Lappieskombers

2012-09-26 12:46

Amanda Haupt (links) en Lise Butler van Design Team

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

AMANDA DU PLESSIS

Haar materiaal vertel die storie van ons land se Afrikaanse families, die hele pad terug na 1688, toe haar Hugenote-voorsate uit Frankryk in die Kaap aangekom het.
Toe hierdie artikel drukker toe is, het haar tydreis na die toekoms  gedraai – tot in Parys by die gesogte Maison & Objet-ontwerptentoonstelling, waar sy vroeër dié maand haar Evolution Product-reeks bekend gestel het.

Dié Johannesburger vang haar romanse met tekstiel op haar webblad vas met die woorde “erfenis, wortels en siel”. Haar eie storie begin in die laslappiesak waar sy as sewejarige kleure en teksture help uitsoek het vir haar ma, Isobel du Toit, se kwilts.

Die bemarkingsgogga se byt kom weer van haar pa, Wynand du Toit. “Hy het van die eerste lang komkommers in Suid-Afrika gekweek. As kind het ek dit aan ons bure in Pretoria verkwansel,” lag sy.

Ná ’n lang draai in die mode-kleinhandelwêreld het sy haar konsultasie-en-tekstielmaatskappy Evolution in 2003 gestig.

“’n Ou lessenaar met ons Du Toit-familiewapen en ’n lêer van my pa met handgeskrewe dokumente, onder meer uit 1890, was my inspirasie om in Kaapstad se argiewe te soek na die handgetekende familiewapens van Afrikaanse familiestamname wat terugdateer na 1680. Só het ek die handtekeninge ontdek van die eerste Europeërs wat na Suid-Afrika gekom het.”

Saam met dié rondgrawery het nog verrassende ontdekkings gekom. Soos dat Amanda se oupagrootjie, S.J. du Toit, in 1882 Suid-Afrika se eerste Afrikaanse skool in die Paarl gestig het. Dít het een van Amanda se herkenbaarste en gewildste ontwerpe geïnspireer – haar eie silhoeët, koffer in die hand, op haar eerste skooldag. “Dié reeks is in 2010 bekend gestel toe my oudste seun, Wian, skool toe is. Dít, en die Hugenote-gedenkskool se 1882-klasfoto met my oupagrootjie op die voorgrond, het my laat kyk na vier generasies se eerste skooldag.

“Dit het my ook bewus gemaak van ons voorsate se opofferings om ons in Afrikaans te kan onderrig en enorme ondernemings soos om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Ek gaan binnekort my kinders na die skooltjie (nou ’n luukse boetiekhotel) neem; hulle moet weet waar hulle vandaan kom.”

As iemand wie se werk reeds nagemaak is, is Amanda passievol oor die etiek agter ontwerp. “Materiaalontwerpers moet mekaar se kreatiwiteit en navorsing respekteer. Ek het die kunstenaar Kim Lieberman geraadpleeg oor haar invloed op my werk en haar toestemming gekry om met my ontwerpe voort te gaan. Ek noem ook haar invloed in al my voorleggings.”

Maar soos die naam Evolution spreek die ontwerpe vanself. Elke reeks sluit by die vorige een aan, nes die lyne van die generasies in ’n familiestamboom.

• Die Evolution Covered-reeks kos vanaf R295/m vir 190 cm wyd. (www.evolutionproduct.co.za)

Amanda Haupt en Lise Butler

Kewpie-poppe, tolbosse, windpompe en dorpsname… Die vars, plaaslike flair van die Afrikaanse ontwerpdinamo’s Lise Butler en Amanda Haupt van Design Team het al 13 jaar gelede ons harte gesteel toe hulle eerste materiaalreeks by Decorex bekend gestel is.

Dié Pretorianers bekyk die plaaslike land¬skap deur ’n kreatiewe bril wat alledaagse dinge omtoor in ontwerpe wat altyd iewers tussen stuitig en nostalgies is. “Toe ons eerste reeks destyds by Decorex bekend gestel is, het Suid-Afrikaanse ontwerpers ’n obsessie oor internasionale tendense gehad,” vertel Lise. “Hulle het nie besef daar is ’n groot mark vir plaaslike inspirasie wat nie etnies is nie.”

Design Team se gewildste ontwerpe is die Drum-tydskrifvoorblaaie, Bok-politoer, Swimgirls en Jive, in katoen en linne. Hulle maak deesdae ook klere en meubels.

• Design Team se materiaal kos vanaf R475/m. (www.designteamfabrics.co.za)

Klein outjie, groot hart

Wonderboy Nxumalo is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ver jy jou talent kan neem. Ardmore Ceramic Art is een van Suid-Afrika se groot suksesverhale, en 14 jaar lank was sy ster dié klein outjie met die groot hart.

Die Amerikaanse Coca-Cola-erfgenaam Susan Mathis versamel Ardmore-keramiekwerke. Dit pryk ook in Buckinghampaleis en die Wit Huis. Maar Wonderboy se ma was ’n huishulp op ’n Natalse dorpie, ligjare verwyder van die internasionale galerye en veilings waar kunsliefhebbers duisende dollars opdok vir die werke waarmee Fée Halsted en Bonnie Ntshalintshali in 1990 die Standard Bank Jong Kunstenaar van die Jaar-toekenning gewen het.

Wat Wonderboy se werk anders gemaak het, was die boodskappe langs sy prente met sy eenvoudige dog inspirerende siening van die lewe en die wêreld. Soms was dit ’n gebed, soos die woorde op ’n bord wat ’n priester in Amerika gekoop het: “O God, please let our leaders not be greedy and take everything for themselves. God has created this world to be ruled by good people who would share everything… ” Of ’n liefdesverklaring: “Remember true love is the one never failed, never broken, never sleep, never bring you tears, never keep your face unhappy.’

Dis nou vier jaar sedert ’n MIV-verwante siekte Wonderboy se lewe kortgeknip het, net soos baie ander Ardmore-kunstenaars s’n. Vandag is sy mooiste woorde verewig op Ardmore se nuwe materiaalreeks (in samewerking met die tekstielgroep Mavromac), met ontwerpe waarvan ’n deel van die wins aan sy ma sal gaan.

• Ardmore se materiaal kos vanaf R1 000/m. (www.ardmoreceramics.co.za of www.mavromac.co.za)

Eenvoud eerste


Heather Moore beskryf haar gewilde Skinny laMinx-materiaal as ’n kombinasie van Skandinawiese eenvoud, Japanse selfbeheersing en Suid-Afrikaanse lewenslus in ’n enkele vars, kenmerkende styl.

“My Afrika-inspirasie kom waarskynlik die sterkste deur in my speldekussing-proteamotiewe en die diere in my Sevilla Rock-versameling wat deur San-rotskuns geïnspireer is,” vertel dié voormalige Kaapse boekillustreerder.

Heather het geen tekstiel- of ontwerp-opleiding nie. “Ek het maar geleer terwyl ek deur die proses gegaan het. Die internet is my beste bemarkingsgereedskap.” Sy het ’n winkel in Breestraat, Kaapstad (kyk uit vir die vasgekettingde fiets buite) en verkoop haar reekse wêreldwyd, onder meer op etsy.com.

• Skinny laMinx-materiaal kos vanaf R425/m. (www.skinnylaminx.com)

Pata-pata


“Ons wou ’n eg Suid-Afrikaanse maar prettige naam hê, vandaar So Kiff,” vertel Faye George. Dié plaaslike slang-woord vir alles wat koel is, is nommerpas vir die materiaalreekse wat sy in Linden, Johannesburg, saam met Rosemary Harman skep.

Faye en Rosemary het die advertensiebedryf verruil vir hulle onderneming waar hulle woel met reekse soos Dancer, wat die ritmiese bewegings van pata-pata- en myndansers vasvang.

“Die probleem van goedkoop materiaal uit China probeer ons oorkom deur met syskermdrukwerk ’n produk te skep wat jy nie uit China kan kry nie,” sê Faye.

• So Kiff-materiaal kos vanaf R300/m by Black Fabrics. (www.blackfabrics.co.za)

Lekker laf

Design Kist, die breinkind van Kaapstad se Kristen Morkel en haar ingenieurman, John, is ’n aanlyn-tekstielateljee wat buiten materiaal ook digitale oppervlakpatrone en muurpapier verkoop. Met ontwerpe soos Muizenberg Huts en Egoli Skyline het dit ’n sterk plaaslike geur.

“Ons Zoo Biscuit-materiaal en -muurpapier, en ons Marmite-motief is gunstelinge,” vertel Kristen, wat aan die Kaapstad-technikon tekstielontwerp studeer het. Hulle Mzansi-reeks en vars interpretasie van tradisionele shweshwe-motiewe met mossies en blikketels laat plaaslike harte warm klop.

• Design Kist se materiaal kos vanaf R425/m. (www.designkist.com)

Afrika-kinkel


Soos baie suksesstories begin Fabricnation s’n in ’n motorhuis, waar Jane Solomon en Jann Cheifitz in die jare tagtig as kunsstudente tradisionele Afrika-tekstiele met ’n moderne stedelike kinkel herinterpreteer het. “Ons wil ’n vars perspektief na die tek¬stielmark bring,” vertel Jane, wie se ateljee in Woodstock, Kaapstad, is. Jann woon nou in New York, maar hulle werk steeds nou saam.

En jy gaan ver soek vir varser as hulle Toile du Jozi, ’n Afrika-weergawe van die dekoratiewe Franse toile de jouy-patrone. Pleks van die ouwêreldse tonele is daar vroue met emmers op die kop teen ’n Johannesburgse silhoeët.

• Fabricnation-materiaal kos vanaf R210/m, slegs per afspraak. (www.fabricnation.co.za)

Wyn en aalwyn

Hoe klink ’n wynroete op jou rusbank? Ons praat nie van die glas wyn wat jy laas omgestamp het nie, maar van die Kaapse tekstielgroep Hertex se elegante, nuwe Valley of the Vines-reeks met Kaapse blomme, vlamrooi aalwyne, monochromatiese wynglase en wingerde. 

Dis geïnspireer deur die Hertex-direkteur Coba Herrmann se passie vir aalwyne. Die botaniese sketse is Coba se handewerk en haar tekstieldebuut, en die wynmotiewe is deur die bekende ontwerper Jay Smith.

• Hertex se Valley of the Vines-reeks kos vanaf R296/m. (www.hertex.co.za)


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-17°C Showers late. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-25°C Sunny. Mild. PE: 10-26°C Morning clouds. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Sales / Marketing / Customer Services

Hatfield
Capital Growth
R1 500 - R4 000 Per Week

IMMEDIATE Afrikaans speaking individuals

Randburg
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 500 - R28 000 Per Month

IMMEDIATE Afrikaans speaking individuals

Johannesburg
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 500 - R28 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!