeta. O, nee, David Guetta gebruik dié tipe lig by sy partytjies in Ibiza, wildbewaarders in die Klaserie-distrik “never leaves home without it”, en jy kan ’n marshmallow perfek tan op die regte afstand (omtrent ’n halwe kilometer weg). En dan kan jy dit gebruik om te kyk of jou next level-springboknek-potjie à la Jaques “The Hulk” Theron op koers is. En ook om daai wispelturige luiperd oorkant die rivier te spot, natuurlik!
Die onmiskenbare, donderagtige geluid… Net ’n paar meter van ons gromskaaf ’n volgroeide luiperd so hard dat my nooi kombuis toe hardloop. Ek en “The Hulk” gryp die spot en hardloop af heining toe, net betyds om die reuse-luiperd te gewaar. Hy sluip deur die riete soos ’n huiskat op hitte en Red Bull. Ongelooflik!
En toe, toe gaan die spotlight dood…
Ek kyk na donker, wilde Afrika, en later lys ek alles wat ons gesien het en sluit af met: “Onthou altyd om ’n spotlight te bring. Maar onthou veral om die donnerse ding se battery te charge.”
Neels van Jaarsveld is ’n akteur en was onlangs in Vloeksteen op kykNET te sien.