Kortverhaal: Voetstootslaagte se Jesuskind

2012-12-22 23:56

ILLUSTRASIE: KATRIN COETZER

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

“Dis nou al lank,” het ds. Kruger daardie oggend met die erediens swaarwigtig gesê, “dat ek ’n diep behoefte in my voel roer.” Hy het ’n sakdoek oor sy beswete voorkop gevee. Vroeg Novembermaand, maar dit was reeds bloedwarm.

Die gemeente het grootoog gesit om te hoor wát die behoefte is wat hulle dominies so in hom voel roer. Dat hy wel behoeftes gehad het, daarvan was hulle op Voetstootslaagte deeglik bewus. Dié behoeftes, so is daar geskinder, was nou nie juis dit wat mens aan ’n godsman wil toeskryf nie, maar nou weet mens mos nooit waar die waarheid van ’n skinderstorie begin en waar dit eindig nie. By skinder het dit nie gebly nie, antie Antjie Malherbe het sommer openlik gesê: “Onse dominies is net in sy bolyf bekeerd.”

Sy roerende behoefte, het ds. Kruger gesê, was om in die komende Kersfeesseisoen uit te reik na die minderbevoorregte mense van die dorp, terwyl hy so met sy hand in die rigting van die Gopse wys. Nie dat die mense daardie gedeelte van die dorp meer die Gopse genoem het nie. Ná een van einste ds. Kruger se vurige preke het die mense dit stadigaan die Laagte begin noem. Gopse was ’n lelike woord uit ’n vorige tydperk.

Dis sy behoefte, nee, sy róéping, het ds. Kruger gesê, dat juffrou Verbeeck van die Laagte se jeug sal gebruik vir die komende Kersspel. En dat die gemeente daardie aand hulle arms sal oopmaak om die verworpenes van die dorp in die boesem van die gemeente te verwelkom.

Juffrou Verbeeck, die dramajuffrou van die hoër skool wat al die afgelope driehonderd jaar Voetstootslaagte se Kersspel geskryf en geregisseer het, het verstar gesit. Haar dinge was reeds gereël; Suné-Mariè Jooste was haar Maria, en Juan Stassen haar Josef, maar nou, hier in die kerk, word sy voor almal aangesê om die Gopse se kinders te gebruik!

Maandagmiddag ná skool was sy by die pastorie. Mevrou Dominies het haar binnegelaat. Mevrou Dominies wat nooit ’n kind gehad het nie en met die treurigheid daarvan in haar oë geloop het. Juffrou Verbeeck het gepraat, maar uitkomkans was daar nie.

“En wié, Dominee, moet jou Maria wees? En Josef?” het sy bitsig gevra.

Ds. Kruger was onverstoord.

“Ek het gedink aan Juan Stassen as Josef. En Gertruidjie Ruiters as Maria.”

“Wie?”

“Gertruidjie Ruiters.”

Juffrou Verbeeck het wasbleek geword.

“Maar, Dominee,” het sy gestik, “Gertruidjie is ’n meisiekind wat op die oomblik hier rondloop met ’n… met ’n maag wat dóér… ”

“Suster… ” het hy haar in die rede geval, “maak dit nie juís vir Gertruidjie die perfekte Maria nie? Ook Maria van die Bybel is verguis, maar sy is gekies om die moeder van die Heilige Kind te wees. Laat ons nie oordeel nie. Ek het só gedink, teen die datum van die Kersspel sal die baba reeds gebore wees, dan kan ons sommer die kleintjie gebruik as die Jesuskind.”

’n Keuse was daar nie, dit sou Gertruidjie en Juan in die hoofrolle wees. Die res van die engele en die skaapherders is so al om die helfte gekies uit die Laagte en die dorp se kinders.

Begin Desember word Gertruidjie se kind gebore, ’n seuntjie. Vir ’n week oefen Gertruidjie nie saam nie. Toe sy terugkom, is dit mét die kleintjie. Klein Jesus slaap soos ’n engeltjie in sy krip terwyl die kinders om hom oefen.

Met die Kersspel is die hele dorp in die kerksaal, die Laagte se mense, soos ds. Kruger gevra het, in die boesem toegevou. En alles verloop goed. Die ster val nie uit die hemele, soos ’n vorige keer nie, die herders sing nie vals nie, die donkie lig nie sy stert nie. Toe die Wyse Manne hulle geskenke bring, word klein Jesus wakker en gee ’n skreetjie. Maria tel hom op uit die krip en hou hom teen haar skouer. Die Wyse Manne kniel, Josef staan en kyk. Klein Jesus gee ’n gapie en kyk met wakker ogies na die mense voor hom. En toe lig hy sy handjie, asof hy vir hulle waai. Of seën.
Almal se harte vermurwe.

Ds. Kruger, in sy preek daarná, vra vir sy gemeente: “Aanvaar julle die Jesuskind as ons Verlosser?”

Natuurlik. En natuurlik aanvaar almal dit ook, ’n maand of wat later, toe Dominies en mevrou Dominies aankondig dat hulle ’n kindjie gaan aanneem.
Gertruidjie se Jesuskind.

* Riana Scheepers se bundel kortverhale Die vrou in die vuur het onlangs verskyn. (Tafelberg, R190)

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 10-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 8-17°C Sunny. Mild. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 17-24°C Rain late. Morning clouds. Mild. PE: 12-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!