Lyftaal: Breinkos vir jou kind

2012-08-08 15:29

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die televisie is aan. Gedurig. Selfone biep-biep. Gedurig. Daar’s die geluide van TV-speletjies en die internet gons in jou kind se oorgestimuleerde ore.

Gedurig.

G’n wonder jy’s bekommerd oor jou kind se brein nie, daardie onvermoë om te konsentreer – soveel te meer met die matrieks se rekordeksamen net om die draai.

Aandagafleibaarheid is nie net ’n lui skoolkind se manier om van sy skoolwerk weg te kom nie. In baie gevalle word dit veroorsaak deur chemiese prosesse in die brein. Soms is die omvermoë om te konsentreer die gevolg van doodgewone leefstyl-faktore soos ’n ongesonde dieet of te min fisieke aktiwiteit, maar ander kere is dit die neurologiese toestand waarvan jy al gehoor het: aandaggebreksindroom (AGS, in Engels bekend as ADD) of aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS of ADHD in Engels).

Voordat jy na aanvullings of voorskrifmedikasie gryp, sê kenners, is daar heelwat wat jy as ouer self kan doen om kinders wat sukkel met konsentrasie se breine op te skerp. Soos om eenvoudig hulle dieet aan te pas. (Ongelukkig sal dieet min impak hê op jou kind se gedrag in die geval van AGS/AGHS, hoewel dit wel voordelig kan wees vir jou kind se algemene gesondheid.)

Volgens Heather Picton van die Aandag¬gebrekkigheid en Hiperaktiwiteit Onder¬steuningsgroep van Suid-Afrika (ADHASA) het baie kinders ’n tekort aan belangrike minerale, soos magnesium en sink, en vitamienes – veral B-vitamienes – wat help met konsentrasie.

Navorsing wys dat ’n hoë-proteïen-, lae-koolhidraat-dieet kinders (én grootmense) help om beter te fokus. Proteïene soos in neute, vleis, vis en eiers sal jou kind help om langer te konsentreer en ook langer inligting te behou. Vul die proteïene aan met komplekse koolhidrate soos vrugte en groente. Blaargroente soos spinasie en kool het hoë vitamien K- en foliensuur-vlakke wat die geheue aanhelp, terwyl groentes soos broccoli, blomkool, Brusselse spruite en bloubessies help met konsentrasie.

Kosse wat ryk is aan omega 3-vetsure, soos vis, neute, avokadopeer en olyfolie is ook baie belangrik vir jou kind se brein.

Net soos wat daar kosse is wat jou kind se breinfunksie aanhelp, is daar ander kosse wat die teenoorgestelde doen en jou kind se vermoë om te konsentreer teenwerk.

Kosse met baie verfynde suiker en groot hoeveelhede koolhidrate kan jou kind rusteloos maak aangesien dit bloedsuikervlakke laat wipplank ry.

Geprosesserde kosse, wat vinnig deur die liggaam verteer word, sal veroorsaak dat jou kind gou weer honger raak – en wie kan nou konsentreer as jy honger is?

“Nog ’n groot sondaar is koskleursel en ander byvoegsels,” sê Heather. In ’n studie in 2007 onder Britse kinders is gevind dat sekere koskleursel, asook bensoësuur-sout (’n algemene byvoegsel in kos), simptome van AGHS kan veroorsaak.

“Ek het al keer op keer dramatise verbetering in kinders se gedrag gesien wanneer sekere kleursels en kunsmatige geurmiddels uitgeskakel word,” sê Heather.

Net woelig?

“AGS en AGHS is baie meer as net woeligheid,” sê dr. Adri van der Walt, ’n pediatriese neuroloog van Kaapstad.

“Dit beïnvloed ’n kind se skool-, gesins- en sosiale lewe.”

Kenners klassifiseer dit as ’n neurologiese versteuring met simptome soos hiperaktiwiteit, impulsiwiteit, onoplettendheid, vergeetagtigheid en organisasie-probleme.

Daar word bereken dat tot 5% van die bevolking daardeur geraak word. Ongeveer 40% van kinders met AGS/AGHS ontgroei dit teen die ouderdom van 13 of 14, ’n ander groep se simptome verbeter, maar vir nog ander is dit lewenslank ’n probleem. Die simptome kan egter behandel word.

Volgens Adri word die toestand nie sommer net gediagnoseer nie.

“Om ’n betroubare diagnose te maak moet jy ’n ontleding doen van verskeie aspekte van die pasiënt se hele lewe,” sê sy.

“Volg hy die regte dieet? Kry hy die regte leiding en dissipline by die huis? Hoe is sy emosio¬nele toestand? Dit het alles ’n impak.”

Maar met kinders wat deesdae kies¬keurige eters is en die moderne leefstyl wat maak dat ma’s dikwels wegneemetes vir aandete voorsit, is dit nie altyd moontlik dat kinders genoeg van al die minerale en vitamiene inkry wat hulle breine nodig het om optimaal te funksioneer nie. Vir dié kinders is aanvullings die antwoord.

“Elke kind se behoeftes is uniek, maar die grondslag vir ’n goeie aanvulling is noodsaaklike vetsure – soos in visolie, wat die omega 3-vetsure EPA en DHA bevat, gekombineer met ’n goeie multivitamien- en minerale-aanvulling,” sê Heather. “En ma’s moet ook seker maak die multivitamien bevat nie enige kleursel of geursel nie.”

Aanvullings en medikasie

Natuurlike produkte Verskeie natuurlike produkte soos ginko biloba, ginseng, kamille, kattekruid en nog meer word al eeue lank gebruik om mense te kalmeer of die brein te help fokus. Ginko biloba is veral bekend daarvoor dat dit breinfunksie bevorder en werk deurdat dit bloedvloei verhoog. Maar volgens Adri is dit nie doeltreffend vir kinders nie.

Oor-die-toonbank-produkte

Loop maar enige apteek binne en daar is rakke vol produkte wat daarop aanspraak maak dat dit konsentrasie verhoog, breinfunksie verbeter, en wat nog. Daar is ook heelwat produkte wat juis vir gebruik deur kinders bemark word – en nogal teen ’n skaflike prys. ’n Vlugtige soektog kon egter nie een produk oplewer vir onder R100 vir ’n maand se voorraad nie.

Die meeste van dié produkte bevat ’n string vitamienes en minerale, maar volgens Adri is omega 3 en 6 die enigste produkte wat wetenskaplike steun het dat dit konsentrasie noemenswaardig verbeter (40%).

Dit sal egter nie help as jou kind dit net in eksamentyd gebruik nie – dit moet vir minstens ses maande gebruik word om regtig te werk.

Voorskrifmedikasie Slegs wanneer ’n kind met AGS of AGHS gediagnoseer is, sal medikasie soos Ritalin voorgeskryf word.

Die aktiewe bestanddeel in Ritalin is metielfenidaat, wat help om die werking van die neuro-oordragstof dopamien in die brein doeltreffender te maak. By 80% van kinders help dit om konsentrasie te verbeter, impulsiewe gedrag te beheer en hiperaktiwiteit te demp. Ongelukkig is die uitwerking baie onaangenaam vir 10% van pasiënte en vir ander is dit ondoeltreffend, volgens Adri.

’n Ander produk, Conserta, bevat ook metielfenidaat soos Ritalin, maar stel dit oor ’n langer tydperk vry.

Produkte soos Strattera, wat chemies heeltemal anders werk, word ook gebruik vir die behandeling van AGS/AGHS.

Ontbyt vir die eksamen

“Kos wat vinnig in die bloedstroom vrygestel word, kan angs, verlies van konsentrasie, irritasie en rusteloosheid veroorsaak,” sê Gabi Steenkamp, ’n dieetkundige van Benoni, wat al talle gesondheidsresepteboeke uitgegee het.

“Daarom is dit slim om ’n kind wat eksamen skryf ’n gebalanseerde ontbyt te gee wat stadig deur die liggaam opgeneem word (lae GI), en moontlik ook ’n klein, lae-GI-versnappering gedurende die eksamen as dit toegelaat word.”

Gabi reken ’n ontbyt-smoothie is net die regte ding vir eksamen-senuwees. “Dis baie gerieflik en gebalanseerd,” sê sy. Meng vars vrugte (omtrent soveel soos twee tennisballe) saam met vars jogurt in ’n voedselverwerker. As jou kind nie vol fiemies is nie voeg so ’n paar sade en neute by.

(Vir nog sulke kosidees, sien South African Glycemic Index and Load Guide deur Gabi Steenkamp en Liesbet Delport.)

Gesonde eetgewoontes
• Kinders moet gereeld eet gedurende die dag, anders word hulle honger en hulle bloedsuikervlakke daal.
• Moenie dat jou kind ontbyt oorslaan nie – ’n volhoubare ontbyt, laag in suiker, bv. eiers of hawermout, gee die meeste breinkrag.
• Sit gesonde kosse en peuselhappies in die kosblik. Laat jou kind ongesonde eetgoed van die skoolsnoepie vermy.  


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Numerous showers. More sun than clouds. Cool. Pta: 13-32°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 14-26°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 7-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 17-35°C Showers late. Afternoon clouds. Hot. PE: 14-21°C Partly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!