Klein wonders
2012-10-21 14:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Soos ’n kind hom vergaap aan ’n karnaval, staan ek soms vasgevang in die oomblik as klein wonderlikhede onverwags tussen die alledaagse opduik.
Ek wil dit meestal vir myself hou, want vertel jy daarvan, neem dit straks die betowering uit die herinneringe.
Maar hier is drie van hulle…
Onlangs, op pad na Rustenburg, verskyn ’n sukkelende bakkie voor my. Kans vir verbysteek is min, dus karring ek maar saam. En toe, sommer so onverwags, spoeg die blou bakseil ’n engelwit veertjie uit. ’n Rukkie daarna glip nog enetjie uit onder die seil. Toe nog een en nog een…
En skielik is dit lekker om agter die voortploe-te-rende gevaarte te ry en na die vere te kyk.
’n Ander keer beland ek in spitsverkeer in Bloemfontein. (Ja, lag maar.)
Die werksdag se probleme talm nog in my gedagtes toe ek dit sien, hier reg op die sperstreep in die pad: ’n opblaas-swembadseemonster oortrek met helderkleurige kolle. Daar sit hy met ’n vrolike wyebek-glimlag en kyk vir almal wat verbykom.
’n Laaste een: Op pad na ’n restaurant wag ek een aand by ’n verkeerslig. Meteens dartel ’n hand vol blou en geel ballonne verby, en kort op hulle hakke volg ’n motoroppasser. Sy glimjas is los en waai oor sy gesig, maar hy is vasberade om die ballonne te vang.
Die verkeerslig is naderhand groen, maar al die motors wag vir hom. By tye trap hy ligvoet soos ’n danser, dan weer lyk dit of hy op die maan loop, of hy tel sy knieë hoog op voor sy gebukkende lyf.
Surrealisties mooi in die gloed van die stadsligte. ’n Klein wonderlikheid wat ’n mens so maklik kan miskyk.
Fanie Viljoen skryf kinder- en jeugverhale. Sy tiener-roman Leeus met letsels het pas verskyn.