Leermeester: Daniël Vos en Willem Vogel
2012-09-20 14:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hoe is Salon Music gebore?
Ons het in 1994 in ’n lang verkiesingstou staan en filosofeer oor hoe klassieke musiek onbelangrik sou word. Ons wou ’n onderneming begin wat werk skep vir klassieke musikante. Een gegrond op gesonde sakebeginsels en onafhanklik van enige groep.
Wat was julle grootste waagstukke?
Die winkel en die teater. Ons het die winkel in Brooklyn Mall begin nadat ons tien jaar lank in ’n beskermde omgewing net konserte gereël het. ’n Nasionale winkel-groep het drie jaar lank ’n prysoorlog teen ons op klassieke musiekprodukte gevoer. In 2010 het ons die ou Performer-teater gekoop om die Brooklyn-teater met sowat 400 sitplekke te begin.
Wat maak julle winkel besonders?
Ons glo ons verkoop inligting, kennis, diens en leef-styl. Benewens een personeellid wat ’n dramagraad het, het die res almal musiekgrade. Mense bel soms vir Willem, fluit ’n deuntjie, en vra hom wat dit is, sodat hulle ’n CD daarvan kan bestel. Daar is CD’s en DVD’s met klassieke- en wêreldmusiek asook DVD’s van kunsrolprente.
Wat behels die salon-weergawes van die operas en operettes wat julle opvoer?
Dit maak ongelukkig nie sakesin om meer mense op die verhoog as in die gehoor te hê nie. Willem her-orkestreer ’n hele orkes se musiek vir ses musikante. Die meer vervelige sangdele word uitgehaal sodat feitlik net die hoogtepunte gesing word. ’n Akteur vertel tussendeur die storie. Dit maak die opvoering toegankliker en korter. Sover ons weet, is ons konsep uniek in die wêreld.
Hoe bereik julle julle kliënte?
Word of mouth is baie belangrik, asook die persoonlike kontak wat ons in die winkel het. Ons het ’n adreslys van 40 000 ondersteuners.
Wat is julle raad aan jong mense wat ’n loopbaan in klassieke musiek oorweeg?
Jy moet baie natuurlike talent hê, hard werk en alle geleenthede aangryp. Diversifiseer! Die mark is te klein om te spesialiseer – daar is nie genoeg plek vir konsertsoliste nie. Gaan delf bietjie dieper as die kollig en ondersoek alle moontlikhede. Ons in-huis-tenoor, Righard Linde, sing byvoorbeeld nie net nie, hy doen ook beligting en verkoop kaartjies.
Behoort klassieke musiek gesubsidieer te word?
Die geskiedenis van gesubsidieerde kunsondernemings in ons land lyk maar sleg. Jy maak net ’n sukses as jy self ’n belegging maak. Ons probeer indirekte borg-skappe kry deur die teater vir konferensies beskikbaar te stel.
Hoe raak Salon Music julle persoonlike lewens?
Ons werk wanneer ander mense werk én wanneer hulle ontspan. Ons en ons tien heeltydse werknemers raak soos familie vir mekaar.
Wat is verbode in julle winkel en teater?
Backtracks, doef-doef-tromme en sintetiseerders. En ons vat enigiets wat rym met baby, sokkie, rokkie, bokkie, tjoklits, loslappie of pampoen met ’n knippie sout.