Meer blaf as byt

2012-09-04 15:23

Hondegier: Professionele “hondelopers” wat besige mense se honde vir ’n stappie neem, is iets wat ’n mens nie net meer in flieks sien nie.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Waar ek hier sit en tik, slaap Solo opgekrul op my skoot, kop in die waai van my arm. As klein hondjie het dié Jack Russell my gekies en nou’s hy my skaduwee. 

As Westerling is ek stomgeslaan dat jy in China honde in restaurante kan eet. Hoe peusel jy aan jou pêl?

Time beweer honde bestudeer ons. Hulle ken ons liggaamstaal so goed dat hulle ons gedrag akkuraat kan voorspel. Honde slaap by ons, bewaak ons, vermaak ons. Ons beste maats vergewe alles, kritiseer niks.

G’n wonder die band tussen mens en hond word in flieks (All Dogs Go to Heaven, Hachiko) en die letterkunde (Jock of the Bushveld) besing nie.

Dalk vergeet ons dat honde afstammelinge van wolwe is, dat dit mense was wat honde begin teel het om jaghonde, waghonde en metgeselle te wees.

Honde, nes plaasdiere, is die mens se genetiese speelding – afwykings en al.

National Geographic berig dat 350 van die 400 honde-telings net enkele eeue oud is.

Die makmaakproses het tussen 20 000 en 15 000 jaar gelede begin toe grys wolwe om mensevestings kom aas het.

Tiaan Bekker, ’n stoetboer wat met Santa Gertrudis-beeste naby Vrede in KwaZulu-Natal boer, het ses jaar gelede met 27 rottweilers begin teel, onlangs ook met Franse dashonde.

“Genetika fassineer my,” erken hy. “Ek wil die ras verbeter met ’n breë genetiese basis. Rottweilers het ’n reputasie as aggressief en hulle is nogal intimiderend. Maar hulle is ook ongelooflik lojaal, beskermend en goeie familiehonde.”

Kruisteling word dikwels ingespan om sekere kenmerke te versterk en ander uit te faseer. Jagters kruisteel honde byvoorbeeld om ’n spoorsnyer sowel as ’n bakleier te wees.

Eienaars het ook mak geraak, so verknog aan ons brakke dat troetel oorhel na bederf. Hiervan getuig “pooch parlours”, honde-hotelle en honde-gimnasiums. Miljardêrs laat hulle diere skatryk erf.

 “Ons hanteer 40 honde per weeksdag, 32 op Saterdae,” bereken Lorna Scheepers van Lorna’s Pet Salon in Alberton. “Dis meestal kleiner honde; Yorkies, Maltesers, poedels.”  

Lorna bedryf haar skoonheidsalon vir diere al sowat 12 jaar. Die diere word by kliënte se huise gehaal en afgelaai. Sewe personeellede pamperlang volstoom – hulle moet uitborsel, knip, was, droogblaas en mooimaak.

Die honde word deurentyd gedruk, gestreel en getroetel. “Ons gebruik die T-Touch-tegniek om hulle kalm te hou, ons streel en kielie hulle ore en wange en neus. Op dié plekke is honde die sensitiefste.”

(Lorna se onderneming was selfs die fokus van ’n episode van The Business Coach, wat verlede week uitgesaai is.)

Deesdae eet honde nie net “die krummels onder ons tafel” nie (Mat. 15:27). Niks is blykbaar te weelderig vir ons viervoetiges nie.

Webwerwe soos mypetshop.co.za en lepawtique.co.za bied speelgoed (balle, toubene, miniatuur-motorbande), lekkergoed, aanvullings, hondebakke, halsbande met LED-liggies, hondebeddens en selfs Louis Vuitton-drasakke. Jy kan jou brak uittof in sjiek truie, T-hemde, jassies en haarstrikke.

Michelle Roniak van Le Pawtique in Craighall Park, Johannesburg, vertel in Korea, die Ooste en Amerika is daar kompetisies waarvoor honde se pels skeppend verkleur word om hulle soos tiers, panda-bere en ander  wilde diere te laat lyk. Honde se naels word in helder kleure soos pienk, groen en blou geverf en uitwasbare “doggy tattoos” (harte, pootafdrukke) raak daar al gewilder, maar plaaslik is dit nie so algemeen nie.

“Sommige mense behandel hulle honde nes hulle kinders en trek hulle aan in steweltjies en broekies. Veiligheidsharnasse vir honde in motors is ’n nuttige nuwe gier. Nie-toksiese speelgoed raak nou eers die norm.”

Die duurste honde-bykomstigheid wat Michelle al verkoop het, was ’n drasak ter waarde van R1 500.   

Honde-aanneming skyn ook ’n groeiende gier te wees. “Meer honde as enige ander diersoort word by die 94 takke van die DBV aangeneem,” sê Chris Kuch, woorvoerder van die DBV. “Statisties omdat die meeste diere wat ingebring word en vir aanneming beskikbaar is, honde is. Dit sluit volbloed-diere in.”

Ja, honde verg hope aandag. Maar geen ander dier gee sy baas soveel onverdeelde, intensiewe aandag terug nie.

“Honde wil help met alles,” bevestig Dale Fox, honde-kommunikeerder van Kaapstad. “Hulle is empaties, diplomaties, regte vredemakers. Elke hond kies ’n gesinslid wat sy ‘werk’ is.”

Skrywer Josh Billings beskryf ’n hond as die enigste wese op aarde wat jou meer as homself liefhet. Roger Caras som op: “Honde is nie ons hele lewe nie, tog maak hulle ons lewens heel.” 

Gewildste honde in SA


Die gewildste honderasse in Suid-Afrika, volgens dogbreedersgallery.co.za, is die Yorkshire-terriër, labrador, bulhond, golden retriever, bulterriër, miniatuur-schnauzer, dwergkeeshond, Staffordshire-terriër, rottweiler en chihuahua. Die beste honde vir mans, aldus die tydskrif Men’s Health, is labrador-retriever-honde, Brittany-honde (of “spaniëls” genoem), Parson Russell-terriërs (lyk soos ’n Jack Russell), Stafford-shire-terriërs, bulhonde en windhonde.

Neem ’n hond aan


Wil jy meer weet, ’n hond aanneem of betrokke raak as vrywilliger? Besoek  barkingmad.co.za.

Hoe kies jy ’n hond vir jou gesin?


Kieron Piper, ’n gekwalifiseerde dieregedrag-praktisyn van die ThinkingPets-praktyk vir diere-opleiding, gee raad.

Watter hondsoorte is die beste vir gesinne?

Die meeste honde is familiehonde mits hulle reg grootgemaak word en solank jy hulle ras-spesifieke gedrag in ag neem. Buiten labradors, golden retrievers, schnauzers, Jack Russels en rifrûe, beveel ek ook die goeie ou DBV-hond aan – neem eerder ’n hondjie aan as om geld uit te haal vir ’n spesiale ras.

En as jy babas of peuters in die huis het?

Die meeste rasse sal goed aard, solank hulle van kleins af aan kinders blootgestel is. Dis uiters belangrik om jou babahondjie aan kinders gewoond te maak, selfs al het jy nog nie kinders van jou eie nie, want dit sal hulle help aanpas as daar wel eendag kinders in die huis is. My gunsteling-ras is die Irish setter – hulle is bekend vir hulle saggeaarde karakter as volwasse honde. Vir peuters sal ek ’n groter hond aanbeveel wat dit sal kan verdra as hy rondgestoot word.

Die beste hondsoort vir mense met klein erwe?

Groter waghonde is gewoonlik beter vir kleiner huise of vir woonstelle, want hulle het minder oefening nodig en is nogals lui. Oorweeg rasse soos die mastiffs, Deense hond (Great Danes), Newfoundlands, of ook kleiner rasse soos Yorkies en chihuahuas.

Wat is deesdae die aanvaarde metode om jou hond op te lei/te dissiplineer?

Tegnieke met wurgkettings, straf en dominansie kan regtig die eienaar-hond-verhouding skaad. Navorsing toon positiewe versterking en belonings bied op die lange duur die beste soort opleiding en skep gebalanseerde honde.

Jou hond moet “die regte ding” doen omdat hy dit geniet, nie omdat hy bang is vir die gevolge wanneer hy iets verkeerd doen nie. Goeie gedrag moet raakgesien en beloon word.

Mense behoort honde nóóit te slaan nie – fisieke straf sal net lei tot onderdrukking en aggressie. Honde se gedrag word eerder bepaal deur versterking – as die hond iets doen en die aksie word gevolg deur iets wat hy sien as ’n beloning, sal hy dit weer doen.
– Besoek www.thinkingpets.com vir kursusnavrae.

Hondemense!

Quanita Adams, aktrise
“As ek moet terugkom as ’n hond, dan sal dit wees as een van Oprah se honde. Hulle het die beste skakelbeampte in die wêreld, hulle hare is waar-skynlik beter versorg as myne, hulle slaap op 100% Egiptiese katoen… ”

Sandra Prinsloo, aktrise
“Honde gee net soveel vreugde. Ons kan baie leer by hulle. Ek het drie labradors en dit is verstommend om te sien hoe gewillig hulle is om die lewe te geniet. Vir hulle gaan alles oor die liefde – liefde vir die lewe, vir my, vir ander honde. As ons net ’n kwart van die positiwiteit gehad het wat honde het, sou die wêreld heeltemal anders gelyk het.“

Maurice Carpede, TV-aanbieder
“Ek is beslis ’n hondemens – hulle is die vriendelikste goed wat ’n mens ooit kan kry. Hulle is altyd gelukkig en selfs wanneer hulle stout is, kyk hulle jou aan met daai ogies en kan ‘n mens nie help
om sag te raak nie.”

Evita Bezuidenhout, politieke figuur
“Ek is lief vir honde, maar dis ’n aangeleerde liefde. As kind was ek bang vir die honde op Betlehem, en later vir die kwaai polisiehonde by die Parlement in P.W. Botha se tyd. Maar nou het ek die oulikste worshondjie en ek sweer sy dink sy is ’n kat. Haar naam is dus Kittie.”
Anton Goosen, liedjieboer
“Dis seker ’n cliché, maar honde is regtig die mens se beste vriend. Hulle beskerm jou en hulle kom as jy hulle roep (anders as katte en skilpaaie).”

Tobie Cronjé, akteur
“As ek sou terugkom as ’n hond, sou ek ’n borzoi of Russiese wolfhond wou wees. Hulle is pragtige honde – lank en maer, en hulle het lang, aristokratiese neuse. Hulle lyk gemaak om net op meubels rond te lê en rus!”

Nuwe hondsoorte

Goldador
Nuwe kruistelings sluit in ’n beagapoo (beagle en poedel), chi-poo (chihuahua, poedel), cockapoo (sniphond, poedel), yorkipoo (Yorkshire-terriër, poedel),
goldador (golden retriever, labrador)
en chug (chihuahua, mopshond).
– puppydogweb.com
yorkipoo
chug
cockapoo

Verblyf vir jou brak


’n Neiging wat gekom het om te bly is nuwe soorte verblyf vir jou hond wanneer jy weggaan. Buiten die tradisionele hondehok-opsie – waar honde in aparte hokke bly – is daar die oop sosiale verblyf, waar Snuffels (saam met ander honde) by die bewaarder in die huis bly en versorg word, asook kamp-verblyf, waar die honde in klein, omheinde tuintjies met ’n hondehuis daarop bly.
Louise Veary, ’n gekwalifiseerde honde-instrukteur van Tokai, Kaapstad, bestuur onder meer ’n dagsorg en bied oop sosiale verblyf (Paws and Pillows) vir honde.
Dagsorg vir klein hondjies word toenemend gewild, sê sy, om ’n paar redes: Dit leer honde om met honde van verskillende spesies en ouderdomme oor die weg te kom; die blaf-wette word al hoe strenger en ’n eensame hond blaf; hondediefstal neem toe; en honde is nie heeldag alleen tuis nie, waar hulle gefrustreerd kan raak en destruktief wees. As jy vakansieverblyf vir jou honde soek, moet jy die volgende oorweeg vóór jy bespreek:
• Kies op grond van jou hond se eienskappe. As die hond nie gewoond is aan ander mense of diere nie, is die tradisionele hondehok-opsie beter. Honde wat nie gesteriliseer is nie, sal nie goed werk in die oop verblyf-opsie nie. • Hoeveel toesig is daar? • Is die bewaarder gekwalifiseerd? • Kos – word die honde individueel of saam kosgegee? Individueel is gewoonlik beter. • Het hulle ’n beleid teenoor bio-sekuriteit, menende inentings? • Dissipline – as jy nie glo in straf nie, moenie jou hond na ’n plek neem wat dit toepas nie.

Honde-intuïsie & kwantumspronge
Dale Fox, ’n Mindscape-terapeut van Kaapstad wat sowel honde as kliënte en gesinne deur hulle troeteldiere behandel, glo dis moontlik om met honde gedagte-gesprekke te voer. “Al wat ek nodig het, is die dier se naam en fisieke adres, dan kan ek met hulle gesels. As daar stres om hulle is, wys hulle dit in hulle gedrag. Mense is verbaas wanneer ek hulle bel met akkurate terugvoering.”
Dale help ook om verlore troeteldiere op te spoor en eienaars om berusting te vind ná ’n dier se afsterwe.
Hoe?
“Gedagtes is energie. Dis verwant aan kwantumfisika.”
www.dnaexpress.co.za


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 9-19°C Mostly sunny. Mild.
Jhb: 6-15°C Sunny. Cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-22°C Sunny. Mild. PE: 10-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!