Kantlyn: ‘n Man het ‘n eend nodig
2012-08-08 15:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Op ’n keer moes ek, oggend ná oggend en op my nugter maag, deur koerantartikels werk wat handel oor korrupsie. Die astronomiese bedrae wat verduister word, het jou skoon naar gemaak. Ná ’n ruk kon ek dit nie meer vat nie. Boonop besluit my buurman in dié tyd om verbouings aan sy huis aan te bring. Ek moes iets doen.
Gelukkig ontdek ek ’n plastiekbad wat ons as ’n sandput vir die kinders gebruik het. Gou was die bad onder groot skaduryke bome in die grond versink en met
helder boorgatwater volgemaak. Twee eende is op die dammetjie losgelaat.
Terselfdertyd kom my jongste by die huis aan met ’n dwerghasie (’n konyn).
Van toe af sou ek vroegoggend op die balkonnetjie staan, ’n stomende koppie koffie in die hand, en my verlustig in die toneel van eende wat op die dammetjie kerjakker en ’n dwerghasie wat daar rondhop. Nie eens die lawaai van die buurhuis af kon my gevoel van welbehae bederf nie.
Maar een oggend was die wyfie-eend skoonveld. Ek was buite weste in die tuin. Die bouers langsaan het die gedoente grootoog staan en aangaap. ’n Dag of wat later ontdek ek die eend onder ’n klomp plante waar sy besig is om te broei. Ek was goed verleë.
Twee weke later raak my vrou van ’n helse kabaal buite die huis bewus. Die bouers op die dak van die buurman se huis beduie benoud – die mannetjie-eend is in die straat! Sy moet tog net die eend in die erf terugkry, beduie hulle, want anders gaan daai man weer so vreeslik te kere!
Miskien moet ek maar eendag met ’n klomp biere oorstap en hulle vertel wat die plastiekdam en sy eende vir my beteken. En dan hoor of hulle ook ’n eie stukkie paradys het.
Theuns Kirsten is ’n senior ondersoekbeampte by die Kantoor van die Staatsdienskommissie.