Koningin van die Nag in die kas
2012-06-30 15:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
In ’n stadium op laer skool was my beste vriende Hardia, Tjaart, Werner en Jaco.
Ek en Hardia het pienk gedra en ’n My Little Pony besit, maar ons is albei deur die leerskool wat ouer broers genoem word, en ons kon net so goed soos die ouens touchies speel en waterbomme maak.
Só het dit gebeur dat ek en Hardia die enigste meisies was wat na die seuns se verjaarsdagpartytjies genooi is. Soms was dit besadig – uiteet by Mike’s Kitchen (ek verwys nie na die rib-swaardgeveg nie). Soms was dit rof. Dink tien seuns, twee meisies, ’n swembad en ’n duikkompetisie.
Maar slegs een partytjie het my lewe verander.
By Werner Ackermann se verjaarsdag was dit weer ek en Hardia, en die manne. By Werner-hulle se huis aangekom, is ons die dood voor die oë gesweer as ons in die huis kerjakker. Partytjie is buite. Ma Mimi Coertse repeteer in die sitkamer.
In Werner se suster se kamer het ek en Hardia vinnig ons cozzies aangetrek. Ek was net mooi reg toe die gevreesde my tref: ’n piepie.
Nou, die een ingang na Mia se kamer was via ’n deur wat so half deur haar ma se klerekas geloop het. Ek was skaars deur die kas op soek na die badkamer toe ek voetstappe hoor. Ek’t teruggeskarrel en gaan sit. Goed verskuil.
Wie hulle opwagting gemaak het of wat die res van die dag gebeur het, kan ek nie onthou nie. Wat ek wel kan onthou, is die lang aandrokke om my wat geblink het soos kristalglase, ’n reuk wat iets was tussen my ma se parfuum en kaneel, en ’n verlange na ’n plek wat ek later sou leer ken as Wene.
Alles op die maat van die Koningin van die Nag in die sitkamer…
Carina Diedericks-Hugo is ’n bekroonde jeugboek-skrywer. Haar Thomas@-boeke word nou ’n TV-reeks.