Kulinêre krimineel
2012-10-05 11:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar is mense wat dwelms in hulle skoensole en haarlokke oor landsgrense smokkel. Dan is daar mense wat snuffelhonde en doeanebeamtes met koffers vol Swartwoudhamme en Italiaanse worse probeer ontduik. Ek is een van dié smulpaapskurke.
’n Kulinêre krimineel wat camembert en foie gras tussen my klere in my reistasse die land insmokkel.
Vroeër jare het ek maklik met my gastronomiese skelmstreke weggekom, maar vandat owerhede lugtig is vir bek-en-klouseer en vir terroriste wat ’n vlieënier met ’n salami kan oorval, gaan dit moeiliker.
In 2010 gaan ek en my ma van 77 op ’n Europese bustoer en word sy my partner in crime. Dis haar eerste oorsese reis en sy vergryp haar saam met my aan die emmentalkaas, prosciutto en Eiswein.
In elke land koop ons ’n “aandenking” wat ons in plastiek verseël en in ons tasse pak. Ons kan nie wag vir daardie oomblik wanneer ons die fourme d’Ambert en pont-l’Évêque met familie en vriende deel nie.
Soos die reis vorder, raak ons tasse swaarder en die kase ryper. Dis veral die pont-l’Évêque wat ’n klankie afgee – die ene stinkvoet. Ons medereisigers begin ons vermy, maar ons hou moed.
Met die terugkeer word ons tasse sonder probleme op Heathrow-lughawe ingeweeg. Maar toe land ons in Johannesburg. Ek ruik ons tasse nog voor dit op die bagasieband aankom. Uit die hoek van my oog gewaar ek ’n polisieman met ’n beagle. Ons gryp ons tasse en mik vir die uitgang, maar die beagletjie en sy baas is op ons.
“Maak oop jou tas,” beveel die man, en my ma gehoorsaam. Hy vat die pont-l’Évêque wat bo lê en berispe ons. Gelukkig soek hy nie verder nie.
Maar toe hy so wegstap, roep my ma agterna: “Daai kaas proe veral lekker saam met ’n glasie port, hoor!”
Gerda Taljaard gee klas aan die Universiteit van Pretoria en is die skrywer van Kelder.