Local is lekker: Dana en Lettie se komberse

2012-12-16 00:04

Al hoe meer vreemdelinge daag hier op met lappies, met beskuit en koekies, blomme…

Lettie se lappieskombersfabriekie in my motorhuis op Jacobsbaai is uit genade gebore. Of uit desperaatheid. Dit hang seker maar af hoe jy na sulke dinge kyk.

Dit was in Mei vanjaar en ek het die oggend by my skryftafel gesit en somme maak: Soveel is die verbandpaaiement op my huis, soveel moet ek hê vir elektrisiteit, soveel vir…

Boonop het ek drie mense in die huis gehad waarvoor ek moes sorg: Lettie, haar man, Johannes, en hulle 15-jarige verstandelik-gestremde seun, Koos.

Johannes Bogosi het vir jare vir my pa op Ventersdorp gewerk en ná my pa se dood verlede jaar kon ek Johannes nie aan Ventersdorp oorlaat nie.

Johannes het my gedane ou pa se opgeswelde voete in sy laaste dae met salf ingesmeer. Keer op keer het hy my pa met waardigheid aan die arm van die bed af begelei op daardie onwaardige klein oumensreis tot in die toilet.

Johannes het my pa van die AWB, waarvan hy eens lid was, help genees.

“Maskien ek moet maar saam met Ouboet loop,” het Johannes voorgestel.

Toe Johannes by my pa begin werk het, het hy my pa “oubaas” genoem. Maar iewers het die “oubaas” in “ouboet” verander. En ná my pa se dood, erf ek toe dié titel.

Baie mense op Jacobsbaai het Johannes, wat ’n rybewys het, se deugde gou besef. Hy het party se kinders soggens skool toe begin neem, in hulle eie duur karre. Een man het hom selfs geleer hoe om ’n GPS te gebruik.

Maar saans kon ek dit in Johannes se gesprekke met Lettie oor die selfoon hoor. Jy hoef nie Tswana, Johannes se huistaal, te verstaan om verlange raak te hoor nie.

“Kan ons nie maar vir Lettie-hulle laat kom nie, Ouboet?” wou Johannes op ’n dag weet.

Ai.

Wie gaan vir Lettie-hulle moet sorg?

Ek het die buskaartjies gekoop en Lettie en Koos het saam met Johannes in die slaapkamer op my huis se boonste verdieping ingetrek. Maar hier was nie veel vir Lettie op Jacobsbaai om te doen nie. Intussen was daar knaend nuwe dinge waarvoor betaal moes word: “Ouboet, die huis by Venters se sinkplaat het afgewaai.” “Ouboet, my air time is op… ”

Dit terwyl Ouboet se bankrekening leeg is.

En toe, terwyl ek daardie Mei-oggend hier by my tafel sit en somme maak, onthou ek weer van die lappieskombers wat Lettie vir my pa gemaak het. Johannes het dit op ’n dag daar aan-gebring. Dit was ’n geskenk van haar af.

“Ek dink jy moet weer só ’n kombers maak,” gaan sê ek vir Lettie. “Ek sal probeer om hom vir jou te verkoop.”

“Het Ouboet geld vir die lappies? Ons is leeg.”

Ai.

Twee dae later kom staan Lettie by my, met die mooiste lappieskombers voor haar opgevou, soos ’n vlag van hoop. Eers wil ek dit na ons plaaslike geskenkwinkel neem, maar toe dink ek: Facebook.

Ek neem ’n foto van Lettie met die kombers in die veldjie voor my huis en sit dit op Facebook. “Kombers te koop vir R400,” skryf ek.

Tipies Calvinis: R400 vir ’n kombers wat Lettie vir twee dae met die hand sit en maak het!

Byna dadelik kom die reaksie: Elsabé Brits van Kaapstad sê sy vat die kombers. Nóg mense begin vra vir so ’n kombers.

Toe gebeur Lettie se Lappieskomberse. Binne ’n paar uur was daar al ’n stuk of veertig name op die waglys. Wat nou? Ek is g’n sakeman nie.

Die volgende oggend is daar ’n boodskap van Suzan Du Plessis-Venter, ’n ou vriendin van my, in my Facebook se inboks: Sy wil graag by die ding betrokke raak. Halleluja!

Suzan, ’n getroude ma van drie kinders en ’n vryskut-engel, begin ’n waglys opstel en byhou. Sy open ’n bankrekening vir Lettie en skep ook ’n Facebook-blad: Lettie se Lappieskomberse. Mense begin aanbied om lappies te skenk.

Intussen groei die waglys tot oor die honderd komberse. Tobie Slabber ontwerp en maak vir Lettie ’n mooi etiket wat op elke kombers kom.

(Gaan kyk gerus op Facebook. Die pryse en groottes van die komberse word ook daar aangedui.)

Dan tref dit my: Ons het net vir Lettie. Met ’n naald en gare behoort sy vroeg in 2016 eers klaar te wees met die tweehonderdste kombers.

“Kom tog net, Lettie,” brom ek, en ons klim in die bakkie en ry Vredenburg, die naaste groot dorp, toe – en die hele pad vloek ek in my gedagtes: Fok, fok, fok. Hoekom moet Lettie-hulle se probleme myne wees?

Op Vredenburg koop ek vir Lettie ’n tweedehandse Frick-naaimasjien, maar dit gaan stadig, terwyl die waglys tot oor die twee-honderd komberse groei.

“Ek dink my broertjie van Mafikeng moet ons kom help,” sê Lettie.

Die broertjie, Moses, maak glo sy eie klere, maar hy hou skynbaar geen bedreiging vir Mafeking se klerewinkels in nie, want ook hý het niks geld nie, sê Lettie. Ek koop vir Moses ’n buskaartjie en ek en Johannes gaan wag hom op die Kaapse stasie in.

’n Tenger jong man van 24 klim van die bus, met ’n ou Empisal-naaimasjien onder die arm: Die Moses wat ons uit hierdie woestyn van sukkel moet kom help uitlei.

Dadelik gaan wys ons hom die see, wat hy nog nooit gesien het nie. “Beautiful,” sê hy. “Beautiful.” By die huis skuif hy agter die Empisal in.

Moses Makondwani, wil ek voorspel, gaan eendag nog ’n bekende klere-ontwerper word. Hy maak vir homself en Lettie-hulle klere, sonder ’n patroon. Op ’n goeie dag stik hy vier lappieskomberse aanmekaar, foutloos, perfek. (Een Saterdag het hy selfs sulke fênsie inhampies in my grasperk se rand gesny.)

Dit is nou ses maande ná daardie dag in Mei en Lettie-hulle is sterk op pad na hulle honderdste kombers. Gereeld pos Suzan ’n besending komberse. Daar is al van Lettie
en Moses se komberse in Australië, in Kanada, in Doebai.

Elke maand is daar ’n mooi bedrag geld in Lettie-hulle se rekening, meer geld as wat hulle ooit op Ventersdorp sou verdien.

Al wat die projek eintlik op die oomblik effens terughou, is ek. Iewers in September het ’n groot verdriet my getref: Ek het besef die suksesvolste verhouding wat ek nog ooit gehad het, was dié een met my drie honde. Ek is middeljarig, vrouloos, kinderloos en moedeloos.

In die laaste ruk betrap ek myself al hoe meer dat ek by Lettie-hulle sit in my motorhuis, wat hulle as ’n klein fabriek ingerig het. Daar is iets troostends in die ge-gor van ’n ou Empisal wat ’n lappieskombers maak.

Al hoe meer vreemdelinge daag hier op met lappies, met beskuit en koekies, blomme vir Lettie, en liefde en goeie raad.

Ek het ook, met die hulp van Meryl Botes hier op Jacobsbaai, ’n klein winkelspasie op die dorp gehuur waar ons in Desember komberse gaan verkoop.

Eintlik gaan hierdie ding oor meer as net komberse, besef ek al hoe meer.

Onlangs moes ek ’n amptelike vorm invul. Toe ek kom by die gedeelte wat vra: “Naasbestaandes”, toe steek ’n koue windjie in my siel op. Oorle’ Pa en oorle’ Ma is dood, en ek het nie juis familie nie.

Opeens het dit na die normaalste ding in die wêreld gevoel om daar te skryf: “Johannes en Lettie Bogosi”. 




Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
8 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-20°C Sunny. Mild. Pta: 7-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-17°C Sunny. Mild. Bfn: 0-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-24°C Partly cloudy. Mild. PE: 14-18°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Afrikaans Individual needed ASAP

Johannesburg
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 500 - R28 000 Per Month

Investment Specialists - Johannesburg - Financial Services

Johannesburg
Michael Page International SA (Pty) Ltd

Internal Sales Consultant

Midrand
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R10 000 - R35 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!