Kerstooisels vir die mooi

2011-12-17 14:28

Isabel Verwey en haar kinders, Monique en Jean. Foto: Lizelle Lotter

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Appels, neute, dadels, pretzels en papierblomme is glo – volgens ’n aantekening in ’n stokou dokument – gebruik om die eerste versierde Kersboom mee te tooi.

Die instelling om die feesboom te behang met mooi- en lekkergoed het volgens ’n stokou dokument in 1570 in die Duitse dorp Bremen posgevat. Op Kersdag was dit die kinders se verwenning om die lekkernye onder die tooisels wat hulle weke lank betower het, te verorber. Benewens vrugte het die grootmense vindingryk eetgoed bedink wat terselfdertyd as Kersversierings kon dien. Vandag nog hang ons tussen die glasballe, klokke, engeltjies en kerse eetgoed aan Kersbome op. Suikerkieries met rooi en wit strepe, soetkoekies wat in fatsoentjies van sterre en Kersvaders gebak is en sjokolade wat in goud-, silwerkleurige of bont foelie toegedraai is, dien in die voorafgaande weke dus eers as versiering en dan op Kersdag as iets lekkers vir die suikertande.

Maar in die Stellenbosse huis van Isabel Verwey, wat as televisieaanbieder bekend geraak het, en haar man, Prieur du Plessis, Slowenië se ere-konsul in Suid-Afrika, staan die eetgoed met Kersfees op die tafel en hang dit nie aan die Kersboom nie. Jy sal nie koekies en sjokolade aan hul Kersboom kry nie – wel kosbare Kersversierings van glas en kristal, van hout en appliekwerk en van goud- en silwerkleurige metaal wat Isabel met verloop van baie jare sorgvuldig op hul wêreldreise bymekaarmaak.

Die Kersboom wat sy en hul dogter, Monique (13), en seun, Jean (10), elke jaar aan die begin van Desember versier, is ’n vrolike, kleurryke “samehang” van Kerstooisels van verskillende teksture en kulture. Elke jaar wanneer sy hul Kersversierings uitpak, is sy opnuut betower daardeur: volkskuns uit Slowenië, tradisionele, brose tooisels uit Switserland en onkonvensionele, koddige versierings wat sy in New York raakloop.

Isabel en Prieur is dikwels in die buiteland. Danksy hul voorliefde vir reis en ook Prieur se sakeverpligtinge het hulle al die wêreld in alle windrigtings verken. Dis dan wanneer sy soos ’n eekhorinkie mooigoedjies vir hul Kersboom uitsnuffel en sorgsaam terug huis toe piekel. En dit maak nie saak hoe druk hul program is nie – Kersfees kom hulle huis toe om saam met hul gesin en familie fees te vier as ’n koesterende instelling wat vir almal heeljaar lank as bron van lekker en mooi herinneringe dien.

En net so is haar Kersversierings ook vir haar spesiaal. Wanneer sy by haar Kersboom staan, gee sy graag die stamboek van elkeen.

“Kyk hierdie purper bal!” Asof sy dié kosbare glasbal vir die eerste keer sien, verwonder sy haar daaraan. ’n Kersboom met sy versierings is vir Isabel die gees van Kerstyd wat sigbaar gemaak word. “Wanneer ek, Monique en Jean die boom versier, is ek die regisseur,” sê sy laggend. Die fyn goedjies word bolangs aan die boom gehang en die kleurryke balle hang die kinders onderom.

Sy kelk haar hand onder ’n glasbal met ’n silwer sneeuvlokkie daarin. Die handgemaakte kunswerk is so delikaat soos ’n seepbel. “Dis ’n geskenk van my ma. Sy het dit in Switserland gekoop,” onthou sy. “Dié engel het ek in Tygervallei van die winkeleienaar losgesmeek. Dit was eintlik haar eie, maar ek wou dit so graag hê dat sy dit uiteindelik aan my afgestaan het.”

Daar is ’n kaggelsnoer van appliekwerk wat sy in die Switserse dorpie Zermat, digby die berg Matterhorn, gekry het, fyn silwerkleurige takbokkies wat saam met haar wonderbaarlik ’n motorongeluk in New York – net voor ’n onlangse Kersfees – oorleef het. “Die taxibestuurder het beheer oor die motor verloor,” vertel Isabel. “Ons het oor die middelman gevlieg en in ses bane aankomende verkeer beland.” Buiten die punt van een takbokkie se horing wat met die slag afgebreek het, was hulle ongedeerd. Maar hy staan kordaat, af-horing en al, op sy pos op die kaggelrak. Nes die geverfde eierdop uit Slowenië wat ook nie die reis Suid-Afrika toe ongeskonde oorleef het nie, maar waarvan die oorblywende helfte elke jaar sy hangplek aan Isabel se Kersboom kry – ’n Kersboom wat spreek van ’n vredige samesyn tussen die elegante en die uitbundige, die eenvoudige en die boheemse, die bekoring van die sprokiesagtige en die skoonheid van die onvolmaakte.

Heel anders as Isabel se tooisels wat van oral in die wêreld aan haar Kersboom saamkom, maak Annalene Smit en haar mense hul Kersversiersels op hul eie werf.

Tydsaam sit sy onder ’n boom op hul plaas Welgemoed digby Wellington en knoop kleurryke lapballe aan ’n Kerskrans.

Ek het haar ontmoet toe sy ’n paar jaar gelede kort voor Kersfees dié einste balle vir ’n groep vroue leer maak het. Sy het ’n vel koerantpapier, ’n reep resbietjielap, ’n paar lang spelde, stukkies tou en lint, en allerhande negosiegoedjies aan elkeen van ons uitgedeel. Ons het die papier in ’n bal opgefrommel, die papierbal met die lap toegedraai, vasgesteek met die spelde en met die goedjies wat enigiets van mooi glasknope tot gelukbringertjies en borsspelde ingesluit het, mooigemaak. Ons almal het in ons skik en met ’n gevoel van bekwaamheid met ons Kersballe daar weggegaan. Annalene se Kersballe het ek sedertdien soos ’n liefdesbrief aangegee. Binne oomblikke, waar jy ook al is, kan jy so ’n Kersbal aanmekaarslaan, want daar is altyd rondlêgoedjies in elke huishouding wat sedertdien, danksy Anna-lene se vindingrykheid, die belofte van ’n Kerstooisel inhou.

Annalene vertel dat sy as kind van die Namakwa- en Boesmanland haar nie veel aan Kersversierings gesteur het nie.

“Kersfees was uitkamptyd – see en sand en son.

“Kersdag het ons kerk toe gegaan – buitelugkerk of strandkerk – en dan het die water geroep. Ek kan nie eens onthou dat ons ooit aan iets soos ’n Kersboom of -versierings gedink het nie; dit was in die winkelvensters wat ons saans bewonder het, maar nie noodwendig begeer het nie. Ons wou net ’n maand lank die see geniet,” onthou sy.

Toe sy met André, ’n vrugteboer van die Boland, trou, het Kerstyd ook oestyd geword. Synde ’n baie bedrywige tyd, wou sy Kersfees vir hul kinders, Chris-Bosman (17), Nollie (15) en Maréze (12), en vir André inkleur.
“Al bly Christus se geboorte die rede vir die feesviering, skep die versierings ’n feesatmosfeer.”

Annalene se Kersballe het ontstaan toe sy sowat tien jaar gelede ’n praatjie oor tafelversiering bygewoon het. “Die vrou wat dit aangebied het, het op ’n Vrystaatse plaas grootgeword en het vertel hoe hul ma hulle die veld ingestuur het om versierings vir die tafel te kry. Die idee was om iets uit niks te maak,” onthou sy. “Om iets uit niks te maak, het my nog altyd aangegryp. Dis so ’n metafoor van God se skepping. Hy het ons uit niks geskep. Terwyl die vrou gepraat het oor al die rommel wat ’n mens eintlik kan aanwend, byvoorbeeld opgefrommelde koerantpapier en stukkies lap, het iets net met my gebeur. ’n Idee het posgevat. En daardie aand is die eerste Kersballe gebore.

“Ek het gaan sit met al my ‘afval’ (aangesien ek baie handwerk doen, het ek baie reslappies) en balle koerantpapier gefrommel en dit versier met dit wat ander mense dalk sou weggooi. Die reaksie op die Kersballe was oorweldigend. Sedertdien het ek al baie mense geleer hoe om dit te maak.

“Op die plaas werk ek saam met ’n groep vroue – hulle staan bekend as Sistersbloom – en ons verskaf ons skeppings aan winkels. Niemand of niks hoef dus ‘afval’ te wees nie, God kom versier ons met sy genade.

Wanneer ek so besig is met die balle, is dit vir my ’n sterk boodskap. Behalwe dat dit geweldig terapeuties is, herwin en benut jy terselfdertyd en gee nuwe aansien aan iets eenvoudigs.”

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-18°C Sunny. Mild. Pta: 3-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 0-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: -1-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-19°C Mostly sunny. Cool. PE: 8-17°C More sun than clouds. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!