Kosbare erwe
2012-09-26 13:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Tolletjiebrei is ’n tameletjie. Die kind hou die ouwêreldse houtkontrêpsietjie met die spykersirkel na my toe uit en hy wil opsluit nou dadelik weet: hóé? Ek het nie ’n benul nie.
Kyk hier, lei ek die aandag af, en wys na ’n foto van die onderwatergraf van koning Munmu van Korea. Voor sy dood het dié heerser van die Ryk van Silla gevra om in die oostesee begrawe te word sodat hy ná sy dood ’n draak kan word. Só, het hy gemeen, sal hy sy geliefde skiereiland ten beste teen aanvalle van Japannese seerowers kan beskerm.
Dáárvan hou my gefrustreerde klein aspirant-tolletjiebreier. En omdat ek weet hoe ’n sewejarige seun se kop werk, vertel ek ook van die dinosourus-broeiplek.
As dit laaggety is by Goseong, kan ’n mens meer as vierduisend gefossileerde dinosourus-voetspore en talle eiers in die 6 km-rotsbedding sien. Meer as 100 miljoen jaar oud, maar die eerste spore is eers in die 1980’s gevind.
Oor al hierdie dinge lees ek omdat ek vandeesmaand na Suid-Korea reis.
Ons lentemaand val losweg saam met die agtste maan-maand, waartydens Koreane hulle respek aan hulle voorouers betoon tydens die jaarlikse Chuseok-fees. Dié fees word reeds sedert vóór Christus se geboorte gevier en het as ’n weeklange weefwedstryd begin.
Die tolletjie word voorlopig vergete eenkant gesit. Ons sal dit nog uitfigure, maar eers kyk ons saam na prentjies van Gyeongju, die stad wat ek eersdaags besoek.
So oud is dié opelug-museum met sy tempels, beelde en pagodas dat die ganse stad in 2000 deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar is.
Ons is altwee doodtevrede, want ons het ’n venster oopgemaak om soet, vars lug te laat inkom. Behalwe die kultuurgoedere en tradisies van ons eie, nogal bedompige, bloedjong beskawing, is die erfgoed wat vir ánder kosbaar is, ook oneindig interessant.
Sonja Loots is die wenner van die Eugène Marais-prys vir haar roman Sirkusboere.