Kleur van jou hart
2010-09-17 18:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Op die oog af lyk Welkom soos net nog ’n doodgewone myndorp met die groot, grys mynhope wat ’n mens al van ver oor die vlaktes van die Vrystaat gewaar.
Maar??moenie dink dis net die rooi stofstorms wat so bekend is aan die Vrystaat dié tyd van die jaar wat vir kleur sorg in dié geweste nie. Nee, buiten die hope kleurvolle karakters wat in Welkom woon, is daar nóg ’n man wat kleur gebruik om spesifiek ander mense se lewe aan te raak.
Stephan van Heerden het deur jare se navorsing ’n splinternuwe Gestaltterapie-tegniek ontwerp om mense deur kleur te help om in kontak met hulself te kom en hul pyn te verwerk.
Stephan bied nou landwyd kursusse aan om ander beraders en terapeute op te lei om fasiliteerders in dié terapeutiese metode te wees en die terugvoering is baie goed.
Die 42-jarige Stephan is ’n maatskaplike werker wat in 1993 sy eerste spelterapiekursus by dr. Hannie Schoeman, stigter van Gestaltspelterapie in Suid-Afrika, gedoen het. Later het hy ’n meestersgraad in spelterapie voltooi om sy tegnieke te grond in die Gestaltspelterapie.
“Ek het as 15-jarige seun al geweet ek wil ’n maatskaplike werker of dalk ’n verpleër word. As kind moes ek uitdagings hanteer soos ’n erge hakkelprobleem en ’n dierbare pa wat ’n stryd gehad het met alkoholisme - iets wat hy later oorwin het.
“Ek dink ek het ’n maatskaplike werker geword omdat ek mense se pyn kan aanvoel. Ek het nog altyd gevoel ek kan iets vir hulle doen; ek is veronderstel om mense beter te laat voel,” sê Stephan.
“My ouers was mense met ’n sagte hart wat altyd ander se nood raakgesien het.
“Soos ek volwasse geword het, het ek die Here leer ken as iemand wat nie net sonde vergewe nie, maar ook wil en kan genees. Maatskaplike werk is ’n beroep wat Sy liefde prakties maak in ander se lewe,” sê Stephan.
Die Gestaltkleurterapie (GK) het op sy pad gekom deur ’n boksie Smarties (nog voordat Nestlé die kunsmatige kleursel gestaak en Smarties se kleure verander het).
Stephan het vyf jaar lank terapie-kampe vir kinders en volwassenes aangebied en op só ’n kamp het hy die kinders Smarties laat gebruik om hulle te help bid. Die kind moes ’n hartjie teken, tien Smarties daarin plaas wat gevoelens in hul hart voorstel en Smartie vir Smartie ’n plek in sy hart met God deel.
“Dit was wonderlik om te sien hoe intens en bevrydend die kinders dit ervaar het. Kinders sukkel mos maar soms om hul eie gevoelens en emosies te verwoord en met die kleure kon hulle makliker sê wat in hul gedagtes omgaan,” sê hy.
Kleurterapie is nie die enigste tegniek wat Stephan ontwikkel het nie.
“Met astroterapie word sterre en planete gebruik om die kliënt te help om trauma en verlies te hanteer en in dinoterapie ’n tekening van hulself as oerdier om hulself te leer ken en gevoelens te hanteer.
“Ek gebruik kleur omdat dit so ’n belangrike rol speel in die ervarings wat ons diep in ons onderbewuste bewaar. Sommige van die ervarings, soos sekere herinneringe en gevoelens, speel onbewustelik ’n rol in ons daaglikse optrede, geluk en ongeluk,” sê Stephan.
Tydens Gestaltkleurterapie neem die kliënt deel aan ’n spel in tien fases, waartydens sy bewustheid en selfkennis geleidelik verhoog word deur die gebruik van kleur. Bewustheid beteken om in kontak te wees met jou ervarings. Jy moet voldoende bewustheid en selfkennis hê om selfvervulling te kan ervaar.
“Onvervulde emosionele behoeftes veroorsaak dat jou innerlike legkaart onvoltooi bly en dring altyd uit die onderbewuste aan op aandag. Gestaltkleurterapie help jou om jou emosionele legkaart te voltooi,” sê Stephan.
Gestaltkleurterapie kan gebruik word vir laerskoolkinders, tieners en volwassenes.
“Met kleurterapie word holisties met die kliënt gewerk om al sy verskillende fasette te betrek – sy emosies, gedrag, denke en sensasies.
“Soms is dit moeilik om kontak te maak met hul onderbewuste en te werk aan ervarings en gevoelens waaroor hulle ongemaklik voel. Maar kleurterapie sluit juis dié deure na jou onderbewuste oop.
Dit maak terapie ’n aangename ervaring wat altyd verligting bring en dit is boonop prettig. Die kliënt voel nooit hy word gekonfronteer nie, dat sy privaatheid bedreig word nie of dat daar druk op hom geplaas word om te verander nie,” sê Stephan.
Terapie is duur en duisende kinders en volwassenes wat dringend hulp nodig het, word daarvan uitgesluit omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Maar Stephan wil die terapie vir meer mense toeganklik maak.
Hy wil hê terapieprogramme moet ook beskikbaar wees vir beroepsmense wat nie noodwendig ’n terapieloopbaan volg nie, maar wat daagliks te doen kry met kinders en hul probleme, soos onderwysers en ander mense wat wil betrokke raak.
“Dis waarom ek tegnieke ontwikkel het wat vir sowel die fasiliteerder as die kliënt veilig is om te gebruik. Dit is veilig omdat die fasiliteerder nooit vir sy kliënt raad gee nie, nie interpreteer nie en selfs nie sy kliënt ondersteun nie.
Die fasiliteerder het absolute geloof in sy kliënt se vermoë om homself te ondersteun en begelei die persoon geleidelik deur die tien vlakke om sy eie innerlike bronne te ontdek en hom te bemagtig om homself te kan ondersteun.
Gestaltkleurterapie is ook minder uitputtend vir terapeute,” sê Stephan.
Die kursus word sedert 2009 aangebied en daar is reeds bykans 500 fasiliteerders wat dit gebruik. Stephan kry daagliks goeie terugvoer oor resultate.
Kleur vervul in meer as een gestalte in sy lewe ’n rol – in sy vrye tyd is Stephan ook ’n olieverfskilder en sy skilderye kan besigtig word in die Essensual-gallery in Clarens.