Kroniek van ’n kospelgrim

2012-09-26 11:45

Foto: Craig Fraser

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Hoe verander ’n mens ’n Levi’s-lapsak, tot toiings toe volgestop met 11,8 kg se A4-velle resepte, boererate en transkripsies in die eerlikste Afrikaans, in ’n hardebandboek van 1,4 kg wat hulde bring aan die koskultuur en -kruisbestuiwing van ons rare reënboognasie? Hoe reduseer jy 467 resepte, waarvan talle slegs mondelings van die een geslag na die volgende oorgedra is, tot net 70?

Antwoord: Jy lees oor en oor deur dié omvangryke oes van die gemeenskapsaktivis en digter Sydda Essop se kospelgrimstog deur die Karoo, en jy troos jou tussendeur met ’n trio woorde wat al donkiejare die mense in hierdie genadelose, afgeslote landskap vorentoe laat beur: Nood leer bid.

Ek wou so graag iedereen van die meer as 100 medewerkers tussen die ouderdom van 23 en 95 wat sedert 2007 hulle deur vir Sydda oopgemaak het, in lewende lywe ontmoet: Tant Francina Nolusapho Blow van Beaufort-Wes, wat tradisionele kombotiebier nie net vir haar seun se besnydenisritueel gebruik het nie, maar ook om haar drome oor die dooies te laat wyk; oompie Stoffel Koopman van Hopetown, gebore op 8 Februarie 1914, wat sekerlik onbewus was van die rillings wat sy resepte vir rissel (brosgebraaide ystervark-rugvel), rooikatboud en skaapkop gebak in ’n skaappens laatnag teen my ruggraat afgestuur het; of wyle Karen du Preez, ’n ander Beaufort-Wesser, wie se terloopse verwysing na haar oupa se haasvelsakkie gevul met sy skuinskoek-rantsoen my laat verlang het na ’n bakkie vol van dié vandagvars gebak uit die Hantam wat jou dikwels ná die derde een sooibrand gee.

Tog was dit seker onvermydelik dat party van dié kosmakers en genesers, boere en jagters, huisvroue en huishulpe, lede van die Vroue-Landbouvereniging (VLV), dominees, sjefs, winkeleienaars, baasbakkers, vroedvroue of kruiekenners hulle laaste asem sou uitblaas voordat Karoo-kombuis – onthoukos en onvertelde verhale uit die hartland uiteindelik in September 2012 op die winkelrakke sou verskyn.

Ek was maar een van vele mense wat Sydda bygestaan het om hierdie milddadige navorsingsreis op soek na die geskiedkundige kosse, resepte en stories van die verskillende kulture en inheemse gemeenskappe van die Groot-Karoo tot iets meer verteerbaars te distilleer, tot iets wat haar uitgangspunt gestand sou doen dat die mense van die Karoo die afgelope eeue oorleef het deur óf onwetend óf kragdadig óf stelselmatig die unieke kosvaardighede en -tradisies van die streek se multikulturele gemeenskappe aan te neem: die afstammelinge van die Boesman-San-jagter-versamelaars, die Khoikhoi-veeboere, die Nederlandse, Britse, Franse en Duitse nedersetters, Xhosas, slawe uit die Ooste, Indiërs, Grieke, Portugese, Somaliërs…

“Dit het uitgeloop op ’n ongemaklike naasbestaan en ’n unieke kos¬kultuur,” verduidelik sy voorin die boek, “en vandag kan geen enkele kultuurgroep daarop aanspraak maak dat Karookos aan hom alleen behoort nie. My navorsingsreis om resepte en stories in te samel het gelei tot die besef dat ons ’n interafhanklike verhouding deel en dat ons saam ons lot bewimpel deur ons bydraes te erken. Kos bind ons.” 

So vasberade was die skrywer om verslag te doen oor die eetgewoontes van al die verskillende kulture in die streek dat sy haar aandeel in die familie se supermark op Beaufort-Wes én haar huis in Kaapstad verkoop het om haarself te onderhou in die meer as drie jaar waarin sy derduisende kilometer stoksielalleen afgelê het om te praat maar bowenal te luister.

In Karoo-kombuis kwyl jy dus die een oomblik vir die fynproewersresepte van ds. Manus Duminy van Victoria-Wes, geregte soos gebraaide lamskenkels met uiemarmelade en bros gemmerwortel, en dan kry jy skielik lus vir die eenvoudige vaalvleissop met askoek van tant Ragel Jeanette Pienaar van Loxton, Debbie Anstey se kneidlach (matso-bolletjies) met tradisionele Joodse hoendersop, die Somaliër Horiya Mohamed se anjera-ontbytpannekoeke of tant Marta “Sus” Boezak se stoweperskes en eiervla op die voorblad, wat haar ma Saterdagaande voor die koms van yskaste saam met die jellie en haar beroemde suurlemoenpoeding op die koel damwal uitgepak het om te stol.

Nóg interessanter, maar beslis ook grilleriger, veral as jy nie jou mond aan afvallighede soos skaapkop, lamspeertjies, harslag, sult, kaiings of bloedwors waag nie, is hoe veral ekonomiese omstandighede dié tradisionele rys-vleis-en-aartappeleters se verhouding met vleis verander het. Lankal reeds word nie ’n enkele krieseltjie van ’n slagding vermors nie, behalwe miskien die “blouderm”, wat na die honde gaan.

Benita en David Johnson van Indaba Meat Distributors op Beaufort-Wes verduidelik vir talle mense – nie net die oudplaaswerkers wat gewoond was aan die gratis “maandelikse slagding” nie – is vleis toenemend ’n “onbekostigbare droom”.

“Teen net R45 is ’n skaapafval-stel, wat bestaan uit die kop, vier pootjies, pens, lewer, longe met gorrel, hart en dikderm met die stuk vet (nie die netvet nie), soos manna uit die hemel waarmee jy vir Sondagmiddagete ’n familie van 15 kan voed.”

Dit is beslis ook nie net in die sjiekste restaurante waar afval besig is om ’n terugkeer te maak nie. Volgens Benita, wat afval verskaf van Khayelitsha tot die Paarl en die Oos-Kaap, is die afvalmark veel groter as wat ’n mens dink.

“Wit mense is byvoorbeeld vreeslik gesteld daarop dat afval spierwit en silwerskoon geskraap moet wees, terwyl die swart mark wil hê ons moet die afval net uitspoel sodat hulle dit self kan skoonmaak. ’n Vrou van Khayelitsha betaal my byvoorbeeld R70 vir ’n vuil beespens, maar daai beespens weeg omtrent 17 kg, terwyl jy vir 17 kg lamsvleis honderde rand sal betaal.”

Tant Siena Blow beaam dit: Sy hou nie so baie van die boere se style om hulle afval in water skoon te skraap nie – háár manier om dit skoon te brand sorg vir ’n veel geuriger eindproduk.

Dit is dié soort nietighede, en ook die alte amusante boererate waartoe mense wat baie ver van die naaste dokter was, hulle destyds gewend het, wat die byna drie jaar saam met Sydda Essop se navorsing so ’n boeiende ervaring gemaak het. Maar ook Sydda self, die Moslem-vrou wat in 2010 in Nuwe Stemme 4 as digter gedebuteer het en wie se grootouers in die vroeë 20ste eeu uit Indië na Beaufort-Wes gekom het, die dorp waar sy in 1951 gebore is.

Sydda se pa, Solly Essop, het op ’n vroeë ouderdom reeds by die politiek betrokke geraak en was in die laat jare veertig en die jare vyftig deel van die Kommunistiese Pary en die ANC-jeugliga. Hy het hom later by die PAC aangesluit en was ’n groot bewonderaar van dr. Robert Sobukwe.

In die jare vyftig en sestig, toe Nelson Mandela deur die Karoo gereis en ondergronds propaganda gemaak het saam met mense soos dr. Yusuf Dadoo en Maulvi Cachalia, het hulle dikwels eenuur in die oggend na die Essops se huis gekom om motors om te ruil. Hier het hulle ook weggelê aan die kerries waarvoor Sydda se ouma bekend was.

“Ek was ’n baba daardie tyd,” sê Sydda, “maar volgens my familie het Mandela my altyd opgetel en op sy skoot vasgehou.”

Dit was duidelik die begin van groot dinge, dinge soos Karoo-kombuis.  

*Karoo-kombuis – onthoukos en onvertelde verhale uit die hartland word deur Quivertree uitgegee en kos R450 by uitgesoekte boekwinkels.


Gebakte lemoenpoeding in stroop


“Dis een van my ma se ongelooflike resepte wat goed werk saam met roomys, vla of room.”

½ k suiker
4 e botter of margarien
1 groot eier
1 e appelkooskonfyt
½ t gerasperde lemoenskil (opsioneel)
½ t koeksoda
½ k lemoensap
¾ k koekmeel

1 Verhit die oond tot 180 ºC. Meng al die bestanddele vir die stroop en gooi dit in ’n oondbak van omtrent 1,5 liter (of ses individuele ramekinbakkies).
2 Room die suiker, botter, eier, konfyt en lemoenskil saam. Los die koeksoda in die lemoensap op (oppas, dit sal opbruis!) en roer dan die lemoensapmengsel en meel om die beurt in by die suiker-en-bottermengsel.
3 Skep die beslag in die stroop en bak dit vir 25-35 minute tot goudbruin en gaar.

Stroop
1 k lemoensap
1 k suiker
½ k water
1 e botter of margarien
’n knippie sout

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Numerous showers. Decreasing cloudiness. Cool. Pta: 11-27°C High level clouds. Pleasantly warm.
Jhb: 11-21°C High level clouds. Mild. Bfn: 6-16°C Morning clouds. Refreshingly cool.
Dbn: 17-22°C Passing showers. Mostly cloudy. Cool. PE: 10-19°C Showers late. Afternoon clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!